Portugal en Griekeland: op reis na ’n huis

REISAGENT, HUISAGENT

Portugal en Griekeland: op reis na ’n huis

Om 'n vreemde stad vinnig te leer ken, is jou beste toergids ’n eiendomsagent. Die vervoer is gratis, die gids is kundig en as alles glad verloop, sal jy dalk teen die einde 'n eiendom besit. Of ten minste ’n belastingnommer in ’n vreemde land hê. ANNELIZE VISSER het in Suid-Europa na huise gaan kyk.


OP ’n sonnige oggend in die stad Coimbra in Portugal hou ’n blinkswart motor voor die verslete maar steeds elegante Astoria-hotel stil. Agter die stuurwiel is Henrique Arrifano, ’n eiendomsagent, en langs hom ’n kollega wie se naam my ontgaan, maar wat sterk op Morticia Adams trek. Op die agterste sitplek is Henrique se meisie, ’n apteker wat ’n dag verlof geneem het om as tolk op te tree. Ons skuif langs haar in.
Ons bestemming lê ‘n paar blokke anderkant Coimbra se groot en gerekende universiteit wat uit die dertiende eeu dateer en onder die tien oudste universiteite in die wêreld getel word. Maar die huis waarheen Henrique ons neem, is splinternuut.
Dit behoort aan ’n piloto de corrida, vertel Henrique – ’n renjaer, sê die tolk – en moedig ons aan om die ondergrondse garage met staanplek vir agt motors te bewonder.
Die vermoede dat Henrique ons nie regtig verstaan nie, word bevestig wanneer ons kort daarna ’n lieflike uitsig oor die stad geniet vanuit ’n moderne woonstel in ’n toringgebou in Coimbra se buitewyke.
Die gebou staan al lank leeg omdat die ontwikkelaars kort na dit voltooi is bankrot gespeel het, en dis ’n winskoop teen die vraprys van 100 000 euro. Dis ligjare ver van die landelike kliphuise en lemoenboorde in die Coimbra-provinsie waaroor ons maande lank voor dié reis gesug het.
Onderweg van Lissabon via Sintra en Obidos, verby verlate kliphuise waarvan net die mure nog staan, het die landelike egter heelwat sjarme ingeboet, en het ons fokus van die platteland na die stad Coimbra self verskuif.
Op pad terug na die Astoria vertel die apteker dat Coimbra se ekonomie hoofsaaklik van studente en mediese toerisme afhanklik is. Dis  ’n uitstekende bestemming as jy byvoorbeeld plastiese chirurgie met ’n vakansie in Suid-Europa wil kombineer: ’n Nuwe neus kos hier omtrent 70% minder as in Amerika.
Die wêreldklas-vrugbaarheidsdienste diskrimineer glad nie teen gay paartjies nie, en as jy ’n plaaslike spermbank gebruik, keer jy boonop met ’n soewenier uit Portugal terug huis toe.
’n Dag later, net ure voordat ons in die pad val na die Pousada de Estremoz naby Evora, het ons ’n afspraak met Cláudia Marques, wat in die koop-herstel-en-verhuurmark spesialiseer.
Geen teken van ’n blinkswart motor nie: Agter die stuurwiel van ’n skedonk waarvan party deure nie kan oop nie sodat jy noodgedwonge oor die ratkas moet klouter om jou sit te kry, lyk Cláudia meer soos ons kerk se mense. Ons is ook gesellig naby die breë wandelstraat wat deur die stadskern loop, en die Mercado, die munisipale mark.
Die nagevolge van ’n langdurige resessie is hier nog sigbaar. Dit het in 2003 begin, in 2008 vererger en eers in 2015 met die afskaffing van streng besuinigingsmaatreëls ’n keerpunt bereik. Die ou stad se ekonomiese herstel word boonop belemmer deur ’n blinknuwe winkelsentrum, Forum Coimbra, oorkant die Mondego-rivier.
Dis moeilik om te glo dat die rotgeteisterde bouval waarheen Cláudia ons lei in leefbare studente-akkommodasie omskep kan word sonder om die ding eenvoudig plat te slaan. Om te vergoed vir ons gebrekkige verbeeldingskrag, neem Cláudia ons na ’n gebou daar naby waar ’n bouspan besig is met afrondingswerk aan ’n sondeurdrenkte studentekommune wat uit ’n ewe vervalle gebou verrys het.
Ons sal daaroor dink. Dalk net nie vreeslik lank nie.
Ons was nou wel nie binne-in die Machado de Castro-museum of die Santa Cruz-kerk nie (darem by ’n kafee langs laasgenoemde ’n bier gedrink), maar ons het die stad in minder as drie dae behoorlik leer ken, stem ons saam op pad na ons kasteelverblyf naby Evoria.
Daarvandaan steek ons die grens oor na Seville, en van Seville weswaarts na die Algarve, Portugal se suidkus wat deur die eilandstelsel van die Ria Formosa-strandmeer afgeskort word. Dis ’n gewilde bestemming vir vakansiegangers en spog met meer as 200 voëlsoorte.
Die Algarve is ewe gewild onder buitelandse kopers met die oog op die sogenaamde goue visum waarmee jy deur middel van ’n eiendomsbelegging van minstens 350 000 euro, ’n verblyfpermit kan bekom.
Olhao (die h klink soos j) waar ons per toeval beland, is nie so oorbevolk of so duur soos byvoorbeeld Lagos, Albufeira of Tavira nie. Altans nog nie. Daar is gevolglik meer eindomsagentskappe as roomyswinkels, en die te koop-advertensies in die uitstalvensters kan jou letterlik dae lank besig hou.
Henrique Rocha, wat ’n suksesvolle loopbaan by ’n bank in Lissabon prysgegee het om die eiendomsgolf in die Algarve te ry, vergesel ons te voet na ’n huis wat te na aan die treinspoor is, en te ver van die see. Te ver om te stap tot by Olhau se beroemde rooibaksteen-Mercados waar jy reeds douvoordag vars vis, vleis en groente kan koop. Wat die huis nog kort: die dakterras wat ’n kenmerk van die kubistiese argitektuur in die ou stad is en die gewelfde plafon wat aan die Moorse invloed te danke is.
Huis nommer twee het ’n terras, gewelfde plafonne en die binnemure is versier met oorspronklike azulejos, die dekoratiewe teëls wat jy oral in Portugal raakloop. Maar dis ook propvol lae rommel wat oor dekades in huishoudings opgegaar word, en die kantgordyne het in geen jare seep en water gesien nie.
Huis nommer drie het azulejos op die buitemuur, twee terrasse, ’n koepel van ’n plafon, en is bedagsaam opgeknap deur iemand wat hou van vergulde spieëls en perspeksmeubels. Die vraprys is 130 000 euro. Ons sal daaroor slaap.
Steeds besluiteloos teen die tyd dat ons via Lissabon moet terugreis huis toe, kry ons vir die wis en die onwis die papierwerk in orde wat vir huiskoop noodsaaklik is: ’n bankrekening en ’n belastingnommer.
Ons het nou wel nie met ’n boot op die Ria Formosa gevaar nie, en ons was nie binne-in die Cidade-museum of die Nossa Senhoras dos Aflitos-kapel nie (ons het darem oorkant die straat by Café Scala ’n bier gedrink), maar ná net vier dae voel dit asof ons Olhao van hoek tot kant ken.
OM met die oë van ‘n voornemende koper onder die vlerk van ’n eiendomsagent ’n plek te leer ken, is ’n vreemd intieme reiservaring. Jy beland in woonbuurte wat nooit in reisgidse gaan verskyn nie, kry toegang tot private wonings, staan op wildvreemdelinge se balkonne en kyk hoe die bure se wasgoed oorkant die straat wapper.
Met elke nuwe huis wat ter sprake kom, speel jou verbeelding met ’n nuwe leefwyse, word ’n heel ander bestaan in jou kop opgetower.
Presies een jaar later verskuif die soektog na Athene. Nie so halsoorkop soos in Portugal nie: Daar word dié keer vooraf reëlings getref met twee agente en verblyf bespreek in drie verskillende woonbuurte sodat ons die stad uit meer as een hoek kan beskou.
Andronikos Tsartsidis is ’n bekwame agent wat hom toespits op kandidate vir ’n goue visum en buitelanders wat eenvoudig ’n inkomste deur middel van verhuring wil verdien. Hy is bloedjonk, humorloos en bevooroordeeld teenoor immigrante, wat ironies is aangesien hy as kind uit Rusland na Griekeland emigreer het. Hy hou nie van “vuil” immigrante nie, verduidelik hy. Dit raak mettertyd duidelik wat hy daarmee bedoel. Andronikos is ’n rassis.
Hy koester egter groot verwagtinge van ’n kelderwoonstel in Kolonaki, ’n spogbuurt vol luukse winkels en trendy eetplekke. Teen ’n onderhandelbare 140 000 euro is dit ’n winskoop vir dié ligging. Maar ’n suigwaaier op die kombuistoonbank verklap die vangplek: Daar is oral vog in die mure.
Ons gaan kyk ’n tweede keer.
Ons sal daaroor dink.
Petralona (die klem is op die eerste a) net meer as twee kilometer wes van die Akropolis, is ’n belowende woonbuurt en ’n gewilde uithangplek vir kunstenaars en hipsters. Die woonstel twee verdiepings bokant Pandoroustraat is stylvol ingerig en ’n geraamde sertifikaat spog met die hoë puntetelling wat deur tevrede Airbnb-gaste toegeken is. Hy gaan op die lys.
Die maatskappy waarvoor Andronikos werk, koop ook verwaarloosde woonstelle in opkomende woonbuurte, knap hulle op en verkoop hulle sleutelklaar. Dié woonstelle is só goed toegerus dat jy net jou koffer hoef te bring. Hulle lyk ook almal eenders, met ’n dekorstyl wat net as onaanstootlik beskryf kan word. Andronikos straal behoorlik van trots.
Ons het intussen van die Plaka verskuif na ’n woonstel in Exarcheia, ’n berugte, sogenaamd anargistiese woonbuurt naby die tegniese universiteit. Anargiste het skynbaar heelwat op die hart, want letterlik elke muur is oortrek van graffiti, en wanneer hulle oproerig raak, is dit blykbaar die neiging om motors aan die brand te steek. Daar is baie immigrante, van die soort waarvan Andronikos nie hou nie.
Maar op die oog af lyk almal na gawe mense wat gereeld met hul honde gaan stap, en kos is die helfte goedkoper as in die Plaka.
Die aksie wentel om die taamlik armsalige Exarcheia-plein en op ’n hoek van dié plein is die beroemde Blou Gebou, ’n woonstelblok wat in die vroeë dertigs deur die Ciprioot Polyvios Michailidis ontwerp is en tydens die Tweede Wêreldoorlog gedeeltelik deur ’n Griekse weerstandsbeweging opgeblaas is om Britse troepe te verjaag en op die masjiengeweer wat op die dak gemonteer is, beslag te lê.
Skuins oorkant die Blou Gebou (wat nie meer blou is nie), is daar ’n woonstel te koop, en Andronikos, wat dit sien kom het, moet hom tussen die anargiste begewe om ’n besigtiging te reël. Sy uitspraak is kort en verdoemend: Die eienaar is skelm en die prys is te hoog. Hy is blykbaar nog effens gekrenk oor Kolokani.
Wanneer die ander agent aanmeld, voel ons half skuldig – asof ons agter Andronikos se rug rondvry. Dié keer verken ons die noordwestelike buurt, Attiki, en ’n paar verwaarloosde ouer woonstelle wat Andronikos se binneversierders nog nie beetgekry het nie. Dis reg langs die Pedion tou Areos-park geleë, waar ’n groot aantal immigrante en vlugtelinge tent opgeslaan het tussen die prostitute en dwelmslawe wat eerste hier was.
By wyse van kontras eindig die soektog voorlopig by ’n dakwoning bo-op ’n moderne kantoorgebou in Kifisia, ’n duur voorstad in die noorde van die stad. Daar is ’n enorme terras; vir ’n wyle rangskik ons denkbeeldige buitemeubels op die terras, spekuleer oor ’n sonskerm wat die hitte draaglik sal maak; dan groet ons Athene en ry noordwaarts deur omtrent 40 tolhekke tot in Thessaloniki.
Dié geboorteplek van die Griekse filosoof Aristoteles na wie die plaaslike universiteit vernoem is, is die naasgrootste stad in Griekeland en die land se kulturele en kulinêre hoofstad. Thessaloniki is ook deur en deur ’n partyjiestad: Meer as die helfte van die 1 miljoen inwoners is jonger as 29, en daar is meer kafees en kroeë per kop as in enige Europese stad.
Die pad terug na Athene, deur dieselfde 40 tolhekke, gaan gooi ’n wye draai op die eiland Sifnos, waar mens gou versadig raak aan lang wit strande en skilderagtige dorpies en gretig wag dat die veerboot die hawe van Kamares binnevaar.
Ons laaste adres in Athene is in Thiseio. Dis ’n stylvolle en plesierige woonbuurt omtrent regs langs die Akropolis, binne stapafstand van Gazi, ’n gentrifiseerde buurt met ’n industriële gevoel en loft-woonstelle wat ons nie kan bekostig nie.
Die woonstel wat ons dalk wel kan bekostig, is op die grondvloer van ’n gebou waar eenhede só vinnig en winsgewend verkoop is dat die ontwikkelaar selfs sy kantoor in ’n woonstel omskep het, met gemengde resultate en sy maatskappy se naam steeds teen die glasdeur geëts. Dit staan effens afsydig tussen verlate geboue oorkant ’n leë perseel waar uitgeteerde katte tussen rommelhope grou.
Dis waar ons Andronikos vir die laaste keer sien.
Al is daar nie ’n transaksie beklink nie het ons nietemin danksy ons krapperige Russiese gids deeglik besit geneem van Athene.
En ons het darem op ’n snikhete dag tot by die Parthenon geklim, ’n paar keer in die omgewing van die Agora-ruïne verdwaal, en op Filapappou-heuwel ’n bier gedrink, oor die stad uitgekyk en probeer raai of ons Kolonaki in die verte kon sien.
Naskrif: Kort na ons terugkeer het my reisgenoot ’n woonstel in Thessaloniki se Palea Paralia-woonbuurt gekoop. Hy is op hierdie oomblik by die IKEA-winkel ’n paar straatblokke daarvandaan besig om strooikussings uit te soek.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.