Kry jou huis in orde

DEKOR

Kry jou huis in orde

Vir eers moeg geswerf, word HANNES LOUBSER tydelik 'n katoppasser by die Vaaldam, boonop met 'n uitnodiging om die huis na willekeur te verander. Toe skep hy orde.



MY dierbare moeder het ons kleintyd reeds 'n waardevolle les geleer: “Sorg eers dat jou huis in orde is." Omdat moeder net so bekend is vir haar streng, ondubbelsinnige instruksies as haar deurmekaar kombuis, weet ek tot vandag sy't gepraat van orde binne.
“Eers orde skep binne alvorens jul buite gaan speel. En moenie dat ek jul anders betrap nie."
Hoe dit ook al sy, om jou huis in orde te kry is nogal 'n affêre as jy nie regtig 'n huis het nie. “Huis" is oral waar jy aanland vir langer as 'n koffie en 'n koue gekookte eier.
By Melissa se betreklik eksotiese blyplek op die oewer van die Vaaldam was daar iets amper ondeund aanmoedigends in haar stem toe sy met die groetslag omdraai en innig sê: “Onthou, skattebol, die katte ... Hulle eet slegs die oranje sak se pille, en, asseblief, maak jouself heeltemal tuis. Soos in, heeltemal." Knipoog. En woeps, toe is sy weg Kaap se kant toe.
Ná haar vertrek sit ons drietjies – die Gemmer, die Koeikol en die Gewone Soort Langhaar-besoeker – een laatmiddag half verwese op die stoep. Dit raak koel hier na sononder en ek neem sommer 'n ou kombers uit vir die kniegies terwyl ons so sit en staar na die karavaanparkbure wat letterlik heeldag in stilte visvang, sowel as die gerimpelde weerkaatsing van presies nege liggies wat aan die oorkant van die water maanloop.
Die karavaanmense, begin ek vermoed, bly dalk permanent daar onder langs die groot populier, want hul lanterns glinster elke aand soos bedeesde vuurvliegies wanneer die katte my bed toe begin dwing.
DIT was liefde met die eerste oogopslag. Wat 'n verruklike plek. Majestueuse moeraseike getooi in 'n winter-se-begin roesbruin en maroen blarejas; 'n klipmuur rondom die werf; 'n paar verlore seiljaggies, net vir daai tikkie Nice en die gulste, stilste bure waarop mens kan hoop. 'n Droomplek om na weg te breek, om op te pas, bietjies-bietjies op te fix, dalk tydelik “huis” te noem. Iemand anders se tuiste wat vir 'n vuisvoos swerwer 'n bietjie van 'n heelwordhuis gaan word. Die hoogtepunt, natuurlik, is die kreatiewe liksens om dit binne redelike perke te herrangskik.
Nuwe horisonne is immers altyd in sig.
Kan ons met die tuin begin, asseblief?
Melissa se tuin is enorm – amper te groot vir twee hande om selfs 'n effense duikie in te maak, afgesien van die bloedstollende koste-implikasies waarmee so 'n oefening gepaard sou gaan. Dus besluit ek en die katte toe oor tee en toast op die stoep om moeder se raad in te span en eers binne die orde van die dag te heroorweeg.
Alvorens ons begin, die huisreëls:
1. Die begroting is zero. Letterlik nul. Einde van die storie.
2. Respekteer die landheer. Kyk, almal wat my ken, weet ek kan wild te kere gaan wanneer iemand die perd se leisels losmaak ... ongeag of ons buite of binne die speelpark galop. Niks van daai nie.
3. Gebruik slegs wat daar is. Niks mag weggegooi word nie; niks mag gekoop word nie. Niks mag selfs verkoop word nie ...
4. Die enigste musiek wat toegelaat sal word tydens die spel van interhuis-huis speel, is vanweë voor die hand liggende redes house-musiek. Dit sit die skop in jou skoppie. Draai dit sommer lekker hard.
Toe ek en my tweede regte vriend in die dorp, Johnny – self 'n oujongkerêl, maar 'n dekorleek in sy eie woorde – eergisteraand die kussingslope begin aftrek, het die poppe sowaar gedans. Ons albei hou van die idee van decluttering in 'n poging om dinge te vereenvoudig. Maar die een ding wat die vertrek totaal transformeer het, was sy voorstel dat ons die houttoonbank 90 grade in sy spore draai sodat jy hom soos 'n wafferse eiland van vier kante af kan bewerk.
Dit was 'n volslae hoera-oomblik toe my bepeinsde seleksie van breekgoed en plastiekhouers en eetgerei en tafellinne en die mees noodsaaklike gereedskap vir kulinêre towerkunsies almal hul regmatige plek vind in hierdie veeldoelige en skielik woelige vertoonkas, wat voorheen bloot 'n lêplek vir 'n broodplank en vrugtebak was.
Hannes: “Maar onthou nou, daar is net twee kaste, basies geen laaie nie, en 'n f*kken ernstige tekort aan oop werkoppervlakke in hierdie kombuis."
Johnny: “Dis waar. Dalk moet jy probeer om minder antique bordjies bo-op die eiland uit te stal. Óf dit, óf die steggies moet gaan, óf jy moet die katte op die vloer laat wag vir hulle kos. Want dis soort van waar hulle hoort."
Hannes: “Die ander ding is natuurlik die feit dat alles so half oop en deurskynend is. Waar reken jy is die beste plek om hierdie spul oorbodige goed buite sig te bêre?"
Johnny: “Uhm, ek sou sê in 'n boks in die garage is nie 'n slegte plek nie? Alternatiewelik, dalk in die stort met die swakker waterdruk wat jy sê jy in elk geval nie gebruik nie."
Hannes: “Die ewige soeke na die mees vanselfsprekende goed is finaal verby. Hier is nou 'n old-school enemmelpot met alles in ... koekiedrukkers, vuurhoutjies, pap batterye, tandestokkies, twee verlore gordynhakies, al die petrolstrokies wat jy laas jaar reeds by die werk moes indien om te kan terugeis, selfs 'n pleister."
Johnny: “Solank daai pot net 'n deksel het." 
Hannes: “Jip. En sal jy glo, hy pas perfek. Selfde kleur en als."
Op 'n dieperliggende vlak was dit vir my belangrik om so ’n bietjie butch binne te nooi. Ek was gevolglik verlig dat Johnny dit sonder meer beaam het. Daar's niks wat 'n bietjie streamlining en neutraliserende minimising nie vir die brose manlike ego kan doen nie.
Dit gesê, in hierdie huis dra 'n vrou die broek. Onthougoed van Melissa se ma en dogter is integraal tot die gevoel van geborgenheid wat mens hier ervaar. Oral waar 'n mens vir 'n moment langer wil aarsel, gesels hulle goedkeurend saam: bo die mikrogolf en stoof, langs die groot goue spieël, op die kassie by die stoepdeur waarnaas reuse-dadelpalms parmantig 'n stukkie Seepunt channel, versigtig versteek tussen 'n paar van haar eie gunstelingboeke: Gone with the Wind, The Great Book of Humour, Die mooiste sprokies van Andersen, Wegkomkans, Pieternella van die Kaap, Spud, Charlie and the Chocolate Factory, en, in ander goeie nuus, Gerugte van Reën."
“Lees hierdie klomp eerste," het sy 'n stapel insig en wonderskone wysheid teen my bors gedruk met haar vertrek. “Nee, in fact, lees hulle almal. Ek kan jou net nie sê waar om te begin nie."
Intussen het ek ryklik buite gaan oes: 'n paar palmtakke, 'n droë strelitzia-blom en twee broodboomarms. Hulle is almal ewe fabelagtig vir my.
Persoonlik is ek totaal en al oor die formele kilheid van oorontwerpte ruimtes. Melissa sal saamstem, ek twyfel nie: Hierdie is 'n plek vir ontvlug en hare losmaak en sommer loslit-lekkersit – net waar jy wil. Om daardie rede is die opvoubare groen matrassie ingebring en mooitjies toegegooi met nie minder nie as vier verskillende soorte lakens en ander donsgoed. Hy't ’n blinkerbelaaide strooikussing bo-op, want iewers diep binne ons almal is ’n stukkie verborge glam.
Indien horisontaal verkeer en na die wind luister jou soort ding is, is hierdie net die kol vir jou.
Die ysterboom staan sentraal geplant in hierdie leefruimte – maak nie saak waar jy hom posisioneer nie. Ek en Johnny het letterlik elke liewe opsie oorweeg en uiteindelik besluit hy haal makliker en stadiger asem daar naby die vensters; verder weg van waar hy voorheen jou oë per ongeluk wou uitsteek wanneer jy die katte nogmaals kosgee.
En as dit nie genoegsame rede is nie, wat is dan nou beter as om heeljaar  'n stabiele, onwrikbare Kersboom langs jou koffietafel te hê?
Niks nie. Behalwe wanneer dit een is met babablou teekersies in sy maanhaartakke. Soos hier.
Die ander kussings en lappietoevoegings tot hierdie boheemse sithoekie het ons doelbewus asimmetries rond en bont gelos. Want dis vir vrygeestiges sowel as vrylustiges, nes ons.
En kinders, die kinders is altyd welkom. Saam met die res wat nie die hitte in die kombuis kan verdra nie.
Wat meer het 'n mens nodig?Minder plastieksakke, dis wat! Dis hartverskeurend om te sien hoeveel gemors mens opgaar. Raak op 'n verantwoordelike manier ontslae van hulle almal; herwin vir die aarde se gewin, en weier om ooit weer een te koop.Wat plastiekplante betref, is daar net een reël: Daar sal geen plastiekplante wees nieTweedens: #curtainsmustfall. As jy in 'n glashuis bly, wil jy kan buitentoe kyk. Klaar.
Indien julle volgende week weer van my hoor, beteken dit Melissa hou van die paar basiese, werklik eenvoudige veranderinge wat ons aangebring het. Of dit, of sy het besluit om liewer nooit, ooit weer terug te keer nie. Die Kaap is geneig om daardie effek op binnelandse seesoekers te he.
Dat haar blou voordeur met bypassende blou vensterrame en koepels kompleet met 'n kruis bo-op vir 'n ieder en elk oopstaan, letterlik en figuurlik, maak dit 'n plek waar ek in my siel, en altyd voorwaarts te voet of per wiel, tot in lengte van dae sal welkom voel. En vir die rekord, nou kan die tuinery maar in alle erns begin!
Volg Hannes op instagram onder die naam “j o g o s l o" as jy wil sien watter mooigoed en toorgoed hy langs die pad bespeur.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X