DIE eerste prentjie wat by my opkom van 'n steggie, is van 'n vaalrooi, dikkerige stammetjie, afgeknip aan albei kante – hy het iewers 'n ma én 'n kind verloor – sonder blaar of aanduiding van wat dit mog wees, in 'n leë ansjovispotjie. Dis die eerste prentjie, hoewel nie naastenby die enigste steggie wat al ooit die langpad saam met my gevat het nie. Hy travel steeds saam, en staan hier buite.
Snaaks genoeg is almal wat ek eerste gekontak het oor steggies, tannies. Tannie Lynette. Tannie Friedel. Tannie Coreen. Tannie Minette. Hulle is cool genoeg om nie tannies genoem te word nie, maar ek benodig hul wyshede en kwinkslae, en op my foon – basies die enigste ding in die hele dorp wat werk, wel, so op ’n manier – is hulle gesave as tannies.
Tannie Maggie het ook gereageer, maar, en bless haar, sy’s 82 en jaag heeldag skape aan met 'n trekker wat sy op twee wiele en met 14 honde agterop bestuur in die De Rust-woesteny – sy het net laat weet: “As iemand wil, dan kán hulle. En jy kán!!” Nie eens 'n soen of niks nie, maar nou ja, ek weet wat sy bedoel. Ek bemerk dieselfde ouer word by my ma, en was sý nou vir jou op haar dag die kranigste steggiesensasie in Kimberley en Pretoria! Kranig, sê ek jou ... in die dae van krane, mét water in.
Daar is 'n bietjie tannie in elke steggie. Nes daar seker ook 'n bietjie steggie in elke tannie is ... Jy kan daarop bargain soos jy nie kan bargain met die feit dat daar ook 'n bietjie kaptein in die ou hier langsaan met die rum sticker op sy rubber duck se trailer is nie.
Sommige baggage moet mens hou.
Voor 'n onlangse vlug van die Kaap af noorde toe, pak ek my sak. Steggiesortering het al begin oorspoel na taspak toe. Vuil klere hier op 'n hoop, neushaarskêrtjie tog net nie in die handbagasie nie – netnou vat hulle dit weer – hierdie skoene is actually moerse ongemaklik; raak ontslae daarvan. So sif jy, maar heel onder in die sak, heel éérste, sodat hulle nie (verder) breek op die vliegtuig se bodem nie, kom twee steggies. Die kort, dik, rooie sonder blare en 'n ander een wat 'n caretaker van iemand anders se cottage in Franschhoek vir my gegee het. Ek kan nie sy naam onthou nie, ken ook nie die vetplant nie, weet net hy’t ongoddelike mooi, lang, groen, eweredig gespasieerde blare, raak ruig en is hoendertandskaars. Bo-op al my langmou-wessies en longjohns. Want dis koud in Jo'burg.
Almal ken darem die basics van steggies.
As mense weet hoe om MultiChoice te boikot, kan hulle sekerlik 'n malvastokkie oorplant?
Steggies moet jy, altyd, liefs, liefderik mee te werk gaan met musiek in die agtergrond. Gister het ek hoeka Madonna se “Bedtime Stories" revisit. Dit plant lekker met veral jou gewone woestynrosie, wat, soos almal weet, basies nooit vergaan nie.
Let wel, jy kan nie net 'n tak van 'n boomaalwyn of kokerboom afbreek en in die grond druk nie. Daarvoor het jy ten minste 'n paar wortels aan die stam en harde Massive Attack, of miskien William Orbit, nodig (hoewel laasgenoemde se neulerige neuries in mineur dalk meer neig na krismisroos-cuttings maak, oor dit dikwels so depressing is). En hormoonpoeier, maar daarmee het ek nog net gemengde suksesse gehad – vir plante binne én buite die slaapkamer. Wees gewaarsku: Hy kan brand, veral op jou sagter, meer vleserige stingels.
Die meeste ander bands werk goed vir steg-pleeg. Party backyard-botaniste, soos ek, hou mos vol klassieke musiek laat jou plante vinniger groei...
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.