Van (Salvador) Dalí tot Dali (Tambo)

BEELDBEDRYF BLOM IN POSTKOLONIALE SA

Van (Salvador) Dalí tot Dali (Tambo)

Bronsbeelde in variasies van potsierlikheid en absurditeit ontsier die land, met onder andere die FAK en Dali Tambo as bydraers – en natuurlik woeker die tenderpreneurs met die (onbedoeld komieklike) projekte om ‘ons erfenis uit te beeld’ ... MELVYN MINNAAR rol sy oë.


DIE ikonoklasme van #RhodesMustFall duur voort, en tog stu ’n nuwe bronstydperk deur ons post-koloniale land.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die eerste van drie nuwe “monumente om Afrikanergeskiedenis te bevorder” in Februarie in die vorm van ’n bronsborsbeeld van sy stigter N.J. van der Merwe bekend gestel.
In Julie verlede jaar het die Kaapstadse stadsraad en die provinsie Wes-Kaap ’n nuwe beeld van Madiba op die ou stadsaal se balkon onthul – die jongste maar nie laaste brons nie van ons beroemdste leier wat nou die wêreld van Londen tot Sandton, van New York tot Simondium, in variasies van potsierlikheid bevolk.
In alle gevalle dra hierdie driedimensionele voorstellings van mense swaar aan “betekenis”, simboliek, en wat ’n mens ook al in heldeverering of toerismetrekpleister wil lees.
Die FAK-beeld, swaarwigtig getiteld “Toekomsargitek”, bestaan uit ’n bronskopbeeld op ’n (sand)steenpilaar, en ’n paar voëltjies onder die man se ken. Die kunstenaar is Jacques Müller.
Kaapstad se beeld-op-die-balkon, opgetof in historiese herinnering, lyk kompleet soos ’n winkelmannekyn wat iemand daar vergeet het – arm in die lug, waaiend na ’n onoplettende skare op die Parade (waar daar dekades reeds ’n regte, egte koloniale standbeeld pryk).
Diegene van ons wat bevoorreg was om daardie dag in 1990 onder die balkon te staan met die historiese gebeurtenis van Nelson Mandela se vrylating vroeër, kyk met ’n wrang gevoel na die oppervlakkige onsin wat bokant ons so lewensloos, sielloos, uitgebeeld is. Dié duur goedkoop visualisering is nie naastenby die huldiging wat hy teen byna R3 miljoen verdien nie.
Kunstenaars van koddigheidDie kunstenaars van hierdie koddigheid van 1.9 meter hoog en 120 kg brons swaar (in bont kleure verdoesel) is ene Barry Jackson en Xhanti Mpakama, en die gietwerk was deur Sculpting Casting Services in die Strand.Agter hierdie duur projek – en vele ander - sit Dali Tambo – ja, daardie flambojante entloot van die beroemde politieke gesin.
Tambo en sy maatskappy Koketso Growth - “ ’n unieke grootskaalse erfenis- en toerisme-projekspesialis, tans leier op die gebied van Suid-Afrika se mees prominente nasionale erfenis-ontwikkelings” (volgens die webwerf) – is die hoofoperateur agter vandag se standbeeld-blomtyd in ons land.
Ja-nee, die beelde blom oral op die bultjies en in buurte – ten spyte daarvan dat die “grootman”-bronsbeeld die apoteose van kolonialisme verteenwoordig. (Waarom dit juis van brons moet wees, is ook ’n kapitalistiese vraag.)
Die lomp dansende Madiba-karikatuur op ’n Sandton-winkelplein deur Kobus Hattingh en Jacob Maponyane – om politiek-korrekte redes vir die ontwikkelaar-kapitaliste geskep – het die begin van ’n nuwe era van die plaaslike beeldbedryf ingelui.
En met die spoke van vooraf benadeelde helde wat in politici se nekke blaas, was kunstige tenderpreneurs vinnig op die toneel om die nuwe bronstydperk uit te buit.
So kry Kaapstad sy bombastiese Mandela voor die parlement. In Pretoria word Hertzog se beskeie beeld voor die Uniegebou verskuif om vir ’n Hollywood-Madiba van 9 meter deur André Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren plek te maak. Al twee beelde in die styl van daadwerklike fascistiese bombarie.
In al hierdie projekte was/is daar selde sprake van kundige kunsmense wie se raad en oordeel opgeroep word. Intussen doen Tambo se woekerende maatskappy agter die meeste beeldprojekte uitstekende besigheid. Kunstenaars van wie niemand nog gehoor het nie, slaan hand aan klei en brons.
Elders in die wêreld is daar tans driftige debat oor hierdie soort heldeverening, die aard en betekenis van monumente en die dinamiek van openbare kunswerke in vandag se sosiale en politieke gemeenskap.
So is daar nou by die Philadelphia Museum of Art in die VSA ’n tentoonstelling Rethinking the Modern Monument.
Auguste Rodin
Met die museum se versameling beelde van waarskynlik die grootste beeldmaker ooit, Auguste Rodin, as grondslag, ondersoek die kurators eietydse kwessies soos die ware funksie van die openbare monument, hoe dit moet lyk, wie oor die onderwerp besluit en watter vorm dit moet aanneem.
Al hierdie vrae lyk betekenisloos, of is geïgnoreer, as ons kyk na die spul nuwe (ersatz koloniale) beelde wat sedert die nuwe demokrasie opgerig is. (Terwyl ander weggepak of verskuif is.) Die oppervlakkigheid van hierdie eietydse bedryf openbaar telkens ’n sielloosheid, in talle ’n komieklikheid.
Bronsspoke
Laasgenoemde is byvoorbeeld die karakters reg uit ’n swak geïllustreerde kinderboek wat voor die pragtige De Kat in die Kasteel die Goeie Hoop staan gemaak is. (Ja, hulle kom ook reg uit Tambo se stal – familie van sy 500 bronsspoke in die lawwe Long March to Freedom in Groenkloof, Tshwane.)
Op kunsgrasblokkies in die Kasteel staan speel-speel-afbeeldings van die konings Langalibalele, Sekhukhune en Cetswayo en die leier (Nommoa) wat destyds daar in selle aangehou is. Uiteraard is dit leiers wat erkenning verdien, maar as dié lelike beelde as humor bedoel was, sou die skepper ’n eerstejaar-kunsklas gedruip het. Tans besoedel dit net die mooi ruimtes rondom. (Dit het ook R3.65miljoen gekos.)
Die probleem van dié en ander menslike voorstellings – hetsy in brons, bruisplastiek of marmer – is dié van alle portretkuns: Dis bitter moeilik om ’n lewende mens se ewebeeld in permanente vorm vas te vang. Dis ’n probleem waarmee beeldhouers al sedert die vroegste tye sukkel en slegs die mees talentvolles kry dit reg.
Juis Rodin – een van daardie talentvolles - het gewaarsku hoe moeilik dit is en dat monumente eerder emosie en abstrakte idees uitbeeld: “Die konvensie van ’n standbeeld van ʼn vername persoon in teatrale houding wat vir ewig bewonder word, is absurd.”
Helaas kan ons politici net nie dié kolonie-gewoonte afskud nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.