Immigrasie en xenofobie: 'n fyn balans is nodig oor dié saak

BULLETIN

Immigrasie en xenofobie: 'n fyn balans is nodig oor dié saak

Nuusbulletin: 16 September 2019

  • 16 September 2019
  • Vrye Tyd
  • 2 min om te lees

Goeie middag

En daar boe die skare in Harare toe onse president. Ek het nogal gedink dit was met reg, want hulle het nie soseer hulle afkeer in hom nie as in die vreemdelingehaat in ons land uitgespreek. Cyril Ramaphosa het op sy voete gedink en dit aangespreek, en is daarna toegejuig.

Maar die debat oor die vreemdelingehaat het so 'n effe gedraai die laaste week.

Dit bly 'n groot bron van kommer en ons moet alles moontlik doen om 'n herhaling te voorkom, maar ons moet ook daarop wys dat dit die vrot regerings van die migrante se lande van herkoms se skuld is dat die mense hierheen trek, veral Nigerië, Zimbabwe, Malawi en die DRK.

Dit is ons reg om daarop te wys dat geen Suid-Afrikaner in Nigerië mag werk sonder om deur vele prosesse te gaan nie, maar Nigeriërs hier by ons dink dit is hul basiese mensereg om te kan werk.

Ons moet 'n fyn balans oor dié saak handhaaf. Ons moet waak teen xenofobie en onverdraagsaamheid, maar ons mag ook nie dat die politieke korrektheid rondom die onderwerp ons keer om te praat oor oplossings vir ons immigrasiekrisis nie.

Een van die vrae wat ek deesdae die meeste gevra word, is: wat gaan met Cyril aan? Wat het van die Ou Cyril geword?

Ek begin 'n nuwe teorie ontwikkel waaroor ek Vrydag wil skryf. Ek gaan ook sommer die polemiek rondom die Gautengse LUK vir onderwys, Panyaza Lesufi, en die bou van 'n Afrikaanstalige universiteit deur die vakbond Solidariteit aanspreek. Ek wonder baie waar Lesufi se diepe wrewel in Afrikaans vandaan kom, of is dit dalk net goedkoop populisme?

Ek het twee stukke in die jongste Vrye Weekblad baie geniet, twee stukke van op-die-grond-beriggewing: Elsabé Brits se ontstellende verhale van wat in die Groote Schuur-hospitaal aangaan, en Karl Kemp se stuk oor die EFF se byeenkoms buite die Valke se kantoor in Pretoria.

Twee ander stories wat ek kan aanbeveel indien jy nog nie daarby uitgekom het nie, is die Zimbabwe-boorling Peta Thornycroft se stuk oor die gemors in haar land, en Piet Croucamp wat Gwede Mantashe uitwys vir wie hy werklik is.

My gunstelingstories van die week is almal hieronder aangeheg. 

Gegroet tot Vrydag,

Max du Preez en die res van die Vrye Weekblad-span

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.