Waar sal my wyn vandaan kom?

YOU’RE SO WYN

Waar sal my wyn vandaan kom?

COUNT LIEBERSTEIN verduidelik waarom hy sonder sy gewone voorraad op vakansie gegaan het, en hoe dit voel as jy Tops op 'n Vrydagaand betyds móét haal.


SO 'n paar weke gelede besluit ek om op vakansie te gaan en vat doelbewus geen wyn saam nie. Die bestemming is my afgeleë huisie in die Suid-Kaapse bosse.
Gewoonlik vat ek wyn waarvan ek baie hou (lees “duur” en “skaars”) en ook heelwat swembadwyn in oorvloed saam. Laasgenoemde is nou my bekende, vervelende en gebottelde vriende wat weet ek gaan meer probeer neem as wat hulle kan gee. Hulle is die soldate, maatskaplike werkers, onderwyseresse en die verpleegsters van die druif se sap. Die osse wat stap deur die stowwe; geduldig, gedienstig, gedwee ... (met alle respek aan die osse).
Wyn in my glas
Ek noem dit omdat ek nie dikwels wyn hoef te koop nie. Tipies van 'n persoon met 'n MOERSE probleem het ek myself omring met my probleem en dit (wyn) my roeping gemaak. Water loop afdraand en wyn trap altyd sy paadjie onvermydelik tot in my glas.
Op hierdie vakansie wou ek 'n duisend myl loop in die skoene van die mense aan die ander kant van die toonbank. Ek wou voel hoe dit is om op 'n Vrydagaand 'n Tops oop te móét vang, ek wou leer hoe dit is om jou voorraad te beplan, ek wou weet hoe dit is om delirius tremens vierkantig in die gesig te staar. Blykbaar maak dit wat jou nie dood maak nie jou sterker, en Bacchus weet, hierdie was 'n openbaring.
My oogmerke was, weer eens, baie vir aldag en heeldag, maar ook iets spesiaals en besonders. Sover alles net wat Koos van der Merwe sou wou hê, en jy sou dink dat dit maklik sou wees. Daar is tog 'n drankwinkel om elke hoek en draai; die duiwel is orals.
Wyn word voorgehou as 'n gawe van die gode, die saamkoms van aarde, wind, vuur en water en ander elemente onbekend by mens en dier. Rooibruin blare in die herfslug, 'n statige Kaaps-Hollandse gewel op die agtergrond. Iemand in 'n two-tone Johnson-hemp wat diep in 'n vat staar. Die reuk van die oggend, die geluid van snoeiskêre en die prentjie van mandjies wat skouerhoogte aangedra word. Vanne wat tradisie en trots versinnebeeld: Du Toit, De Wet, Malan, Sexwale en Singh. Passie en toewyding.
Briek nou hard … baie hard.
Ek bevind my in 'n drankwinkel, ULTRA-MEGA-SUPER-GALACTIC Liquormart, of so iets. Dink geteerde parkeerterrein, dink aan elke skel kleur wat daar is. Vinielplakkate met pryse so laag, hulle betaal jóú. 'n Verpiste ou droëworsstokkie by die toonbank. Sekuriteitskameras kyk vir almal wat dalk 'n bottel Vin Coco of Zorba kan skaai. Personeel wat passievol rondstaan en fokkol doen en dan nog die musiek ... Glo my, jy kan fetish porn met meer waardigheid koop. Ten minste kan jy kry wat jy wil hê en daar is selfs 'n kans dat jy verras kan word.
Die besef kom vinnig: Hierdie grappie is op my. Om te dink ek het vermoed hulle gaan my 'n Keet, Luddite of 'n Sadie verkoop. Wat van die maatskaplikewerker-soldaat-onderwyser-garde? Van hulle is wel daar, maar saamgegooi in 'n anonieme blob van eendersheid, in een enorme kotsgrot, waarvan die  wande en gange bedek is met smaaklose pogings tot grootsheid. Ek draai om, hardloop uit. Dit is te veel, ek gaan nie wyn in 'n openbare toilet koop nie. Altans nie vandag nie.
Dit is Saterdagmiddag, vanaand wil ek braai, en ek kort nog alles EN dan is daar nog Sondag wat beplanning verg. Dankie Bacchus, ek het onthou, Eden se munisipaliteit is droog op die heilige dag.
Supermark toe en dinge lyk beter. Ek kry ingevoerde speserye, die steak is verouder tot op skoolgaande ouderdom, die groente en slaaie is kraakvars. Pasta, pesto, parma, gouda, nori, naan, en so gaan dit aan. Daar is kase waarvan ek nog nie gehoor het nie. Die bakkery se brode is 'n lus vir die oog. Ek kry Norweegse salm vir die Sabbat, en steak vir Saterdag. Vanaand soek ek eers 'n alte mooie Elgin Pinot Noir om my van die N2 te laat vergeet; die narkotiseur wat jou tot tien laat tel. Daarna ietsie meer gepas vir die vleisie. Nie malbec nie, dalk ʼn syrah-versnit, gevolg deur ʼn fyne cinsaut, daarna is ek nie meer so kieskeurig nie. Dit is immers my eerste aand.
Nog ’n grappie
Vir die Sondag soek ek 'n fumé blanc vir wanneer ek die vuur aansteek. Ek proe klaar die groen suur met so 'n tikkie buskruit. Wat van 'n paar biere? Ek kan altyd bier drink as ek die vuur pak. Ja, dan is die bierdrink-ding ook uit die weg.
Die salm gaan ek in die pan braai, saggies toegevou in 'n roomsous met kappertjies. Teen die kant van die bord soek ek groen aspersies met 'n lepeltjie gesoute botter. Viognier asseblief, en as dit kan, Bacchus, daai een uit die Swartland wat op die doppe gegis word. Daarna miskien 'n glasie strooiwyn voor my middagslapie.
Ek haas my na die wynrakke toe, en besef vinnig die grappie is wéér op my. Die regeringsamptenare staan weer alleen daar in al hul nodige, vervelige verdienstelikheid. Dit gaan nie werk nie. Ek is op vakansie, ek soek suiker en salf vir my siel, daar is nie 'n plan B nie. Ek gaan nie my wyn by 'n Absa koop nie. Altans nie vandag nie.
Vinnig nou, want ek weet van 'n wynwinkel teen die pad wat my dalk kan help. Boonop is dit nie 'n kettinggroep nie en ek het al tevrede daar uitgestap. Dit is net so tien kilometer verder aan en die son trek water, maar wat almal in die Suid Kaap weet, jy ry sestig en nét sestig, want jy kry 'n foto van jouself in die pos as jy twee-en-sestig ry in ʼn tagtigsone. Vyftien minute later, presies vyf oor vyf op 'n Saterdagmiddag, stoot ek my kar se neus voor die winkel in. Op die toe deur staan:
Mondays to Saturdays: 9h00 to 17h00. Sundays: Closed
No sales to persons under 18.
Fok!
Daardie aand, nadat ek drie restaurateurs se gatte gelek het, maak ek vir my vier bottels wyn bymekaar. Ek wou myself nog verder verneder, maar daar was nie nog restaurante nie. My vleisie is toe gebraai met 'n polisieman as geselskap, en die volgende dag deel ek my (p)salm met 'n maatskaplike werker. My langste naweek was 'n grappie op my.
Wat het ek geleer? Humiliteit. Ek sal wyn by 'n openbare toilet of by 'n Absa moet koop, want dit is al uitweg! Koos van der Merwe word vir 'n pop gevat. Hy moet sy illusie van die goddelike geskenk deur 'n ketting van hoere en tollenaars kry. Dan moet hy ook met alledaagse eendersheid tevrede wees (Afrikaanse musiek?) terwyl daai spesiale wyne ons soos kreef en perlemoen ontwyk. Aandag, alle aankopers! Kyk verby daai goue stickertjies, uitgedeel vir bywoning en goeie gedrag, vergeet van die VBS Bank se toptien of die rep se lysie. Gee tog vir Koos 'n paar rakkies gevul met ietsie spesiaal, en speel vir ons af en toe Kobus! op die radio.
Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my wyn vandaan kom ... aanlyn.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.