Sjef Jan kom huis toe

STERREWAG

Sjef Jan kom huis toe

Jan Hendrik van der Westhuizen is die beroemde Suid-Afrikaanse sjef wat ʼn Michelin-ster vir sy restaurant JAN in Frankryk verwerf het. En nou kom daar ʼn KLEIN JAN na die Kalahari. ANNELIZE VISSER het met hom gesels oor sy nuwe kos-avontuur.



Hallo, Jan!
So die aap is uit die mou en almal weet nou dat jou nuwe restaurant, KLEIN JAN, in 2020 by die Oppenheimers se Tswalu Kalahari-reservaat open. Nou hoef Suid-Afrikaners wat jou kos wil proe nie na die suide van Frankryk te vlieg nie. Maar om in dié luukse reservaat te oornag, kos amper soveel soos twee vliegkaartjies. Wat het jou laat besluit op so ʼn luukse (en eksklusiewe) vennootskap?
JAN Op my eerste besoek drie jaar gelede aan Tswalu het die siel van die plek dadelik met my connect. Ek het soveel moontlikhede gesien, en beste van alles, dit was soos ʼn blank canvas. Jonathan en Nicky Oppenheimer het daarna by JAN in Nice kom eet, en dis waar ons idees regtig dieselfde taal begin praat het.
In die ses jaar sedert ek JAN geopen het, was daar baie geleenthede vir my om iets in Suid-Afrika oop te maak, maar wat hierdie dadelik laat werk het, was die soort mense wat hulle is.
Alhoewel JAN in Frankryk en KLEIN JAN by Tswalu eksklusief is, gaan die Innovation Studio in Kaapstad by geleentheid oop wees vir gaste. Dit gaan dit makliker en toegankliker maak om te proe en te  sien wat ons doen.
KLEIN JAN is ʼn lekker naam – maar wat beteken dit presies?  Wat is klein aan KLEIN JAN?
JAN Ek is altyd Klein Jan genoem omdat ons soveel Janne in die familie  het, daarom is daar vir my ʼn sterk emosionele konneksie.
Daar is ook ʼn baie lekker rede hoekom dit KLEIN JAN is wat ons eers bekend sal maak sodra ons reg is … Maar as jy dink aan die oorvloed produkte wat ons in Frankryk het, is die Kalahari die teenoorgestelde.
In KLEIN JAN gaan alles met ernstige oorweging gedoen word. Niks is in oorvloed nie, behalwe die spasie en die ruimtes.
Daar is niks kleins aan die manier waarop jy dink nie. Die derde uitgawe van jou tydskrif, JAN the JOURNAL, verskyn binnekort. Wat kan lesers van hierdie uitgawe verwag?
JAN Ha-ha … Dit lyk miskien of ek heeltyd groot dink, maar ek het ook baie klein moments. JAN the JOURNAL volume 3 is oor twee maande op die rakke. 
Dis verreweg die mooiste ding waaraan ek al ooit gewerk het. Vereenvoudig op baie maniere, maar bo en behalwe al die mooi foto’s en resepte, is die direction van die JOURNAL dit wat in my lewe aangaan. Plekke wat ek besoek het, produkte waaroor ek nuuskierig is, en idees wat ek en my span met die lesers deel.
JAN the JOURNAL is nie al waaraan daar by die JAN Innovation Studio in Kloofstraat gewerk word nie. Lei jy studente op om by JAN in Nice of by die nuwe KLEIN JAN te gaan werk? Wat kan hulle daar leer?
JAN JAN Innovation Studio is nie ʼn opleidingskool nie, maar eerder ʼn plek waar ons innoveer. Ons maak gebruik van plaaslike kookskole en sjefs wat nie bang is om foute te maak nie, en wat wil leer deur te dóén.
Dit gaan ʼn kombuis wees waar ons ten alle tye vrae vra, toets en innoveer. Die studio sal ook oop wees vir die publiek op gegewe aande.
Jy sê jy nog het altyd geweet jy sal eendag terugkeer na die bos, die kampvuur en die blou lug bokant Suid-Afrika. Maar beteken dit regtig Jan kom huis toe? 
JAN Nee, my hooffokus is en sal nog altyd JAN in Frankryk bly, maar ek is ook nie iemand wat net my naam op iets gooi en dan wegstaan nie. Ek is heeltemal te obsessief en perfeksionisties daarvoor.
Ek sal die grootste deel van my tyd in Frankryk deurbring en ongeveer elke ses weke die Kaap en die Kalahari besoek.
Jy het in Nelspruit grootgeword, en Tswalu is ʼn goeie elf uur se ry daarvandaan. Wat is jou verbintenis met die Kalahari, en watter herinneringe het jy aan dié deel van die land?
JAN Die bos maak so ’n groot deel uit van hoe ek grootgeword het. Ek dink dit bly in jou bloed, en die herinneringe daaraan om net op ’n plek te sit sonder enige mense om jou is ongelooflik!
Dis opwindend om te lees dat streekskos ʼn rol gaan speel in die nuwe restaurant. Watter kos en bestanddele is eie aan dié streek, en hoe gaan jy jou stempel daarop afdruk?
JAN Meer as wat ons dink! Ons nader op die oomblik mense uit die streek om meer oor hulle kulinêre konsepte te leer. Dis regtig vir my ʼn nuwe en opwindende gebied om te ontdek en waarna ek met nuwe oë kyk.
Jy gaan seker vir die volgende jaar druk besig wees met planne vir KLEIN JAN. Is jy betrokke by alle aspekte van die nuwe restaurant – die dekor, beligting, die breekware en eetgerei?
JAN Ek is betrokke by alle aspekte. Dis maar hoe ek dinge doen – ek sal alles, van die eerste verwelkoming tot die einde van die ervaring, deeglik en noukeurig curate.
Die woord Tswalu beteken “nuwe begin”. Hoe wil jy met jou kosfilosofie tot hierdie nuwe begin bydra?
JAN In alles wat ons doen, wil ons so min as moontlik voetspore los. Met alles wat ons doen, wil ons ’n verskil maak, of dit nou ten opsigte van die omgewing, mense of projekte is, wat die Kalahari help herstel na sy oorspronklike self. Dis  beslis my eie, my span en die familie se visie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.