My ouma in kaneel

SUNNYSIDE BO

My ouma in kaneel

Die kunstenaar HENK SERFONTEIN skryf oor die magiese melkterte van sy ouma Anna Ziezanna Dirktiena Briedé van Sunnyside, kaneel as antidepressant en hoe vroue bak om te vergeet.



IN Langstraat is daar 'n vrou met 'n liefdevolle lyf wat al vir 13 jaar melkterte bak. Hulle staan op die vensterbank langs die hipster-barbier Widowmaker en wanneer ek na die terte kyk, verlang ek na my ouma en die Sunnyside van my jeug.
Dit was in Sunnyside waar ek by Sterland gaan ysskaats het en ná die tyd pienk double-thick melkskommels by die Wimpy gaan drink het. Sunnypark was aan die onderpunt van Esselenstraat, met die Bronberg-kerktoring op die ander punt, wat die aar van straataktiwiteite met mekaar verbind het. Esselenstraat het gelyk soos David Goldblatt se  foto van Truworths in Boksburg.
My ouma Anna Ziezanna Dirktiena Briedé het agter die kerk in Bronberghof met sy ry akkerbome gewoon. Dat sy 90 kon word met daardie gewigtige rits name bly vir my 'n demonstrasie van die wil van die menslike gees. Sy was 'n eersgeborene met die van Du Plooy en in 1910 het haar pa, wat seker heimlik gehoop het dat sy 'n seun sou wees, besluit om die repertoire van familiename te verbreed met die verbuiging van Dirk na Dirktiena. In die tyd waarin ons leef, met 'n bewussyn van die vloeibaarheid van gender, sal mens dit sekerlik kan beskou as 'n vroeë vorm van gender bending, maar ek dink dat dit eerder dui op die punt van die patriargie-onderrok wat uitgehang het. 
Vir my was Anna Ziezanna Dirktiena Briedé slegs my ouma Anna met die sagte borste, silwergrys hare en die fish-eye brilraam. Die een wat vir my Beacon Sparkles en R1 sakgeld in 'n deurskynende plastiek-banksakkie van Volkskas in die hand gestop het. Wanneer sy haar voordeur op die derde vloer oopgemaak het, het dit geruik na Moir's vanilla. Sy het sweet peas en ranonkels op haar stoep gekweek. In Oktober kon ek vanaf haar stoep na die donskombers van bloupers jakarandas kyk, en haar geel budjie het luidrugtig “Sy's 'n perskeblom" begin fluit wanneer ek gaan kuier het.
Haar buurman was die plantkundige Keith Kirsten, lank voordat hy beroemd geword het. Daar was ook 'n Nederlandse kunstenaar in die blok. Jan Gijsbers het vir jare by haar vlerk gesleep, maar van hom wou sy niks weet nie. Ek kan sy gedetailleerde pointillistiese inktekeninge baie goed onthou. Hy het gespesialiseer in sketse van sublieme uitgestrekte landskappe. Hy het oor en oor watervalle geteken, Watervalboven om presies te wees.
Met Keith se hulp het my ouma geleer om steggies van African violets te maak. Op die vensterbank in haar kombuis, waar lig vrylik gevloei het, het hulle in 'n ry gestaan en wink vir die Uniegebou. My helderste herinnering bly egter daardie magiese moment wanneer sy kaneel oor die louwarm melkterte gepoeier het. Dit het my verplaas na die magiese realisme van 'n Reza de Wet-toneelstuk met sterk rolle vir vroue, soos in haar klassieke Drie Susters Twee.
Ná my ma, die middelsuster van drie, se voortydige dood, net drie jaar ná ouma Anna, het ek die familiekookboek geërf. Wanneer ek na die vroue in my familie verlang, blaai ek soms daardeur. Ek onthou my ma se beestert en sampioensoufflé, asook ouma Anna se gerookte-snoektert, karringmelkbeskuit en korslose melktert.
Op die voorkant van die selfgemaakte kookboek staan daar in Bic-blou die woord RECEPTE, wat vir my lyk na 'n vreemde verbinding van Hoog-Hollands en Afrikaans. Effens na onder val my oog op die woorde “Unie van Suid-Afrika". Die blaaie binne is los, verinneweer en gevlek met selfs hier en daar oorblyfsels van meel. Die boek is deurgevat en deurgebak. Dis die kulinêre dagboek van my jeug, 'n familie-album waarin daar tog ook geheime opgesluit lê.
Weggesteek agterin die boek is daar resepte vir verkoues en rumatiek en een vergeelde artikel met die titel “ONS MOEDERS" in hoofletters.
Die eerste paragraaf van ONS MOEDERS begin só: “Ja, jy kan maklik praat. Jy weet nie hoe swaar dit is om 'n atmosfeer van liefde en geluk te skep as die vader 'n drinker of uithuisige is wat nie wil saamwerk nie en sy afleiding elders soek."
In 'n enkele paragraaf spel dit die sondes van my voorvader, John George Briedé, uit, die een wat begrawe is in die vlootbegraafplaas net buitekant Simonstad met die asemrowende uitsig oor Kaappunt. Van sy graf af kan jy die skepe in die hawe hoor. Sy granietsteen vertel nie die verhaal van die man met die Brylcreem-kantpaadjie nie, die een wat wanneer hy nie op see was nie, die alkoholis-pianis was in die kroeg by die Glencairn Hotel.
Dit was 'n moeilike, Tsjechof-agtige huwelik wat geëindig het met John George wat sy stem 'n paar maande voor sy dood op 53-jarige ouderdom verloor het as gevolg van 'n keelkankeroperasie wat skeefgeloop het.
Ek glo dat ouma Anna, soos so baie Afrikaanse vroue, haar stem gevind het ná haar man se dood. Met die hulp van buurman Keith het sy 'n oerwoud met sade, steggies en bolle op haar stoep met die uitsig oor Esselenstraat gekweek. Haar leeubekkies se mondjies het gegrinnik vir die son en sy het haar verdiep in haar nostalgiese kookkuns.
Daar was die karringmelkbeskuit en three-spice soetkoekies met kaneel, naeltjies en gemmer waarmee sy in haar jaarlikse pelgrimstog na die Kaap in die Trans-Karoo-trein afgelê het. Vir twee dae was daar 'n kompartement vol koekies en beskuit wat aangedoen het by die stasies van Beaufort-Wes, Matjiesfontein, Rawsonville en Worcester voordat dit Tafelberg bereik het.
Haar gebak was altyd swaar op een spesifieke bestanddeel, naamlik kaneel. Haar voorliefde vir kaneel het vir my sin begin maak toe ek jare later lees van die anti-inflammatoriese eienskappe van die spesery, die feit dat dit bloedsuiker stabiliseer en dat dit gereken word as 'n natuurlike antidepressant.
In die Kaap het sy jaarliks John George se graf net buitekant Simonstad besoek en sy het my eenmaal vertel hoe sy 'n paar three-spice soetkoekies op sy graf gaan neersit het. Ek het haar nooit uitgevra oor hoekom sy dit gedoen het nie. Ek onthou wel hoe sy daarna, met haar terugkoms in Sunnyside, in byna Ou Testamentiese taal aan my verklaar het, ouma murmereer nie meer nie.
Wanneer kaneel neersif op 'n melktert, herinner dit my aan 'n reënbui wat uitsak op 'n droë rivierbedding in haar geboortedorp, Hopetown in die Karoo.
Ek onthou ouma Anna en hoe sy gebak het om te vergeet.
Anna Ziezanna Dirktiena se Sunnyside-melktert
3 eiers2 eetlepels botter, gesmelt1 koppie suiker1 teelepel bakpoeier'n knippie sout1 koppie meel4 koppies melk1 teelepel Moir's vanillakaneel
Skei die wit en geel van die eiers en klits die wit van die eiers tot styf. Smelt die botter en meng met die suiker en geklopte eiergele. Voeg die bakpoeier en knippie sout by die meel en meng dit dan met die eiermengsel, melk en vanielje-ekstrak. Voeg laastens die geklopte eierwit by die melktertbeslag en klop goed met 'n handklitser.Vul 'n gesmeerde tertpan met die beslag. Bak vir ongeveer 25 minute by 175 °C.
Laat die tert afkoel en strooi kaneel mildelik oor.
Nooi 'n verlore geliefde en sit snytjies tert voor op jou beste Regent Bone China.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.