Dis weird, maar jy kan dit eet

UIT-DIE-BOKS

Dis weird, maar jy kan dit eet

’n Voortvarende plaaslike ontwerpateljee met kos op die brein laat die wêreld regop sit met verbeeldingsvlugte oor kos vir die toekoms. ANNELIZE VISSER gesels met Studio H se Hannerie Visser, van wie sy terloops glad nie familie is nie.


ONLANGS het die invloedryke ontwerptydskrif Icon in Italië sy Icon Design 100-lys opgestel met die name van 100 rolspelers in die “globale ideesfabriek” wat na verwagting in 2019 opslae gaan maak.
Tussen name soos dié van die antropoloog Jane Goodall, die 16-jarige klimaatstryder Gretha Thunberg wat wêreldleiers van Davos tot Brussels oor die vingers tik, die voormalige presidentsvrou Michelle Obama en die komediant Ellen DeGeneres, is daar ook ’n multidissiplinêre ontwerpateljee met kos op die brein.
Studio H werk vanuit ’n beskeie kantoortjie op die derde verdieping van ‘n gebou in Breëstraat, Kaapstad. Hul insluiting in dié formidabele lys is hoofsaaklik te danke aan S/Zout. Dit is ’n projek wat hulle tydens die groot watertekort in die Wes-Kaap bedink het en wat voorverlede jaar by die jaarlikse Dutch Design Week in Eindhoven, Nederland, op die program was.
Hannerie Visser – die H in Studio H wat die maatskappy ongeveer vyf jaar gelede gestig het – wou kyk of ’n mens plantgewasse in seewater kan kweek (jy kan). Die ondersoek het ’n vennoot opgelewer in die vorm van Zilt Proefbedrijf Texel, ’n navorsingsplaas in Noord-Holland, wat met soutwater in landbou eksperimenteer. Saam het hulle die S/Zout Pantry ontwikkel – ’n spens vir die toekoms, met produkte soos Carrot Loops (ja, soos die kinders se ontbytkos), koek wat van kool gemaak is, gepiekelde groen aarbeie en seewier-tjips.
Terwyl die res van die Kaap emmers begin ronddra het met die oog op Dag Zero, het die Studio H-span die S/Zout-projek verder gevoer. Dit het ingesluit waterlose etes bestaande uit onder meer volstruiseiers en kameelmelk, wynglase gemaak van herwinde plastiekbottels, en ’n nagereg-installasie van gloei-in-die-donker jellie.
Maar dis nog nie naastenby die vreemdste of wildste koservaring wat Studio H al opgedis het nie.
Jy kon byvoorbeeld in ’n eksperiment genaamd S.Eat ervaar hoe mense iewers in die toekoms hulle probeer voorstel hoe dit was om regte kos te eet. Vir ete was daar ’n enkele kapsule en net genoeg water om dit mee af te sluk, terwyl jy kon luister na ’n klankopname van iemand wat spaghetti slurp en die geur van basiliepesto in die lug ruik.
Nog ’n projek wat vir Dutch Design Week ontwerp is, was The Smellerie, ’n reeks “anti-parfuums” gemaak van die fermentasiewater van tradisionele geregte van regoor die wêreld. Jy kon hieraan ruik terwyl jy luister na kosbeledigings van mense wat hul neus optrek vir ander kulture se trotse nasionale disse.Nie vreemd genoeg vir jou nie? Hoe lyk dit met Salad 2.0 – kleurvolle jellielekkers gemaak van gehawende groente en vrugte wat andersins in die vullisblik sou beland en wat met ’n 3D-drukker gedruk is? Net die ding vir kinders wat nie hul groente wil eet nie.Dis nie om snaaks te wees dat Studio H jou op sulke verbeeldingsvlugte neem nie. Dit klink dalk na fantasie – Dr Seuss ontmoet Alice in Wonderland – maar dis gewortel in die harde werklikhede van droogte, ’n dreigende koskrisis, immigrantehaat en kosvermorsing. En elke ervaring is tegelykertyd ’n eksperiment – die wetenskaplike proses waardeur kennis getoets word.
HANNERIE is allesbehalwe die “mad scientist” wat jy verwag om te ontmoet. Sy’t op ’n plaas grootgeword, in Stellenbosch en Kaapstad studeer, en die dag ná haar laaste eksamen ingeval by die tydskrifuitgewer Penta Publications, later New Media Publishing, waar sy advertensies vir die tydskrif DeKat verkoop het. Ná meer as 12 jaar waarin sy tot die rol van uitgewer van tydskrifte soos Insig, VISI en Woolworths Taste gevorder het, was Hannerie lus om haar in ’n nuwe veld te bewys.
Sy het die ontwerpagentskap The President saam met ’n vennoot gestig en vinnig bekendgeraak vir uit-die-boks idees soos die Toffiefees, wat in 2011 die waardige Kaapstadse Stadsaal vir drie dae in ’n speelplek vir pop-kultuur omskep het.
Ná vier jaar en ’n paar harde lesse het sy Studio H gestig, ’n kulinêr georiënteerde ateljee vir ervaringontwerp
Waar kom jy aan die idees, wil ek weet.
Sy lees, reis en luister na podcasts, sê Hannerie.
Ons lees en reis almal, maar ons maak nie almal Carrot Loops en anti-parfuums en gloei-in-die donker jellie nie. Wat gaan in jou kop aan?
Die uit-die-boks ding het te doen met die feit dat sy ’n volslae introvert is, sê Hannerie: “Ek moet my lewe lank op bells and whistles staatmaak om my deur ’n ding te kry.” Op skool wou sy doodgaan as sy ’n mondeling moes doen, maar ’n paar rolskaatse en ’n kostuum kon die knoop deurhaak. Om van ’n doodgewone ding ’n heerlike spektakel te maak, is ’n soort coping mechanism, verduidelik sy.
Daarby is sy uiters ongemaklik in sosiale situasies, en het sy gevolglik die kuns bestudeer hoe om mense op hul gemak te laat voel. Dikwels is die geheim om hulle met iets bekends te verwelkom, dalk iets wat hulle na hul kinderdae terugvoer. Toekomsgerig mag hulle wel wees, maar Studio H skrik nie vir nostalgie nie, soos die resepte vir vakansiekoekies en juweliersware gemaak van drop, malvalekkers en macaroni op hul webwerf getuig.
En soos introverte die wêreld oor weet, is dit soms die ontsnapping na ’n ander werklikheid wat jou kortstondig soos ’n sosiale vlinder kan laat voel.
Dis verstommend dat iemand wat haarself as sosiaal lomp beskryf, gereeld wilde perde opsaal soos Februarie vanjaar se FOOD XX-simposium met die fokus op vroue in die kos- en drankbedryf, en die jaarlikse straatkosfees Street Food SA (SFF) wat vyf jaar gelede in Kaapstad afgeskop het en vinnig na Johannesburg uitgebrei het.
Maar iedereen en sy tante hou deesdae ’n fees en vanjaar se SFF gaan ’n heel nuwe gedaante hê as ’n eksperimentele “museum” waar jy week na week Suid-Afrikaanse straatkos in doelgeboude uitstalvertrekke sal kan leer ken.
Die waarskynlike plek vir hierdie eksperiment is die V&A Waterfront, waar Studio H die afgelope twee Desembers die Silo-distrik op horings gehad het met ’n drieverdieping hoë Kersboom van amper 2000 herwinde Moët & Chandon-sjampanjebottels en meer as 15 000 LED-liggies.
Sout of sjampanje, die kreatiewe hoepels van Studio H ken geen reëls nie. Terwyl Hannerie en haar vrouespan in Breëstraat die uitdaging takel hoe ’n mens vir slaptjips en braaibroodjies ’n museum bou, het Wene se MAK-museum vir moderne kuns die S/Zout Pantry vir sy permanente versameling aangeskaf. Dié uitsonderlike spens toer vanaf volgende maand deur Kanada as deel van ’n uitstalling onder kuratorskap van die Nederlandse kosontwerper Marije Vogelzang.
Wat eet julle, wil ek ten slotte weet. Kom middagete uit die 3D-drukker, of van die duur kafee oorkant die straat?
Meestal bring hulle kos van die huis af, maar heel belangrikste is dat hulle almal saam om die tafel eet. Dis na alles die tafelvreugde van 'n gedeelde maaltyd wat ons in die toekoms die heel meeste gaan mis.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.