Paasfees se vis

Fynproe

Paasfees se vis

Bevredig jou vislus met vinkel of vispastei, al kom die skuite by Waenhuiskrans nie meer kaai toe nie, skryf NETTIE PIKEUR.


OP soek na 'n blikkie kerrievis kry ek net die regop blikke vis in tamatiesous. Nee, meneer, waar is die plat blik heel stukke vis in 'n kerriesous?
Mevrou bedoel piekelvis? Ons maak dit net vir Paasfees, hier is ’n bakkie. Amper R40 vir 30 g.
Treurig betaal ek dit, stap huis toe en dink aan Ria Grandfield op Waenhuiskrans wat groot flesse kerrievis inmaak terwyl sy nors mompel: Vis, vis, altyd vis, ons kry nooit eens 'n vleisie nie . . .
Dit was jare gelede, toe die liewe Marie en Duff Conradie van Oudtshoorn oor die Paastyd afgereis het om Marie se vislus te bevredig. Toe het die vistermanne nog tweeuur die nag uitgegaan en die bote het so agtuur teruggekeer. Dis vis is afgelaai, reguit op die lorries na die fabrieke, maar Marie het die een visterman goed geken en hy het altyd 'n kabeljou of stompneus vir haar uitgehou.
Skoongemaak, maar kop en al, want ons gunsteling was die kop wat later in die ou Aga gebak is.
Teen elfuur was die visvonds in die kombuis, skoon en opgesny en ons eet smaaklik die varsste gebakte vis met aartappels en slaai. Ria verwerk die res as pekelvis wat sy in skoon ou Consol-flesse pak, kerriesous bo-oor tot heel bo, met die grys deksel styf toegedraai.
So het ons deur die Paasnaweek vis geëet. Behalwe as die dogter kom kuier en 'n perlemoen of drie gaan uitduik. Reg voor die hotel. In die kombuis maak Ria die perlemoen skoon, gee hulle 'n paar kappe om die vleis sag te kry en druk alles deur die vleismeul met 'n stukkie brood. Weer eens Paasnaweek-kos: gemaalde perlemoen met bietjie suurlemoen en fyn witpeper op rys, genoeg vir ons almal.
In my oorle’ ma se dae in 'n Kaapstadse woonstel het haar huiswerker 'n besonderse slag met vispastei gehad. Sy het visfilette met stukkies preie gebraai, in 'n groot bak gesit, ’n witsous oorgegooi en die lotjie met sout en paprika gegeur. Met drie eiergele en geklopte eierwitte bo-oor is dit oond toe om daar te borrel tot goudbruin.
Soms is repies spinasie, broccoli of fyn stukkies murgpampoentjie bygevoeg. Die bak is tafel toe gebring met basmati-rys terwyl Ma by voorbaat kla dat alles nie warm genoeg is nie. Sy kon haar vreeslik vererg oor koue borde en koelerige kos.
Ma, jy gaan jou mond brand, het ons keer op keer gemaan. En jy kan nie vis warm hou nie. Dan gaan die bak terug kombuis toe om op te warm in die oond. Nes haar oudste dogter, het Ma 'n afkeer gehad in mikrogolfoonde.
Nou wag ons. Is die ys op, vra Ma, my wyn is warm. Sy het wyn gedrink met baie ys, die glas tot heelbo vol. Sugtend loop haal ek nog ys, skink die wyn en check op die vispastei.
Net reg. Wyn, ys, pastei, rys, 'n groenslaaitjie sonder komkommer, want ons pa was allergies daarvoor en hy sou later 'n happie wou hê.
Vinkel is 'n heerlike kruid by vis. In 'n ou resepteboek kry ek 'n resep waarin jy vinkel ruim gebruik. Dit was vroeër 'n skaars kruid, maar nou kry jy dit oral en dis nogal maklik om te kweek.
Sny 'n heel vinkelbol in dik skywe, skil en sny 'n ui in dun skyfies en verwyder skille van 500 g tamaties. Kap ’n halfdosyn murgpampoentjies in skyfies. Verhit ’n halfkoppie olyfolie en voeg die groente by. Geur met 'n repie suurlemoenskil en 'n lourierblaar.
Kook 45 minute, plaas stukke heel vis in 'n oondpan en giet die groente oor. Bedek met tinfoelie en bak verder vir 30 minute.
Kippers, of gerookte haring, kan jy nou in pakkies koop. Volgens die oorlede Britse kosskrywer en diplomaat Alan Davidson was daar vir hom niks so heerlik as 'n kipper met sy tradisionele tee van brood en botter en daarna beskuitjies en koek nie. By sy ouma en oupa in Skotland toe hy 'n laaitie was.
Nou eet ons gerookte salm op rogbrood, die kinders eet visvingers met tamatiesous en die skuite op Waenhuiskrans kom nie meer kaai toe nie.
Maar ons onthou die verhaal van die man wat die brood en vis vermeerder het tot 'n skare kon kos kry. Sy naam vereenselwig ons met vis tot vandag toe, tweeduisend jaar later.
Hooffoto: 123RF/OLENA DANILEIKO

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.