Wildewragtig-renjaer Jody Scheckter boer sta-a-a-adig vorentoe

BAAS VAN KAAS

Wildewragtig-renjaer Jody Scheckter boer sta-a-a-adig vorentoe

Op 'n Engelse plaas in die groen heuwels van Hampshire is die voormalige Formule Een-wêreldkampioen Jody Scheckter deesdae die baas van kaas. Daar het hy met ADRI KOTZÉ gepraat oor sy mozzarella, waterbuffels en biodinamiese boerdery. En hoe hy haat om te verloor.


HY was die wildewragtig-renjaer van Oos-Londen met die woeste krulle en diep frons wat net een ding geken het: Gee vet. Vinniger. Voet-in-die-hoek.
Sy teenstanders het gesê diė haastige “mal man van Suid-Afrika” is so vreesloos – en dalk selfs roekeloos – dat hy 'n gevaar op die renbaan is en verban moet word, maar op 29 was Jody Scheckter die Formule Een-wêreldkampioen.
Veertig jaar later mik “Sideways” Scheckter weer na ʼn wêreldtitel: Die Kampioen van Kaas. In die Grand Prix van buffelmozzarella.
Nogal in Italië, die tuiste van Ferrari.
Dié slag gaan hy téén die Italianers meeding, in die Campagnia-streek. Dit is die hart van buffelmozzarella-wêreld.
Scheckter, Oos-Kaapse aksent en Suid-Afrikaanse paspoort en al (hy het steeds nét die groen mamba, sê hy) is die baas van 'n plaas in die suidooste van Engeland wat een prys ná die ander vir sy produkte inryg.
Die geheim van sy mozzarella se sukses, sê hy, lê in die afwesigheid van haas. In langsaamheid, dus.
Alles – plante en diere – groei op hul tyd op sy Laverstoke Park Farm in die groen heuwels van Hampshire.
Niks word aangejaag nie. Alles volg die pas van die natuur.
Behalwe Scheckter self, wat op 69 niks van sy spoed – of energie – verloor het nie. Ons moet vinnig praat, beduie hy in sy kantoor met die spierwit mure op die plaas. Hy het dinge om te doen. ('n Afvaardiging van Mercedes-Benz hang buite rond. Hulle lyk effe angstig.)
“Kyk,” verduidelik hy die agtergrond van die mozzarella-kompetisie. “Dis eintlik vir die pret. Maar die probleem met my is dat ek baie mededingend is. So ek gaan om te wen.”
Die plaas
Daar is 'n agttiende-eeuse herehuis op Laverstoke Park Farm, wat strek oor 2,500 acre: net oor 'n duisend hektaar of 1,200 sokkervelde dus. (Die gemiddelde plaas in die suidooste van Engeland is 86 hektaar groot.)
Nie dat daar enigiets gemiddeld aan die plaas is nie: Hier wei troppe Asiese waterbuffels neffens die kampe met Hebrideense oerskape. Die 24 Angus-beeste is klein, met plat rûe soos in ou prente, en is nie gekruis met 'n ander ras nie. Daar is net 'n stuk of 200 van hulle in die wêreld. Ook die Herefords is nie gekruis nie.
Netjies geteerde paaie lei na wingerde en, uiteraard, 'n renbaan. 'n Reuse-komposhoop van by die drie hektaar verwerk groen afval – ook dié van plaaslike rade – in 'n kompos-tee.
Scheckter en sy Engelse vrou, Clare, het in 1996 hier 'n redelik beskeie 530 acre gekoop. Sy het vir hom 'n boek gegee oor organiese boerdery en Scheckter, 'n selferkende fiksheidsfanatikus en smulpaap, het begin navors. Miskien obsessief, erken hy.
“Ek wou die lekkerste, gesondste kos vir my en my gesin verbou. Dit was 'n stokperdjie.
“En toe besef ek as ek 'n koei slag, gaan ek agt weke lank die vleis moet eet. Ek was nie lus dáárvoor nie.”
Hy moes die vleis verkoop, het Scheckter besluit.
Die stokperdjie het handuit geruk.
“Ek het die plaas langsaan gekoop en eintlik glad nie geweet wat ek doen nie. So ek rig toe 'n fabriek op, want ek wou vier verskillende soorte kaas maak.”
Scheckter het oor die wêreld heen gereis en lesings oor boerdery bygewoon. Hy het boeke uit die vorige eeu gekoop, kundiges van Suid-Afrika, Australië, Nederland geraadpleeg en na Hampshire gebring.
“Ek sê altyd ek was ryk en dom. Nou is ek arm en slim, want ek het nie geweet wat ek doen nie. Ek het vyf fabrieke hier begin. Ek het tot die uiterste oorgegaan: 'n navorsingsentrum gebou, 'n doktor in mikrobiologie gekry, 'n doktor in chemie wat grond bestudeer … dieselfde wat ek in Formule  Een sou gedoen het.
“Ek wou dit beter as enigiemand anders doen. Dis die siekte wat ek het.”
Renjaer tot sakeman
Die nuwe boer se F1-dae was lank reeds verby. In 1980, die jaar nadat hy wêreldkampioen geword het, het hy sy uittrede ná 'n teleurstellende seisoen aangekondig.
Toe begin hy 'n nuwe onderneming “om die kombuistafel” in Amerika. Hy het 'n advertensie vir wapenopleidingsimulators gesien en binne 'n jaar is FireArms Training Systems, of FATS Inc, gestig.
Die Amerikaanse Marinierskorps het 'n kliënt geword; kontrakte in Engeland en Nederland het gevolg. “Ons was in 35 lande en het 95% van die wêreldmark besit. In die laaste jaar was ons omset $100 miljoen.”
Die renbaan het hom nie weer gelok nie: In sy tyd in Amerika het hy tien jaar lank nie 'n enkele Grand Prix bygewoon nie.
“ 'n Mens moet nooit terugkyk nie, altyd vorentoe.”
“Vorentoe” was 'n plaas wat, soos elke boer weet, 'n bodemlose put kan wees. Veral as jy voortvarend is en alles vínnig wil maak werk.
Dis alles in die grond
Op Laverstoke Park Farm is die boerdery biodinamies, verduidelik Scheckter. Die plaas is ook as organies gesertifiseer.
(En nee, die gerug is nie waar dat hy vir prins Charles raad gee nie. Dié is meer outyds organies; daarenteen gebruik Scheckter die modernste tegnologie wat hy in die hande kan kry. Maar ja, hulle het dit al bespreek, erken hy.)
“Diere en plante wat stadig groei, is gesonder en proe beter. Dít is die sleutel tot biodinamiese boerdery.”
Dit is waarom hy tradisionele rasse aanhou: Hulle is kleiner, groei stadiger en smaak lekkerder, verduidelik Scheckter. Hulle kry geen groeihormone of antibiotika nie en word nie been- of vismeel gevoer nie.
“Die ander sleutel is biodiversiteit. Ek wou diversiteit hê. Daar is 31 verskillende soorte kruie, klawers en grasse in my gras.”
Dit is dié mengelslaai van gras, sê hy, wat die waterbuffels se melk ryker en beter maak.
Die wortels van biodinamiese boerdery is in 'n beweging wat in 1924 deur die Oostenrykse filosoof Rudolf Steiner begin is: Die idee is dat die plaas 'n eenheid is waarin alles saamwerk. Só volg die plantseisoen die maansiklus – of in elk geval in watter mate die Britse klimaat dit toelaat.
Die gehalte van die grond is vir Scheckter die belangrikste element: 90% van 'n boerdery se sukses word deur die grond bepaal. “Deur die bakterieë en fungi in ons grond aan te vul, help dit plante om die voedingstowwe te absorbeer. 
“As jou grond gesond is, sal dit die meeste probleme oplos.”
Waterbuffels 
Die bure hét nogal gedink hy is bietjie getik toe hy die waterbuffels Hampshire toe bring, sê Scheckter. Hy het nou die grootste trop in Engeland; oor die 1,500.
Hulle is ook óú waterbuffels en hy het hulle gekies vir die gehalte van die melk (al lewer hulle net omtrent die helfte soveel melk as beeste, is dit ryker en romeriger).
Die waterbuffels is soos troeteldiere, vertel James Cranham-Ryder, die plaasbestuurder, terwyl hy een se kop krap.
“Ek ken elkeen van hulle en hulle ken my. Hulle is baie gemoedelik.”
Die bul, wat van Italië ingevoer is, heet Giuseppe.
Soos 'n trotse pa wys Cranham-Ryder later hoe die buffels na die moderne melkstal, waar ligte popmusiek hulle help ontspan, aangestap kom. “Hulle is so intelligent.”
Van die buffelmelk word roomys en kaas (ook cheddar en gouda) gemaak. Die mozzarellafabriek is op Laverstoke Farm ontwerp en gebou en is die enigste in sy soort in Engeland.
En terwyl die Italianers hul mozzarella met die hand bearbei en trek, word alles hier met die nuutste tegnologie gedoen.
Die mozzarella word in onder meer die supermarkgroep Waitrose verkoop en is 'n gunsteling van TV-sjefs soos James Martin.
Laverstoke Pilgrim’s Lager is al as Brittanje se beste organiese lager aangewys, die vonkelwyne wen een prys op die ander en word in Fortnum & Mason verkoop.
Haat om te verloor
Om pryse te wen, beteken egter nie 'n boer maak geld nie. Vir 17 jaar het die plaas 'n verlies gely; verlede jaar het hy gelyk gebreek en vanjaar is daar 'n beskeie wins.
“Ek het te veel aangepak. Ek het agt maatskappye terselfdertyd begin. In 'n stadium het ek 120 produkte gehad in Ocado ('n aanlyndiens wat kruideniersware aflewer en gewild is onder middelklas-Engelse).”
Hy moes éérs die mark gevind het en toe die fabrieke gebou het, sê Scheckter met 'n wrang laggie.
Hy het afgeskaal, gefokus op minder produkte. Buffelbiltong is een van die lekkernye wat in die slag moes bly. 
“Miskien moes ek tien jaar terug opgegee het hier, maar ek het nie.
“Ek het nog altyd gesê deel van my sukses is nie net dat ek daarvan hou om te wen nie. Dit is omdat ek dit so haat om te verloor. Die vrees vir mislukking was nog altyd my grootste dryfveer. Ek hou nie daarvan om op te gee nie. Ek moes dit maak werk want ek wou nie misluk nie.”
Plasie buite Somerset-Wes
In Italië, sê Scheckter later in 'n verklaring, het sy “aggressiewe en mededingende” aanslag in die oop arms van die kaasmakers verdwyn.
Die Konsortium van Mozzarella di Bufala Campana, wat die grootste mozzarellavervaardiger met 10,000 waterbuffels insluit, was sy gashere.
Sideways Scheckter was heeltemal in beheer.
Die Italianers was baie beïndruk deur die Engelse mozzarella en buffelmelkroomys – en vir hom was dit “wonderlik om te sien hoe trots hulle op hul produkte is”.
Met 'n Italiaanse nederlaag afgeweer en Laverstoke Park Farm 'n sukses, is Scheckter se volgende projek 'n “pragtige klein plasie” in die berge buite Somerset-Wes waar bouers aan die wikkel is om 'n grasdakhuis klaar te kry.
“Ek gaan probeer om tien dae in elke twee maande daar te wees. En in Desember die hele maand.”
Dit gaan beslis nie 'n kommersiële boerdery wees nie. Maar hy gaan elke vrugteboom plant wat hy in die hande kan kry.
Scheckter het reeds 'n huis in Clifton.
“Ek wil gaan visvang. As mense my vra wat is my nuwe loopbaan, gaan ek sê dit is op die strand. Dís my loopbaan.”
* Hooffoto: Jody scheckter by sy waterbuffels. VERSKAF DEUR LAVERSTOKE PARK FARM.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.