’n Plain Jane-sjokoladekoek vir ’n nuwe generasie

VERJAARDAE

’n Plain Jane-sjokoladekoek vir ’n nuwe generasie

Hou maar die toffieversiersel wat soos 'n paaldanser by die koek afgly, 'n narsistiese polkadotkoek of punt-in-die-wind-sjokoladeskerwe. Vir sy verjaardag wil HENK SERFONTEIN 'n doodgewone sjokoladekoek hê met 'n vulsel van Caramel Treat en appelkooskonfyt en 'n dik laag karamel op die kroon.

'n PARTYTJIEDIER was ek nog nooit, maar soms swig ek wel voor 'n uitnodiging na 'n verjaarsdag en bevind ek my dan dikwels onder 'n kandelaar met 'n pienk G&T in die hand. Daar is dalk selfs 'n uitsig oor die Groenpunt-stadion en 'n hemelkrans van lig om Robbeneiland in die verte. Mense groet mekaar hartlik op sulke partytjies in boere-Frans op die wange, maar in my agterkop broei daar die wete dat my eie verjaarsdag naderkruip en dít is 'n dag wat ek waar moontlik probeer vermy.
In die werklikheid het ek al die kuns verfyn om soos 'n goëlaar te verdwyn. Soveel so dat daar al legendes rondloop oor waar ek my op die dag kan bevind. My onwilligheid om mee te doen aan die viering het te make met my ingewikkelde verhouding met daardie pièce de résistance van die dag: die verjaardagkoek. 
Ek is 'n maand te vroeg gebore in 'n hospitaal in Pretoria met die naam wat herinner aan 'n oorlog: 1 Militêr. Om drieuur die oggend het ek besluit hier moet ek uit en só is daar nog 'n boogskutter die wêreld ingestuur.
Ek het my pyle vir jare wild en wakker rondgeskiet in Verwoerdburg, maar op 16 na die antwoorde van die lewe begin soek. Omdat die kerk so onbetroubaar was, het ek my na die sterrestelsels gewend. Die Chinese sterrestelsel is by die Melkweg gevoeg, en só het ek agtergekom dat wanneer ek die woorde “metal pig" google, ek 'n baie akkurate beskrywing van my persoonlikheid kon kry.
Die vakuum wat die menslike kondisie laat, kan op verskillende maniere gevul word. Een daarvan, het my ma geglo, is om die leegte te aktiveer met 'n buitengewone koek.
Sy het probeer. Daar was die rugbyveldkoek wat sy vir my gebak het met die groen klapper op die veld en Liquorice Allsorts-mannetjies vir spelers. Hulle is met tandestokkies op die koek regop gehou in iets wat in 'n spykertafel-diorama omskep is.
Dit was in die tyd toe my pa, fluitjie in die hand, 'n kunsvlug as rugbyskeidsregter op Loftus gehad het. Hy het toe nog ambisies vir sy seun as flank gehad. Ek dink my ma het meer visie gehad en besef hierdie seun van haar sal hoogstens 'n tennisbaan haal.
Die tennisbaan was dan ook haar oplossing vir die probleem en inspirasie vir die volgende verjaarsdagkoek. Dit was in die tyd toe Martina Navratilova op Wimbledon teen Chris Evert meegeding het, en John McEnroe se kort humeur en indrukwekkende backhand van hom 'n superster gemaak het.
Ek het my enigste sporttrofee in my lewe by die tennisklub gewen vir Best Court Manners. Ek het op 'n podium gaan staan en my ma se hart het ontplof van trots oor haar klein gentleman se prestasie. My tennisbaankoek was dus 'n heel toepaslike een met 'n ambisieuse tweede laag en heelwat groen kleursel vir effek. Dit was so mooi, dit kon 'n reënboogkoek in die stof laat byt het. My ma het met kalkwit versiersuiker op die groen klapper 'n embleem van twee ineengevlegte rakette bo-op die koek geskep. Die snare was styf gespan en die partytjie was 'n suksesvolle Grand Slam. Ons sosiale krediet in suburbia het die hoogte ingeskiet. Ons het uitnodigings begin ontvang na garagepartytjies in die buurt, en televisie is saam met springmielies by die bure gekyk.
Die jaar daarna was daar 'n lelike insident in November toe ek Walja se Barbie in Chris Hougaartstraat gegaps het. My ma se volgende verjaarsdagkoek in reaksie op die skandaal was 'n cowboys-en-crooks-koek. Die koek is gebeeldhou in die vorm van 'n cowboyhoed met 'n sierlike band van hundreds and thousands en 'n sheriff-wapen as fokuspunt. Daar was rooi en blou versiersuiker en vrolike partytjiehoede van sneespapier in kanariegeel en grasperkgroen. Die blou heliumgevulde ballonne is met toutjies aan die tafel vasgemaak. Die hoogtepunt van die dag was toe ons hulle losgelaat het om in die lug weg te sweef soos duiwe. Die ballonne het gelyk soos gewiglose onderstebo druppels teen die hemel. Wie sou kon raai dat trane kon sweef?
In 'n onverwagse wending het 'n maatjie wat ek skaars geken het, my naby die turksvybos met 'n waterpistool in die oog geskiet. Ek het my cowboyhoed afgehaal, 'n dik sny koek gegryp en in die kamer tussen my Huisgenoot-plakkate gaan lê. Ek het my dubbelblad-John McEnroe-plakkaat met een oog in die oë gekyk en gedink: Ek weet hoekom jy rakette breek. Die partytjie was verby.
Soms stap ek in Kloofstraat af en neem myself uit vir koek en tee. Ek gaan sit by 'n venster met 'n uitsig op Tafelberg. By The Pepper Tree Deli is daar gebak met toffieversiersel wat sylangs van die koeke afgly soos 'n verleidelike paaldanser. Daar is die narsistiese polkadotkoek met die grandiosity complex en sjokolade-ganache en punt-in-die-wind-sjokoladeskerwe. Van hulle bly ek ver weg.
Die toonaangewende koek in Kaapstad op die oomblik is die drielaag Belgiese sjokolade-gedoente met die drie lae en sout-skietmielies bo-op. Ek eet soms 'n stuk daarvan en verlang na eenvoudiger tye.
Wanneer daardie nostalgie na die eenvoudige intree, haal ek die familiefoto's uit wat ek in 'n koekblik bêre en kyk daarna. Wie is die mense op hierdie foto's wat ek glad nie kan onthou nie? Ek lyk so ontuis en verwilderd.Ek vermoed dat my ma se groot dilemma die feit was dat die skole al gesluit het wanneer ek verjaar. Al die maatjies was al doenig met sonskyn, see en Chevrolet in Durban op die metaalvark se groot dag. My arme ma moes raap en skraap vir 'n gehoor by die partytjie in Wierdapark. Die gevolg was dat ek skaars die mense geken het wat sy genooi het. 'n Spookpartytjie waar almal maskers dra, sou miskien die kreatiewe oplossing vir die probleem gewees het. Ons kon Ghost Pops eet en wegkruip in die rotstuin met oë wat gloei soos pampoene tydens Halloween.
Toe ek uiteindelik 'n tiener word met ’n voorliefde vir Chopin-nokturnes en die twyfelagtige prestasie van slegs een rugbywedstryd as haker op my CV, het my ma 'n soort koekdemokrasie begin bedryf. Ons kon self ons verjaarsdagkoeke kies. Tot haar groot verbasing het haar kunssinnige seun 'n plain Jane-sjokoladekoek versoek. Daardie gewone een sonder die tierlantyntjies met die blikkie Caramel Treat in die maag bo-op 'n membraandun lagie All Gold-appelkooskonfyt, afgerond met nog 'n dik laag goddelike karamel op die kroon. Fit for a queen.
Die onopgesmukte buurvrou, tannie Elize, het tot ons redding gekom. Sy was 'n voorslag-koster en rekenmeester by die kerk wat seker gemaak het dat daar nie 'n sent van die kollekte verdwyn nie. Sy was 'n ferm vrou met 'n oog vir syfers wie se boeke geklop het. Buiten die syfervaardigheid het haar krag in haar sjokoladekoek gelê. Haar resep het soos 'n veldbrand in Verwoerdburg versprei. Dit was 'n onfeilbare een wat my ma tot haar dood gebak het.
Die laaste koek wat my ma vir my gebak het, was die een in 2002. Sy het ses maande daarna gesterf. Die groot K het haar geneem. Ek het 'n pienk wildemalvablommetjie op haar bors neergesit en die aand in die kombuis na haar tussen die koekblikke gaan soek. Ek het een van die laaste koekies wat sy gebak het, opgeëet en alleen gaan slaap.
Twee weke ná haar dood het ek haar koekblikke aan die hospieswinkel geskenk en uit ons gesamentlike huis getrek. Op 30 het ek 'n nuwe lewe in Loopstraat in Kaapstad begin. My eie eerste woning was 'n loft naby Adult World met ’n uitsig oor Groenpunt, maar dit het nie vir my gewerk nie. Ses maande daarna het ek op met die berg na my geliefde woonstelblok toe getrek: 'n Mount Nelson-pienk Art Deco met 'n uitsig oor Leeukop. Die argitektuur het herinner aan 'n skip wat pas 'n nuwe hawe aangedoen het, met as bonus die wonderlike nuwe buurvrou, Elmi. 
Die week voor my eerste amptelike weeskindverjaardag het 'n ligte melankolie my oorval. As jou ma sterf, verloor jy jou huis. Ek het op my geboortedag wakker geword en besef ek moet koekloos kophou en alleen deurdruk. Ek het 'n gewone koppie rooibostee vir myself gemaak, by my venster gaan staan en gekyk na die mis wat soos gepluiste watte op Leeukop gaan lê het. Kort daarna was daar 'n klop aan my deur en iemand wat roep: “Hello, neighbour!” Ek het die deur oopgemaak en daar staan Elmi met 'n plain Jane-sjokoladekoek. Een met Caramel Treat en 'n paar kersies. Ek het die vlammetjies doodgeblaas en gehuil van geluk.
Dit het gevoel soos huis.
Tannie Elize se plain Jane-sjokoladekoek

4 eiers
1 koppie suiker
½ koppie warm water
½ koppie kookolie
1½ koppie meel
2 teelepels bakpoeier
1 teelepel sout
2 eetlepels kakao
1 teelepel vanieljegeursel

 ..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X