Ratatat met gouestroop

FYNPROE

Ratatat met gouestroop

Matrose kan nie net van beskuit en 'n daaglikse bekertjie rum lewe nie. Dis juis daarom dat die Kaap Hollands geword het, skryf NETTIE PIKEUR. Eet dus jou groente.



IN die jare op Montagu het ons in die ou restaurant ratatouille gemaak. Daai heerlike Provençaalse groentegereg van murgpampoentjies, eiervrug, uie en soetrissies. Ook knoffel en olyfolie.
'n Duur gereg, maar net 'n skeppie by ewe duur snytjies lamsboud het die bord met sy braai-aartappels sommer smullekker laat lyk. Die kombuiskokke kon nie ratatouille uitspreek nie, toe noem hulle dit sommer ratatat. Hulle sou dit ook nooit as te nimmer eet nie, want dit mos net groente.
Tot my verbasing beaam ons huiswerker hier dit: net vleis en aartappels, mevrou, ons eet nie ander groente nie. “Ek koop soms wortels om te kook, maar die kinders eet dit op voor ek in die kombuis kom.”
Ek verduidelik nog hoe goed die rou wortels is vir hul gesondheid, maar sy het my loshande verloor. Die ding is, ek stem heimlik saam oor wortels. Dis 'n kwessie van smaak. 'n Wortel in 'n groot pot ertjiesop, o ja, dit verleen ekstra geur, maar dié oranje groente proe soos haaskos.
Dit bring ons by twee soorte mense. Hulle wat sooibrand kry, en dié wat nie. Sommige raak nie met kaal hande aan rou vleis nie; en ander eet toebroodjies met Marmite en gouestroop om hul bloed op te bou.
As jy kook in swartpotte gee die pot genoeg yster af om jou liggaam se ystertekort aan te vul. Menige ly aan allergieë vir Parmesaan-kaas, witbrood, alle speserye en veral knoffel.
Ai! Kan daar ooit genoeg knoffel wees? As ek 'n dag of drie alleen gaan wees, maak ek weer Laurie Colwin se knoffelgereg. Dié Amerikaanse skrywer, tragies vroeg dood, was 'n kosheldin soos min. Haar weergawe van die knoffel met aartappels het ek aangepas: Jy begin deur 20 knoffelhuisies in melk te kook en eenkant 'n klomp smêsh-aartappels te maak.
Dan skep jy die knoffels uit, druk hulle uit die skille en gooi in 'n bakkie gesmelte botter. In 'n groot bak maak jy 'n holte en gooi jou sagte aartappels, die knoffelhuisies en botter daarin. Eet met smaak op.
Nes wortels, bring die geur van knoffel die beste in groente na vore.
Nog by die Amerikaners dink ons aan hul heerlike mieliebrood. Dis nie soos ons s’n nie en hulle maak dit gou, sommer vir brekfis, om warm te bedien met koffie. My Amerikaanse kookboek vra om “yellow cornmeal”. Is dit geel mieliemeel?
Vra 'n ou kosvriend: Jammer, hy is deel van die banting-brigade en eet nie meer brood nie. Die supermark verkoop geel mieliemeel in 5kg-sakke en wat maak ek met 'n hoop meel wat gaan miet kry?
Bel JP by die Kanna Kombuis-restaurant hier op Ladismith. Nee, man, daai mieliemeel is polenta, seg hy. Koop dit in pakkies van een kilogram en dan maak jy mieliebrood.
Dit het gewerk! Polenta, bietjie ekstra witmeel, sout en suiker na smaak, bakpoeier, eiers, lekker baie botter en melk. Bak 'n halfuur in 'n broodpan tot goudbruin, en daar is jou Amerikaans/Afrikaanse mieliebrood.
Ons eer beskuit in al sy vorme as deel van ons kultuur, van die Vootrekkers met hul meelsakkies vol voorraad vir die langpad onder die Engelse uit, tot die gastehuis-voorraad met poeierkoffie en -melk vir ontbyt.
Beskuit is ook 'n erfenis van Elizabeth se skeepsvoorraad. (Dis nou destyds se Elizabeth, nie Antie Lillibet wat amper 100 is en al heers sedert sy 25 was nie.) Beskuit was destyds klein broodjies wat hergebak is om die matrose op lang seereise te voed. In 1595 het sir Francis Drake geskryf dat sewe of agt stukke beskuit per man genoeg was. 'n Mens vertrou dit was per dag.
En dat hulle dit kon doop in die daaglikse bekertjie rum waarop elke matroos geregtig was.
So het die matrose ook gesorg dat die nuwe beskawing aan die Kaap gestig sou word. Want hulle het skeurbuik gekry, beskuit of te not. En hier, op die lang reis van Holland na lande soos Maleisië, het die Hollandse skeepsvaders die Kompanjiestuin laat aanplant met groente om hul matrose van die gevreesde siekte te red.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X