Wynmymeringe: ‘Ek sweer by Bacchus, als is waar’

WYN, WYNER, WYNSTE

Wynmymeringe: ‘Ek sweer by Bacchus, als is waar’

Tjeers, tjorts, prost, gesundheit, salud, tchin-tchin, Na Zdorovie, Skål. Hoe ook al, ons wynvlieg, COUNT LIEBERSTEIN, lug sy tong-in-die-kies-mening oor wat in die wynwêreld aangaan. Mag hy val waar hy wil.


DIS die eerste wynrubriek in Vrye Weekblad Mark II hierdie. Ek is seker hier gaan geen vergoeding wees nie en die mense gaan sober, selibaat en vervelig wees (ouderdomsbeperking in reverse).
So hoekom mors ek my tyd?
Ek is nie een vir “when we” nie, maar Bacchus weet Suid-Afrika is nou ’n beter wêreld. Ons het demokrasie, proper porn, visas , Guptas, Watsons, 15% BTW en ʼn regte wynbedryf. Spesiaal vir die geleentheid maak ek gepas ʼn Platter 1988 oop. Koos Kombuis het toe nog dagga gerook.
“Bietjie stowwerig op die neus, miskien met ʼn bietjie klaskamer en vismot, die kleur verbasend goed ná al die jare, lyf is dun … baie dun … Kate Moss-dun, Premier Grand Cru, Selected Stein en Late Harvest ten spyt.”
Ek onthou ewe skielik hangovers, selfs individuele hangovers wat liewers vergete moet bly …
Die onskuld te midde van die stormagtige vintage verstom. Twintig restaurante, uit die hele fokken wynland, word aanbeveel. Mike’s Kitchen word hoogs aanbeveel; Luigi’s Café and Bakery en Portofino maak dit wragtig????
Ek (en baie ander) kan getuig my lewer lê verhard en vergroot in De Akker in Stellenbosch, en ek weet vir ʼn feit jy het nie gekom vir die kos nie, ma’ hy’s da. Daar is blykbaar net twee restaurante in Franschhoek. Die wêreldklas-gehalte-ervaring wat jy in al die ander restaurante sou kon geniet het wat dit nie gemaak het nie, laat my sidder. Avokado Ritz, cordon bleu-hoender , ʼn bottel Chateau Libertas en die Kaap was Hollands.
Self in ʼn pre-Jooste-era is die kaart van die Stellenbosch-wynroete heel voor; die Paarl-wynroete kry die gatkant. Daar is nie ander wynroetes nie.
Sorrie, Steve ...
Die orakel kom tot sy reg met die opsomming van kultivars. Ek besef dat ʼn mens, as jy kan, liewers jou mening vir jouself moet hou … die geskiedenis gaan die laaste sê hê. Ek wonder wat hulle oor 25 jaar van ons gaan sê. Miskien sal dit wees: “Thank heavens, we do not have to fake enthusiasm for that over-oxidised Chenin, passed as funky, in order to appear intelligent. The poor folks of 2019 … my father still wears a beard to hide his true feelings.”Of: “Good bye, elegant, well-balanced, flimsy wines. Bring in full-bodied wines that display the true character of the grape, achieved by picking at full ripeness.” Ek skryf in Engels, want dit speel af oor 25 jaar. Sorrie, Steve … Hartenbos is Engels en Orania het sy tweede swart vrou vir ʼn burgemeester.
Ek haal aan, die keer weer in Engels, want dit was 25 jaar gelede.
Steen: “…Its forte now seems to be in producing sweeter wines … eclipsed in recent years by Sauvignon Blancs …”
Tinta Barocca: “… with no great distinction …”
Grenache: “… producing no great wines in South Africa …”
Carignan: “… good base for a red vin ordinaire …”
Cinsaut: “… by itself it makes a light ordinary red … few wines make it above that level ...”
En dan my gunsteling:
Chardonnay: “... will unquestionably produce the best dry wines of the Cape in future …”
Ek smaak my funky geel wyn
Ek maak baie goed op en glo nie aldag myself nie, maar ek sweer by Bacchus, als is waar. Dit staan daar. So ... voor ons begin by waar ons is en waarheen ons gaan … laat ons net weet waar ons was. Nie alles was sleg nie. Ek mis Fernão Pires saam met vyf krewe en vyf perlemoene, uitgeduik in die middel van die week. Sulke goed, maar ek hou van Tinta Barocca, Steen is nou Chenin en dan weer Steen, en ek hou daarvan. Ek smaak my funky geel wyn. Sediment is my vriend.
Viva 2019, van al wat goed was in 1988, was Vrye Weekblad Mark I, uitgawe I een.
Naskrif: Tassenberg en Chateau Libertas het elk *** gekry.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.