Goeiemôre, Viëtnam!

VAN HANOI NA HALONGBAAI

Goeiemôre, Viëtnam!

Dit het haar amper ʼn leeftyd geneem om in Viëtnam uit te kom, vertel MARITA VAN DER VYVER. Hier het sy van die mooiste natuurskoon en beste kos in die wêreld ervaar, geleer chicken speel in die chaotiese verkeer ... en besef hoe teenwoordig die oorlog soveel dekades later steeds is.



’n HALWE eeu gelede is ’n klein vlammetjie vir Viëtnam in my hart aangesteek. En soos soveel ander vlamme in my lewe het hierdie ene ook by woorde begin, by die aanloklike klanke van woorde soos Phu Quoc, Chau Doc, My Lai. Welluidende plekname uit ’n bloedige oorlog wat dwarsdeur my kinderjare gewoed het.
Daar was ook prentjies in die pers wat my jong gemoed vertroebel het: die ikoniese foto van ’n huilende, hardlopende, poedelkaal meisietjie wat deur napalm gebrand is; ’n helikopter wat wankelrig balanseer op die dak van ’n gebou in Saigon in 1975, met ’n string desperate mense op ’n trap wat almal op die laaste vlug uit die stad wil ontsnap.
In die 80’s en 90’s het Hollywood se bewegende beelde die stil prente in my steeds ontvanklike gemoed vervang. Francis Ford Coppola se Apocalypse Now, Michael Cimino se The Deer Hunter, Stanley Kubrick se Full Metal Jacket, Oliver Stone se Platoon, Barry Levinson se Good Morning, Vietnam; die beste en bekendste regisseurs het almal hulle eie idee van die oorlog verfilm.
Maar in die begin was die woord.
Want vóór al hierdie onvergeetlike visuele ervarings is ek deur die woord bekoor. In 1994 het ek ’n roman geskryf oor ’n groep tieners in die 70’s, Die dinge van ’n kind, waarin die hoofkarakter my eie tienderjarige fassinasie met Viëtnam gedeel het: “Da Nang, Nha Trang, Qui Nhon, hoor ek al weer in my kop … Die name van die stede en dorpe wat een vir een deur die Rooi Sprinkane oorgeneem word, klink vir my so onweerstaanbaar eksoties soos jacuzzi of je t'aime. Da Nang, Nha Trang, Qui Nhon, Tuy Hoa, Bien Hoa …”
Dit het my nogtans amper ’n leeftyd gekos om daar uit te kom.
Ná 20 jaar in Frankryk was ek deeglik bewus van die Franse koloniale geskiedenis van die ou Indochina (Laos, Kambodja en Viëtnam), wat my nuuskierigheid net nog meer geprikkel het, maar Viëtnam het soos ’n ewige mirage op die horison bly hang terwyl ek deur die res van die wêreld gereis het.
Toe my studenteseun twee jaar gelede ’n internskap by ’n Franssprekende argitek in Laos losslaan, was ek sweerlik meer opgewonde as hy. “Gaan jy Viëtnam ook verken terwyl jy daar is?” wou ek dadelik weet. “Wat is so spesiaal aan Viëtnam?” wou hy weet.Dís toe dit finaal tot my deurdring dat sy generasie nie, soos baie van myne, met ’n mitiese idee van Viëtnam grootgeword het nie.Maar hy het ’n draai in Viëtnam gaan gooi – waarskynlik net om sy ma tevrede te stel – en hy was dadelik dol oor Hanoi. Ma het so trots gevoel soos ’n outydse sendeling wat ’n heiden bekeer het. En net so ’n groot fake soos al daardie outydse sendelinge wat heidene van die hemel vertel het sonder dat hulle ooit self in die hemel was. Dit was tyd, het ek besluit, om te gaan kyk hoe dit in Viëtnam lyk.As jy soveel dekades oor ’n plek gedroom het, is jy onvermydelik bang dat die werklikheid ’n teleurstelling gaan wees. Ek was verlig dat my tien-dae-toer alles was wat ek gehoop het, en selfs meer. Daar was baie dinge wat ek nie verwag het nie – en dis juis dié dinge wat ek die beste onthou.
Herinneringe aan die oorlog
My reis het in die suide begin, in Ho Chi Minh-stad (wat in my skandalig koloniale verbeelding seker altyd Saigon sal bly), omdat dit die deel is waar die meeste van die oorlogsbeelde in my kop gevorm is. En tog was ek aanhoudend verras oor hoe teenwoordig daardie oorlog steeds is.
Die Herenigingspaleis wat in 1966 gebou is, voel soos ’n time warp. (Back to the Future, net om ’n slag ’n fliek aan te haal wat oënskynlik niks met Viëtnam te doen het nie.) Die kitsch dekor in die slaapkamers vir belangrike gaste herinner aan kettinghotels van dekades gelede en die telekommunikasiesentrum in die kelderverdieping lyk nog nes dit in die oorlog gelyk het, kompleet met outydse telefone en kaarte van die operasionele gebied teen die mure.
Langs die sentrale poskantoor in die swierige Frans-koloniale styl is die Pittman-gebou waar CIA-agente gedurende die oorlog gewoon het en wat almal behoort te herken weens Hugh van Es se befaamde foto van die laaste helikopter wat op die dak land. (Die ironie is dat die meeste mense dit juis nie herken nie omdat daar ’n valse gerug ontstaan het dat dié helikopter op die dak van die Amerikaanse ambassade geland het.)
In die poskantoor se indrukwekkende hoofsaal, meer katedraal as staatsdiensgebou, pryk ’n majestueuse mosaïekwerk van Ho Chi Minh teen die muur waar die kansel sou gestaan het indien dit ’n kerk was. Heel gepas in ’n kommunistiese land, hoewel die meeste toergidse deesdae huiwer om die woord “kommunisme” hardop te sê, blykbaar bang dat dit toeriste sal afskrik.
In dié saal het die Franse heersers meer as ’n eeu gelede ook die name van ’n dosyn wêreldstede aangebring, saam met horlosies wat die tyd in die onderskeie stede wys, en daar – sowaar! – staan Pretoria ook. Dít het ek nie in Ho Chi Minh-stad verwag nie.
Nêrens in die stad word die afgryse van die Amerikaanse oorlog treffender uitgebeeld as in die War Remnants Museum nie. Trouens, min museums in die wêreld kan die wreedheid en die waansin van oorlog só skokkend oordra.
Ek moet byvoeg dat die onderskrifte by die foto’s, in die tipies opswepende en hiperboliese taalstyl van enige oorlog, nogal irriterend kan wees. As jy dít moes glo, was die Viëtkong se soldate almal onskuldige lammers en die Amerikaanse soldate deur die bank duiwels.
Maar eintlik hoef jy nie verduidelikings te lees nie, elke foto spreek ’n duisend woorde, en sommige van die foto’s is byna onmoontlik om na te kyk. Onder die ergstes is dié van onskuldige slagoffers van napalmbomme en die gevreesde onkruiddoder, Agent Orange, wat veroorsaak het dat mense selfs dekades ná die oorlog steeds monsteragtig misvorm gebore is.
Om die alledaagse ontbering van burgerlikes gedurende die oorlog te begryp, moet jy eintlik die stad verlaat om die Cu Chi-tonnelnetwerk te besoek waar mense soos rotte ondergronds moes lewe. Aangesien ek ietwat kloustrofobies is, was ek nie dapper genoeg om die tonnels van binne te verken nie. Die klein opening waardeur ons Viëtnamese gids hom gewriemel het, was genoeg om my in koue sweet te laat uitslaan.Twee van my toergenote het wel ’n paar meter deur ’n donker tonnel gekruip – en die verligting op hulle gesigte toe hulle daar uitkom, het boekdele gespreek. Die tonnels is blykbaar spesiaal vir Westerse toeriste vergroot (maar dit bly angswekkend smal), want die Viëtnamese is klein mensies.Ek het die meeste van die tyd soos Gulliver in die land van Lilliput gevoel. In Hoi An het ek vir ’n fantastiese masseersessie gegaan waartydens die masseervroutjie pens en pootjies bo-op my rug geklim het om my met haar handjies én haar knietjies by te kom. Later het ek by ’n toergenoot gehoor dat háár massering ook só verloop het – en sy is heelwat korter as ek – wat my darem minder soos ’n natuurfrats laat voel het.
Die chaotiese verkeer
Die meeste Suid-Afrikaners skrik mos nie eintlik vir jaywalking nie, anders as die vreeslik korrekte Duitse toeriste wat ek opreg jammer gekry het in die Viëtnamese stede. Maar in Ho Chi Minh-stad en Hanoi kry jaywalking heeltemal ’n nuwe betekenis. Dis meer soos ’n lewensgevaarlike manier om chicken te speel en dit kos ’n hele paar dae om die tegniek baas te raak. Jy steek jou hand uit, palm na die aankomende verkeer gedraai, en jy kyk alle bestuurders stip in die oë terwyl jy eenvoudig begin stap. Moet net nie huiwer en gaan stilstaan nie, waarsku almal jou, want dan gaan jy beslis raakgery word.
Dis natuurlik makliker gesê as gedaan om die bestuurders van al die voertuie in die oë te kyk, want hulle kom van alle kante, niemand ry in bane nie, verkeersligte word geïgnoreer, en daar is miljóéne motorfietse wat skynbaar geen verkeersreëls gehoorsaam nie.
Die amptelike syfers is 9 miljoen motorfietse vir 15 miljoen mense in Ho Chi Minh-stad, met ander woorde meer as die helfte van die inwoners ry ’n motorfiets, en sommige van hulle lyk skaars 12 jaar oud. En dis nie net omdat hulle sulke klein mensies is nie.
Een van ons gidse (wie se kop skaars tot by my bors gekom het) het laggend gebieg dat sy 13 jaar oud was toe sy die eerste keer die chaotiese stadsverkeer op ’n bromponie aangedurf het. Haar pa het dronk geraak by ’n bruilof en kon nie die gesin terug huis toe vervoer nie, toe neem sy oor.
Die gesin, ja, want jy sien gereeld bromponies met twee volwassenes en twee of drie kinders daarop gelaai. Soms is die motorfietsie so oorlaai met bokse, kiste, boumateriaal en wie weet wat nog alles dat die bestuurder onsigbaar raak.
Baie van die vrouebestuurders kán jy ook nie in die oë kyk nie omdat jy sukkel om hulle oë te sien. Hulle lyk soos ninja-vegters, elke stukkie vel bedek, handskoene, sokkies, gesigte soos mummies toegedraai (ondanks die hitte en die humiditeit wat jou laat sweet asof jy heeltyd in ’n stoombad vasgekeer is), want hulle wil nie deur die son gebrand word nie.
’n Vlekkelose bleek vel, verduidelik ons bruingebrande manlike gids sonder enige teken van ironie, is steeds die ideaal vir vroulike skoonheid.
Die koskultuur
Vóór ek daar beland het, het ek reeds geweet dat Viëtnamese kos as van die beste in die wêreld beskou word, maar ek het nogtans nie so ’n wye keuse verwag nie.
Voorheen het ek eintlik net nems (spring rolls) en pho (uitgespreek as “fa”) geken; dus het ek my daagliks vergaap (en gereeld ooreet) aan die nimmereindigende verskeidenheid. Vis wat in piesangblare toegedraai en gebak is, krakerige heldergeel pannekoek-omelette, money bags (“beursies” van wonton-deeg gevul met vleis en groente), geroosterde eendtongetjies, slakke en paddaboutjies (moontlik die Franse invloed, maar heel anders berei as die Franse weergawes), slaaie van piesangblomme en groen spanspek, draakvrugte en ander hemelse vrugte wat vir al wat ek weet in die Tuin van Eden gesteel is.
Aanvanklik het ek probeer om minstens vir ontbyt “bekende” Westerse kos te eet, maar teen die vierde oggend het ek ’n plaaslike weergawe van ’n Engelse spek-en-eiersontbyt aangedurf. Gebraaide tamaties met ’n varkvleisvulsel en gesoute eendeier. Die eier was te sout na my smaak, maar daarna het ek oorgegee en selfs vir ontbyt die plaaslike kos begin eet.
In Hanoi het ek ’n kookklas bygewoon, waar ek geleer het om nems in ryspapierpakkies toe te draai en te braai, om ’n smulleker pho met sampioene te maak, en ’n paar ander geregte ook onder die knie (en in die mond) te kry.
Maar voordat ons begin kook, het ons eers die vars produkte op die naaste mark gaan koop, ’n onontbeerlike ervaring wat ’n Westerling se maag kan laat draai. Daar is lewende brulpaddas wat struwel om uit potte water te ontsnap, asof hulle wéét dat hulle nou-nou gekook gaan word, en kleurvolle hoenderhane in draadmandjies wat blitsig voor jou oë geslag kan word, en selfs die herkenbare agterlywe van gebraaide hondjies, ewe met die stertjies in die lug.
Nee, jy hóéf nie hondvleis in Viëtnam te eet nie; daar is oorgenoeg ander kos om jou maag te vul. My arme seun was nie so gelukkig toe hy op ’n afgesonderde en armoedige dorpie in Laos beland het nie. Die dorpenaars het vir hom ’n feesmaal berei om hom te bedank dat hy hulle met bouwerk gehelp het, en die hoofgereg was hondvleis. Dit was die beste wat hulle kon bied en dit sou onbeskof wees om dit van die hand te wys. Die ergste van alles, het hy later beskaamd gebieg, is dat dit nogal lekker gesmaak het. (Sy vegetariese sus sukkel nou nog om hom te vergewe.)
Ek glo ons kosvoorkeure het alles met ons kulturele agtergrond en gewoontes te doen en weier om mense te kritiseer omdat hulle kos eet waarvoor ek dalk gril. Party van my Franse skoonfamilie eet perdevleis, terwyl van my Moslem-vriende, wat glad nie eens so danig godsdienstig is nie, nooit sal raak aan die varkvleis waaraan ek smul nie.
Die straatkos van stede soos Hanoi bly ’n avontuur wat jy nie durf mis nie. Oral op die sypaadjies staan sulke plastiekstoeltjies en lae tafeltjies wat soos meubels vir ’n kleuterskoolklas lyk. Ons met ons lang Westerse bene en swaar lywe voel soms komieklik as ons daar aansit, maar as jy eers jou sit gekry het en die eerste koue bier afgesluk het, raak dit die geselligste manier om die dol straatlewe om jou dop te hou terwyl jy aan soms onherkenbare geregte smul.
Ek het saam met ’n paar vroue gereis, party met meer brose mae as ander, maar niemand het ooit siek geraak van enigiets wat ons geëet het nie. En ons het omtrent onophoudelik geëet. Ek het ook binne die eerste week meer bier gedrink as in my ganse lewe tot dusver. Ek het altyd gedog ek hou nie van bier nie, maar as jy Viëtnam se lentehitte wil oorleef, kan jy nie sonder koue bier klaarkom nie.
Die somerhitte kan ek my nie eens verbeel nie. Hulle sê in Julie kan jy ’n eier bak op die oppervlak van ’n teerstraat, maar dis ook wanneer die suide van die land deur moesonreën getref word. Beslis nie wanneer jy daar wil gaan reis nie.
Die kuns van koffie
Dalk was die heel lekkerste verrassing die koffie. As selferkende koffiesnob wou ek natuurlik die wêreldbekende kopi luwak proe, koffie met ’n verruklike sjokoladegeur wat gebrou word met bone wat deur sivetkatte geëet en uitgeskei word. (Drolletjiekoffie, as jy die ding nou op sy naam wil noem.)
Dit was inderdaad ’n sensasionele smaakervaring, maar ek het nie verwag dat al die weergawes van “gewone” koffie ook so heerlik sou wees nie. Veral die verskillende soorte yskoffie, amper so verfrissend soos koue bier in die snikhete weer, wat jy met of sonder suiker of kondensmelk kan bestel.
En dan is daar ’n spesiale koffie wat met romerige eiergele gemeng word, meer van ’n dekadente nagereg as ’n sedige drankie, wat ons inderdaad ook in ons kookklas in die plek van ’n nagereg leer maak het.
Ongerepte natuurskoon
Die stede het ’n energieke, rumoerige vibe, ’n dringende polsslag wat my een Sondagaand op ’n straathoek van Ho Chi Minh-stad oopmond tot stilstand gedwing het, met dreunende musiek wat uit verskeie geboue gepomp word en ’n warboel van voetgangers en motorfietse net waar jy kyk, eintlik onmoontlik om aan enigiemand te beskryf. Maar om die land werklik te waardeer, moet jy ook wegkom uit die stede, na die sneeuwit sandstrande van die eiland Phu Quoc, of die dramatiese groen heuwellandskap en rysplantasies van Sapa, of die asemrowende skoonheid van Halongbaai.
Ons het ’n nag op ’n boot in Halongbaai deurgebring, met oorgroeide oerwoudagtige rotsheuwels wat oral in die deurskynende water uitsteek. Jy kan grotte gaan verken of in ’n kajak roei of van die dek van ’n kleiner boot af in die water duik en soos ’n otter baljaar. Of jy kan net met ’n skemerkelkie op die boonste dek sit en die sonsondergang bewonder.
Terwyl die son sak, het ’n jong Kanadees langs my na die regte woorde gesoek om sy verwondering uit te druk. “Ek probeer hard dink of ek al ooit enigiets so mooi gesien het,” het hy oplaas gefluister, asof hy in ’n kerk of op ’n heilige plek staan. “En ek dink eerlikwaar nie so nie.”
Op daardie oomblik het ek geweet dit was die moeite werd om ’n halwe eeu te wag om ’n stukkie van Viëtnam te leer ken.
 


My reisreëlings is getref deur Kitty Snyman van Rufaro Destination Management. Kontak haar gerus vir meer inligting: kitty@rufaro.co.za

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.