Dis e-bloed wat vloei, maar dis regte sweet wat tap en regte...

MAAR MY KOOT, KAN JY DIT WERKLIK SPORT NOEM?

Dis e-bloed wat vloei, maar dis regte sweet wat tap en regte trane wat rol

Dwelms, opkikkers, rassisme en matelose geweld . . . ja, e-sport het alles wat “regte” sport het, skryf LOUIS DE VILLIERS.

  • 03 Mei 2019
  • Vrye Tyd
  • 9 min om te lees
  • artikel 13 van 30
  • Louis de Villiers



TOE ek drankies vir sy ouers en sjokolademelk vir die pikkie gaan skink, het hy met voorbedagte verveeldheid deur die dosyne films gekyk waarmee ek gehoop het om hom stil en my honde ongetraumatiseerd te hou.
Hy’t suur gevra of ek YouTube het. ’n Diep, verligte sug en 'n drankie later het ek gaan kyk of hy nog tevrede is, en die kêrel was verdiep in 'n video van 'n ander man wat 'n speletjie speel en daaroor kommentaar lewer. By my volgende navraag was hy besig om te kyk hoe ander mans kommentaar lewer oor hoe ander mans videospeletjies speel en daaroor kommentaar lewer.
Dit was só meta dat ek skielik besef het hoe my pa moes gevoel het toe ek in die middel-1970’s met 'n Black Sabbath-kasset by die pastorie aankom. Vir my geslag was die klank van elektriese kitare altyd in ons lewe, en heavy metal in ons tienerjare, by nabetragting, heeltemal onvermydelik.
Vir my tienjarige gas was rekenaars lewenslank vanselfsprekend. En die opkoms van e-sport derhalwe ook.
Net twee sportsoorte
Anderhalwe dekade gelede laat weet 'n vriendin geskok uit Suid-Korea dat sy haar groterige Engelsklas uitgevra het oor die verskillende sportsoorte wat hulle beoefen.
Die ganse klas het net twee genoem: Xbox sommiges, PS2 die ander.
“Sport?!?” het ek saamgeproes. Maar die jare beweeg aan, en in Desember vanjaar is daar in Manila ses goue medaljes by die Suidoos-Asiese Spele in rekenaarspeletjies op die spel, waarvan ek in ene boonop op my dag nogals beter as skaflik was.
E-sport was reeds verlede jaar 'n demonstrasiesport by die Asiese Spele in Djakarta en is volgende jaar weer op dié halfamptelike spyskaart by Tokio se Olimpiese Spele.
Dalk betrag ek die verlede verkeerd: Ek moes miskien méér klas gebank het en méér sakgeld spandeer het op pinball en Asteroids, dan was ek dalk nou ’n ryk man.
Suid-Korea se oomblik breek aan
My vriendin was onwetend in die middel van 'n sportrevolusie.
Net mooi toe Suid-Korea breëband-internet begin kry, tref die Asiatiese finansiële krisis van 1997. Werklose Koreane het die tyd begin verwyl met aanlyn speletjies in internetkafees. Drie jaar later het die regering 'n amptelike staatsdepartement begin om dit te reguleer.
Toe die Olimpiese Winterspele verlede jaar in Pjongjang gehou is, was vyf plaaslike esportmanne onder die fakkeldraers. Toegegee, buiten vir Tottenham Hotspur se Son Heung-min en 'n dinastie tradisionele boogskutters, het Suid-Korea grotendeels sportgewys internasionaal onderpresteer en die geledere van potensiële fakkeldraers was maar yl gesaai.
Dié land is steeds die hart van die bedryf. Twee gespesialiseerde Suid-Koreaanse TV-kanale saai net esport uit, en Amerikaanse en Europese spanne gaan warm daar op voor die seisoen begin. Maar my koot, kan jy dit werklik sport noem??
Inspanning
Sport word meestal gedefinieer as 'n aktiwiteit wat fisieke inspanning en vernuf verg en waarin mense vir vermaak teen mekaar meeding.
“Fisieke inspanning” is natuurlik 'n bitter grys gebied. Met kegelbal en veerpyltjies hoef jy immers beswaarlik jou dop neer te sit om te speel. Met snoeker het jy weliswaar twee hande nodig, maar om dit “inspanning” te noem, is dik vir 'n daalder. In almal se gunsteling-winter-nerdsport, ysbal, is die vurige besemveërs sweerlik die enigstes wat 'n ligte sweetjie sweet.
Hierdie sporte vereis nou wel dat jy minstens moet staan, maar jou motoriese aktiwiteit is beperk tot die barre minimum. Met e-sport kan jy selfs bly lê as jy lus is, maar as al ses jou binneste drie vingers nie knaend gesamentlik en afsonderlik kan beweeg nie, gaan jy bars om te verhoed dat jou avatar in 'n vernederende wolkie in Die Wolk verdwyn.
Karpale tonnelsindroom is in e-sport so gewoon as skouerbeserings in rugby.
En om dit te verhoed, het Ateyo, 'n nuwe Amerikaanse sportkleremaatskappy, begin sweaters maak met 'n gat vir jou duim en opstopsel vir jou pols en jou palm. Ateyo vaar goed genoeg daarmee dat daar verlede week 'n artikel in die tydskrif Forbes verskyn het oor “the Nike for gamers”.
As jy eers modes begin veroorsaak, is jy sweerlik groot nuus, al weet die meeste mense nie wie jy is nie.
E-bloed word verspil
'n Man sal maklik kan redeneer dat die grootste Wêreldbekertoernooi vanjaar dié van Fortnite Battle Royale is. Fortnite is maar twee jaar oud en ouers het uit die staanspoor gekla dat dit hul kinders se aandag van huiswerk afrokkel, om nie eens te praat van geweld aanhits nie.
In dié speletjie valskermspring jy en jou teenstanders – virtueel, uiteraard – uit 'n vliegtuig op 'n eiland. Daar’s gewere en goed wat rondlê. Die wenner is die laaste oorlewende.
Hierdie soort virtuele doodslag het die Internasionale Olimpiese Komitee effens teen die bors gestuit. Die amptelike mening is dat die IOK nie dodelike geweld wil aanmoedig nie. Gewelddadige sportsoorte, redeneer dié eerwaarde liggaam, is juis hoe ons die barbaarse bloedvergieting van destyds wil lamlê.
Fortnite, waar jy jou teenstander se avatar so dood as moontlik skiet met soveel geweld moontlik deur 'n klomp knoppies vinnig te druk, maak dit dus nie. Boks, waar jy iemand se regte gesig regtig so hard as moontlik wetter om hom so vinnig moontlik op sy blaker te laat sit, is egter genoeg van 'n abstraksie uit klassieke oorloë om die jawoord te kry.
Fortnite het nietemin 'n paar ooreenkomste met boks. Skelmstreke is 'n goeie plek om te begin. In Fortnite se Wêreldbekerreeks is reeds sowat 1,200 spelers uitgeskop omdat hulle verneuk het. Jy kan sien waarom.
Prysgeld in die uitdunrondes beloop weekliks $1 miljoen, met 'n hoesenswaardige $30 miljoen op die spel tydens die eindtoernooi laat Julie in New York. En nie wáár nie – by die Arthur Ashe-tennisbaan in Forest Hills, waar die Amerikaanse Ope jaarliks beslis word en wat amper 25,000 toeskouers kan huisves.
250 miljoen spelers
Fortnite het nou 250 miljoen spelers wêreldwyd.
Sokker, die gewildste ding wat ons oumense 'n sport sal noem sonder om te kug of te stotter, het 'n geraamde 260 miljoen spelers. Die ander gewildste deelnemersporte op aarde is pluimbal, hokkie, vlugbal en basketbal.
Gholf, nommer tien, trek 60 miljoen spelers. Dit steek maar sleg af teen die nou effens oudmodiese League Of Legends, wat ver oor die 100 miljoen geregistreerde spelers het.
League Of Legends (LoL) is een van die speletjies wat gerugte van sportstatus harder laat opklink het. Waar jy Fortnite in die eerste persoon speel – die skerm wys met ander woorde wat voor jou oë is – speel jy dié een van buite.
Daar is al 'n paar jaar wêreldwye LoL-beroepspanne en ligas in Noord-Amerika, Europa, China, Suid-Korea en die res van Suidoos-Asië. Spanne soos Team Solomid, Team Echo Fox en Cloud9 begin yslike status te verwerf in Noord-Amerika.
Die VSA het in 2013 geskiedenis gemaak deur die Kanadees Danny “Shiphtur" Le, 'n legende in League Of Legends, verblyfreg toe te staan weens sy status as beroepsportman.
Terloops – League Of Legends het 'n Suid-Afrikaanse konneksie ook. Die LPL, die Chinese liga hierin, word naamlik beheer deur die internet-maatskappy Tencent, oftewel die stert wat die Media 24-aandelehond waai. Dis 'n yslike pyl in Tencent se koker.
So volgende keer as jy 'n hupse slaai by Koos en Karen Bekker se Babylonstoren verorber, dink aan die Chinese laaitie met karpale tonnelsindroom in 'n donker Gwangzhou-internethool wat 'n kwart van 'n crouton daartoe bygedra het.
Parallel met ‘regte’ weergawe
Regte, egte sport begin ook aan te tree om in dié oes te deel. Fifa se amptelike sokkerspeletjie is bitter gewild, hoewel die Amerikaanse sporte aanvanklik vinniger uit die blokke was betreffende verkope en ontwerp. West Ham United was die eerste Engelse Premierliga-klub om 'n amptelike verteenwoordiger daarvoor te kontrakteer, met die skatryk kampioen Manchester City net daarna.
Dié spelers neem aan toernooie deel vir die klub en dien as ambassadeurs; een van die verantwoordelikhede van City s’n is om aanlyn uitdagings van ondersteuners te trotseer.
Die NBA, Amerika se groot basketballiga, het nou die dag met groot gewalt 'n parallelle kompetisie vir rekenaar-nerds aangekondig en al die klubs het 'n deeglik besoldigde deelnemer ingeskryf wat al dieselfde ligaverpligtinge sal nakom.
Vanjaar sal daar ook byvoorbeeld in Junie neffens die Le Mans-uithouren oor 24 uur 'n virtuele weergawe langs die baan plaasvind, waar kwalifiseerders dieselfde wedren op rekenaars sal laat uitwoed. (En ja, ek het self gewonder oor ouens wat hiervoor kwalifiseer en wat hulle doen met die res van hul lewe.)
Aan die ander kant van die munt het rugby nie die vaagste benul nie. Dié sport se eerste PlayStation-speletjies was so power dat ek binne 'n paar uur genoeg glipse in die programmering kon agterkom om die Vyfnasies-toernooi (dit was eers  ’n jaar later ses nasies) van 1999 met Skotland as my span te kon wen.
Rugby se 2018-weergawe kry 'n enkele ster uit vyf op Games-radar. Die resensent sê sommige  van die spelers is darem dié keer herkenbaar, maar 90% van die tyd is jy besig met 'n losskrum. Ek moet sê – dit klink nogals baie soos regte rugby deesdae lyk.
Propperse sport
By die Suidoos-Asiatiese Spele in Desember is daar twee kompetisies vir PCs (Death Of The Ancients 2 en Starcraft II), twee vir selfone (Arena Of Valour en Mobile Legends) en twee vir speelkonsolemasjientjies soos PS4 (Tekken VII en ene wat nog bepaal moet word).
Miljoene mense kyk aanlyn en gaan kyk selfs die virtuele skouspel in lewende lywe. Die Poolse stad Katowice het verlede jaar binne twee naweke 169,000 toeskouers gelok na ESL One en IEM Katowice se jaarlikse toernooie.
E-sport het natuurlik skandale ook, om dit sommer proppers as sport te help vestig.
Die gewilde Cloud9-span het erken dat hulle behoorlik gebars het van die Adderall tydens hul sege in 'n Counterstrike: Global-kompetisie in die einste Katowice in 2015, waarna opkikkertoetse vir die eerste maal standaard in e-sport geword het. 
Team Echo Fox se eienaar, die gewese NBA-superster Rick Fox, het anderdag padgegee oor die growwe rassisme van een van sy aandeelhouers. Oor seksisme hoef ons nie eens te praat nie – jy raak immers selde 'n wêreldveroweraar in rekenaarspeletjies as vroue oor jou swymel.
Vernuf, inspanning, honderde miljoene aanhangers en knaende skandale oor sowel dwelms as ras – klink vir my opsluit na 'n regte sport.
My ouers het destyds geweet te vertel heavy metal is bloot tydelik, maar 45 jaar later is Ozzy Osbourne 'n lewende legende (weliswaar rakelings) en ek reken dié genre het nog genoeg dekades in hom oor om uiteindelik met die meeste klassieke skole te sal kan saamgesels oor lewensverwagting.
Al wat eintlik oorbly om oor te stry, is waarom rekenaarspeletjies soseer graag as sport geklassifiseer sou wou wees. Daardie wêreld lyk dan net knaend al goorder en Fortnite Battle Royale klink boonop al hoe lekkerder as Superrugby?
Dit gaan in elk geval uiteindelik my tienjarige gas van nou die dag en sy trawante wees wat die besluit gaan neem nie en nie ekke nie. En ek is taamlik seker hoe hulle gaan besluit.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.