Waar sal my kos vandaan kom?

MAAI WAT JY SAAI

Waar sal my kos vandaan kom?

Met die mensdom wat steier onder leefstylverwante siektes en allergieë is dit hoog tyd dat ons minder kos uit fabrieke eet. Een van die maklikste maniere is om jou eie groente te kweek – op jou balkon, in die agterplaas of op die sypaadjie. Jy gaan ’n bietjie sweet, maar sal gesonder en gelukkiger wees, want tuinwerk is goed vir liggaam én gees. PETER VAN NOORD en JOHAN VAN ZYL, skrywers van Begin jou eie groentetuin, praat uit ervaring.

  • 17 Mei 2019
  • Vrye Tyd
  • 7 min om te lees
  • artikel 22 van 30
  • Peter van Noord & Johan van Zyl


ONS lees dit al jare in boeke en sien dit nou (weer) op TV: Die gort is behoorlik gáár in die kosbedryf. Nywerhede wat rooivleis, vis, hoender en melk produseer, en selfs kos wat byna geen verwerking nodig het nie – soos knoffel, heuning en grondboontjies – is vrot van die skelmstreke en knoeiery. En dit gebeur alles vanweë die mensdom se byna onblusbare drang om álle produkte álle tye van die jaar beskikbaar te hê.
’n Mens hoef nie weer The Omnivore’s Dilemma: A Natural History of Four Meals van Michael Pollan of My Year of Meat deur Ruth Ozeki te lees om hieraan herinner te word nie. Jy hoef ook nie Morgan Spurlock se dokkie Super Size Me of die reeks Rotten (tans op Netflix) te kyk nie. Ook hier in Suid-Afrika, waar die werklikheid van waterskaarste ons veral in 2017 soos ’n vuishou getref het, hoef jy net jou oë oop te maak om te verstaan presies hoe uit voeling ons met die natuur is.
Omdat ’n behoefte in die mark bestaan, word daar byvoorbeeld net nog sitrus- en avokadobome geplant, in verskillende streke en op verskillende hoogtes bo seespieël, sodat ons regdeur die jaar die vrugte kan pluk van iets wat voorheen onderskeidelik net in die somer en winter beskikbaar was. En as ons dit nie self kan kweek nie, voer ons dit in. Solank ons dit nóú kan eet.
In die proses word besproeiingstelsels onder enorme druk geplaas, water uit riviere gesteel en boorgate gesink asof daar geen einde is aan die vloeibare goud onder die grond nie. Op Calvinia, hoor ons nou die dag, weet boere al jare wat droogte is, maar hulle kon nog altyd oorleef omdat daar darem altyd iewers ’n boorgat met nog ’n bietjie water was. Maar nou is daar vir die eerste keer byna geen water in die Hantam oor nie. Byna de laaste boorgat is kurkhoringdroog. Kapoet. Gedaan.
Oor gifstowwe op ons kos praat ons nie eens nie. Ná die einste kuiertjie in die Hantam sien ons op pad terug Swartland toe, doer in Clanwilliam se wêreld, hoe etlike spuiters deur die boorde vol lieflike goudgeel lemoene kruie en bollings vol gif oor die bome laat neerdaal. Tot ons grootste verbasing het ons selfs gesien hoe ’n rooibosteelandery bespuit word . . .
Die waarheid is dat ons ondanks die mooi verpakkings in ons winkels nie eintlik meer ’n benul het waar ons kos vandaan kom of wat in die proses tussen die grond en die rak gebeur nie. Ons weet nie eens wanneer wat veronderstel is om in seisoen te wees nie!Waar begin ’n mens dus met jou deel om kosproduksie na normaal te laat terugkeer? Ja, jy kan hoenders aanhou en die eiers eet – en so elke dan en wan ’n gramstorige haan vir die pot slag. Sommige mense sal selfs ’n skapie of wat kan aanhou. Jy kan jou eie brood bak en jou eie kaas en jogurt maak. Jy kan ’n asynplantjie in die kombuis met oorskietwyn voer om jou eie top-asyn te maak en ’n suurlemoenboom plant. En ’n olyfboom, ’n avoboom, ’n amandelboom of wat.Maar die maklikste manier om ’n verskil te maak – en veral om seker te maak jy weet wat jy eet – is om jou eie groentetuin te begin. En nee, jy het nié ’n hele lap aarde, damme vol water of besproeiing daarvoor nodig nie – ’n liefde vir grond, tyd en geduld sal jou veel verder bring.
Waar begin ’n mens?
Dit maak nie saak nie. Begin net. Jy kan in ’n enkele bedding genoeg groente kweek om ’n gesin van vier te voed. Jy hoef ook nie alles te plant wat beskikbaar is nie; begin met die groente waarvan julle hou en wat julle gereeld eet. Dit is ook ’n goeie idee om kruie te plant. Dink hoeveel keer jy al ’n 20 g- of 30 g-pakkie vars kruie moes koop vir ’n teelepel tiemieblare of hoeveel pakkies slaaiblare jy slymerig in jou yskas ontdek het.
Die belangrikste is dat die ligging van jou groentetuin reg is, en tweedens moet die grond behoorlik voorberei word. Die meeste groente wil in ’n sonnige kol groei waar hulle beskut is teen die wind – en as jy in ’n gebied woon waar ryp voorkom, moet jy daarteen ook beskerming bied.
As jy op ’n posseëlgrootte erf woon, kan jy in ’n vierkantige plantbak of selfs ’n kruiwa, in ’n paar potte of iewers teen ’n muur ’n groentetuin begin – en as jy dapper is en lief vir eksperimente, kan jy hidro- of akwaponika probeer.
Onthou, die grond is die voedingsbron van jou groente – hoe meer jy dus die grond verryk, hoe beter sal jou groente vaar en hoe meer voedingstowwe sal jy inkry.
Ons is nie voorstanders van een spesifieke manier van groentetuin maak nie, maar ons pas tog baie permakultuurbeginsels toe, gewoon omdat jy met hierdie metode saam met die natuur werk. Jy dolwe glad nie die grond om nie en vul dit van bo af aan – selfs as jy onkruid afknip (ja, nie uittrek nie, want die wortelkanaaltjies is goud werd vir die vervoer van water en voedingstowe), pak jy die groen knipsels bo-op die grond.
Jy het die minimum water nodig, en omdat jy verskillende groentesoorte deurmekaar plant, hoef jy byna nooit te spuit nie. Jy “kamoefleer” as ’t ware die plante sodat die peste en plae nie daarvan weet nie.
Die belangrikste met hierdie metode is die onderste en boonste laag: Onder begin jy met ’n mislaag, gevolg deur ’n mengsel van grond en kompos, en bo-op eindig jy met ’n deklaag van iets soos strooi – sodoende sorg jy dat geen vog verlore gaan nie.
Waarskynlik die grootste fout wat baie van ons oumas en oupas begaan het, is om groot hoeveelhede van dieselfde ding in een blok te plant. Dit is byna soos kommersiële boerdery – jy sal peste kry, want jy skep vir hulle die ideale omstandighede. Die groot geheim is om net genoeg te plant vir eie gebruik – en so deurmekaar as moontlik, sodat jy nie vir peste laat weet hier’s ’n fees wat wag nie.
Hou ook in gedagte dat groenteplante van sommige ander plante hou en ander weer verafsku. Dit is eintlik glad nie ingewikkeld nie – jy plant meestal bymekaar wat jy bymekaar sal eet, soos tamaties en basilie, komkommer en radys, wortels en uie.
Dan is daar ook die Drie Susters: boontjies, mielies en skorsies. Al drie word bevoordeel as jy hulle naby mekaar plant – die bone voed die grond met stikstof, wat die mielies laat floreer. Die mielies dien weer as klouterplek vir die boontjies, terwyl die boontjieranke help om die mielies te stabiliseer sodat die wind hulle nie maklik omwaai nie. En die skorsieplante dien nie net as ’n lewende deklaag wat help om grondvog vir al drie susters te behou nie, hulle stekels op die stam help om insekte af te skrik.
Boonop kry jy plante wat peste weghou en voordelige plante lok – die beste voorbeeld hiervan is kappertjies en stinkafrikaners. Plantluise is gaande oor kappertjies en gaan waarskynlik jou kosbare groenteplantjies uitlos as jy hulle tussen jou groente plant, terwyl stinkafrikaners se reuk baie skadelike insekte afskrik en voordelige insekte soos bye lok.
Die belangrikste is dat jy toegewyd moet wees as jy ’n groentetuin het. Sorg dat jy elke dag daar uitkom. Gee net genoeg water waar dit nodig is, hou jou hand op enige moontlike peste en plae, en oes net genoeg van die kos wat nóú op hulle mooiste en rypste is.
En eet dit vandag nog. Nie net weet jy dan presies wat jy en jou gesin inkry wat voedingswaarde betref nie, maar jy weet ook dat jy geen gif voorsit nie. Jy eet volgens die seisoene en baie belangrik: Jou gewerskaf in die groentetuin hou jou lyf fiks en jou kop skoon. En dit is iets wat in vandag se lewe dalk die nodigste is.
Peter van Noord en Johan van Zyl is die redakteurs van die kwartaallikse tydskrif Platteland en skrywers van Begin jou eie groentetuin (2018), uitgegee deur Human & Rousseau. Bestel dit by Takealot.com of by die skrywers by helloplatteland@gmail.com
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.