Kos-eksperiment uit die derde kultuur

EET SAAM

Kos-eksperiment uit die derde kultuur

By 'n kosklub agter die Boereworsgordyn kan jy vir ete aansit saam met mense wat jy van g’n kant af ken nie, maar met wie jy teen nagereg waarskynlik dik vriende gaan wees. ANNELIZE VISSER gesels met Nobhongo Gxolo, stigter, kok en handlanger van Third Culture Experiment.



DIT begin altyd met gemmerbier, gemaak volgens haar ma se resep toe hulle kinders was in Mdantsane-township by Oos-Londen. Sy gaan net so min dié resep met jou deel as om te sê watter instrument sy in haar hoërskoolorkes bespeel het.
Daarna is 'n sommelier gewoonlik aan die woord om die sowat 20 meestal wildvreemdelinge om die lang tafel in die agterplaas besig te hou met stories oor wyn en die wynlandgoed wat vandag se wyne borg.
Dié leersame tussengang laat Nobhongo Gxolo toe om die voorgereg op te skep, stokalleen in die kombuis. Afhangende van die seisoen kan dit ewe goed ertjie-en-soetpatatsop met 'n straaltjie mentolie wees as drie soorte tertjies met pere en bloukaas of roketpesto en mozzarella, of 'n vars vyeslaai wat by dié geleentheid gevolg word deur die roomysentrepreneur Tapiwa Guzha se TAPI TAPI-vy-en-tamatiegranita.
Buite op die grasperk gee die atmosfeer effe skiet namate die gaste mekaar leer ken. Maar in die kombuis moet Nobhongo nie een nie, maar twee hoofgeregte gereed kry. Vir die vegetariërs – en daar is altyd vegetariërs – is daar dalk gebakte eiervrug met tuisgemaakte tamatiesous en drie soorte kaas, of 'n blomkool-steak wat met kaas en sampioene gestop is. Vir vleiseters, of dit nou beesstert of varkpootjies is, is daar deesdae altyd ook 'n gestoomde brood.
Nou raak die gesprek in die agterplaas natuurlik effens luidrugtig, soos altyd om 'n etenstafel wanneer onderwerpe soos politiek of godsdiens onder bespreking kom. Gelukkig is die nagereg iets om na uit te sien: 'n onderstebo-witpersketert met pruimroomys, dadelpoeding met lemoensous of 'n onvergeetlike chimupotohayi (Zimbabwiese mieliebrood) met grenadella-en-suurlemoensmeer en 'n Impepho-roomys wat jy beslis nêrens anders as net hier in Goodwood gaan kry nie.
Teen huis-toe-gaan-tyd het die vrede weer oor die agterplaas neergedaal en voel baie van die vreemdelinge soos vriende. Nobhongo gaan tot laat vannag die kombuis blink skrop, gelukkig in die wete dat nog 'n eksperiment suksesvol afgeloop het.
DIE ontstaan van Third Culture Experiment is nogal 'n lang storie en Nobhongo praat 'n hele nuwe notaboek vol.
Dit begin met 'n reeks toevallighede. Nuut in die Kaap waar sy werk by ’n nieregeringsorganisasie wat die LGBTQ+-gemeenskap ondersteun, word sy vir ete genooi by 'n kennis, Hlumela Matika. Hier eet sy die lekkerste hoender van haar lewe. Dit het nog nooit by haar opgekom om met vars kruie te kook nie!
Kort hierrna lees sy iewers oor kosklubs en gaan kyk op die internet of so iets in Kaapstad bestaan. Daar’s een in Woodstock, maar al water haar mond vir die mosselroomsop op die spyskaart, kan sy nie die ete bekostig nie. Toe beland sy saam met vriende uit haar jogaklas by Rick’s Café in Kloofstraat. Hier raak sy en Hlumela aan die gesels en ontdek sy dat einste Hlumela van die lekker hoender ook Hlumela van die mosselroomsop is. Twee weke later is hulle twee saam die gasvroue by die heel eerste Third Culture Experiment. Mosselroomsop is op die spyskaart.
Hoe het dié eksperiment sy naam gekry, wil mens natuurlik weet. Sit gemaklik, dis ook 'n lang storie.
As vryskutjoernalis in het Nobhongo eenkeer 'n onderhoud gevoer met 'n vrou wat haarself as 'n Third Culture Kid (TCK) beskryf het. 'n TCK, leer sy later, is iemand wat in 'n ander kultuur as dié van haar ouers grootgeword het. Jou eerste kultuur is jou ouers s’n, die tweede dié van die gemeenskap waarin jy grootgeword het, en jou derde kultuur is 'n samesmelting van die ander twee.
Toe die nuwe kosklub 'n naam moes kry, het Nobhongo besluit dat Suid-Afrikaners eintlik almal derdekultuurkinders is – ons almal kry met soveel verskillende kulture te doen en probeer by soveel verskillende mense aanklank vind.
En die eksperiment? Wel, Nobhongo is 'n skrywer en Hlumela werk in die filmbedryf, en tussen hulle twee het hulle nog nie 'n enkele kookles bygewoon nie. Toe dit met eksperiment nommer drie Nobhongo se beurt was om die hoofgereg te maak, het daar vir 'n week vooraf elke aand 'n pot varkkerrie op al vier stoofplate staan en prut, elkeen met 'n Post-it-nota waarop die bestanddele in daardie pot geskryf staan.
Nadat Hlumela in Uganda gaan werk het, het die eksperiment 'n eenvrouvertoning geword, en moes Nobhongo hoofkok én handlanger word. Sy het haar koskennis onder meer uitgebrei deur geselsies met vreemdelinge in koswinkels aan te knoop:
Is dit dhania in jou mandjie – wat maak mens daarmee?
Wat koop jy daar … o, so dís hoe 'n raap lyk!
Umngqusho, daardie lieflike, eenvoudige stampmieliegereg, is by die volgende geleentheid met raap voorgesit.
Met die eerste Third Culture Experiment het die gasvroue elk 'n verlies van R89,53 gely. Die tweede een het gelykop gespeel, en deesdae word die projek deur Checkers en verskeie wynlandgoedere geborg. Die projek het in 'n woonstel in die Tuine afgeskop, in Table View gaan draai en in 2015 was dit 'n tyd lank 'n rondreisende eksperiment, toe Nobhongo gereeld op wynplase gaan kook het.
Nou het dit saam met Nobhongo 'n tuiste gevind in 'n huis oorkant 'n speelparkie in Vasco Estate. Die sitkamer is groot genoeg sodat die lang tafel binnetoe kan skuif ingeval dit reën. Die 43ste eksperiment vind binnekort hier plaas.
DIT begin altyd by die spyskaart, sê Nobhongo, en die spyskaart begin meestal by die seisoen. Maar soms skop dit af by 'n herinnering, soos wanneer sy pap kook omdat sy na haar pa verlang, of by iets waarvan sy gelees het – soos dat die bitter en sout van olywe en die soet van witsjokolade bymekaar pas. Olyfroomys saam met witsjokoladetert was by die volgende eksperiment op die spyskaart.
Sy is nie net dapper in die kombuis nie. Sy het Third Culture Experiment begin in dieselfde jaar waarin sy haar werk verloor het, haar huurkontrak kwyt was, en waarin haar pa gesterf het. Sy is pas terug uit Alice waar die Xhosa-ritueel ukubuyisa uitgevoer is, die laaste van drie waarna haar pa hom nou amptelik by die voorvaders mag skaar. In dié rol kan hy sy familie, en sy jongste dogter, lei en beskerm.
Nobhongo, wat pas aangestel is as navorsingsbeampte by die Universiteit van Kaapstad waar sy haar graad in sielkunde en mediastudies verwerf het (sy het nagraads joernalistiek by Rhodes studeer), staan gemaklik met haar voete in verskillende kulture. Haar boekrak onderstreep dit. Daar is omtrent ewe veel Afrika-skrywers soos Zakes Mda, Ben Okri, J.M. Coetzee en Chimamanda Ngozi Adichie as Westerse gunstelinge soos Donna Tartt, Jonathan Franzen en Zadie Smith.
Haar yskas is stampvol tuisgebottelde bestanddele soos brandrissiekonfyt, pesto en gesoute suurlemoene (daar’s 'n suurlemoenboom in haar agterplaas), en haar kosrepertoire steek kultuurgrense oor van Marokkaans tot verby Italiaans.
Sy wil hê dat gaste aan haar tafel net so welkom moet voel soos dié wat destyds gereeld by hulle huis in Port Elizabeth kom braai het. Lekker vleis, want haar pa het 'n slaghuis in Zwide besit, maar veral lekker geselskap omdat hy 'n gul man was wat mense graag gelukkig wou sien.
Dis juis waaroor die eksperiment gaan. Sy wil mense vir mekaar toeganklik maak, sê Nobhongo. Dis hoekom sy een Saterdag elke maand derdekultuurkinders in haar agterplaas bymekaarmaak, en hulle langs en oorkant mekaar laat sit sodat hulle saam kan eet.

As jy wil saameet, stuur 'n epos aan [email protected]

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos [email protected] of skakel 0860 52 52 00.

X