- 13 September 2024
- Vrye Tyd
- 4 min om te lees
- artikel 17 van 24
-
Laureen RossouwRedakteur: Vrye Tydskrif
1. Beskryf jouself in 'n hashtag.
#geesdriftig
2. Wat lees jy eerste ding elke dag?
Nuusbriewe van verskeie nuusmediums en dan Instagram. Dáár vergaap ek my hoofsaaklik aan die doen en late van Indiese jogi’s, sadhoes, ghoeroes en fakirs getooi in (dikwels) die mees fantasmagoriese geel of pienk uitrustings. Hulle het deel van my feed geword omdat ek vir dae lank na die Ambani-bruilof gekyk het wat (benewens Tony Blair, Justin Bieber en Kim Kardashian) ook deur spirituele figure bygewoon is.
3. Wat luister jy in jou kar?
’n Mengsel van Nancy Sinatra-songs soos “My Baby Shot Me Down” en “These Boots Are Made for Walkin’ ” wat Theunis Engelbrecht vir my gemaak het; The Doors, Eurythmics, Grace Jones; en Callas en Shostakovich.
4. Wat lê langs jou bed? (Brille, pille en bangles ook welkom.)
Ringe, handeroom, bril, Orbit- suikervrye mint-kougom, en ’n boek waarin ek drome neerskryf.
5. As jy kon kies, in watter land sou jy wou bly ? Waarom?
Ek is baie lief vir Kaapstad, maar sal nie omgee om vir ’n ruk in ’n land soos Japan te woon nie, veral omdat dit glo so skoon is daar.
6. En as daar een boek is wat jy vir almal kan aanbeveel, watter een sal dit wees?
Die eerste lewe van Colet van Etienne Leroux.
7. As jy jou eie huis kon ontwerp, hoe sou dit lyk?
Baie soos die Fagans se huis in Kampsbaai.
8. As jy twee vakke by die skoolkurrikulum kon voeg, wat sal dit wees?
Ontwerpkunde en Die Wonder van Lees.
9. As jy jou lewe met enigiemand anders kon omruil, wie sou dit wees?
Bela Lugosi.
10. As jy iets aan jouself kon verander, wat sou jy meer of minder van wou hê?
Slanker hande.
11. Wat vind jy sexy?
Ek het vanoggend gesien hoe die bestuurder van ’n non-descript wit motor (kon nie sien of dit man of vrou is nie) ’n groot vragmotor die geleentheid bied om voor hom/haar ’n verkeersbaan binne te gaan. Dít vind ek nogal sexy. En ’n mooi stem. Ook ’n haarkrulletjie in ’n vrou se nek.
12. Wie is jou celebrity crush?
Francoise Hardy.
13. Waarvoor is jy ’n sucker?
’n Kaastoebroodjie.
14. Wat is jou emosionele ouderdom? Hoekom sê jy so?
Seker so 50. Ek voel redelik verantwoordelik en volwasse. Daar is ’n mate van selfinsig en ek dink nie die wêreld draai om my nie.
15. Waarsonder kan jy nie lewe nie?
Boeke.
16. Hoe sou jy jou styl beskryf?
Paradoksaal: oorspronklik en avontuurlustig, maar soms voorspelbaar; over the top, maar soms sober.
17. Wat weet niemand van jou nie?
Ek is nie seker nie – dalk dat ek in my twintigs die taal Esperanto probeer aanleer het.
18. Waaroor is jy spyt?
My bitsigheid teenoor kollegas weens ongeduld en groot druk toe ek ’n nuusredakteur, nagnuusredakteur en nagredakteur was.
19. Jou gunsteling-speelding as kind?
’n Lewensgetroue weergawe van ’n koalabeer. Dit was met regte pels oorgetrek, maar ek het nie die implikasies daarvan besef nie.
20. Die duurste ding waarop jy al ooit geld geblaas het?
’n Goue wetsuit. I’m only joking – ’n huis.
21. Jou gunsteling-manstemme?
Klaus Nomi en Siegfried Mynhardt.
22. Jou gunsteling-wêreldstad of -stede?
Rome en Istanbul.
23. Jou beste vakansie?
’n Kort reis na die noorde van Italië: eersteklas uit Johannesburg tot in Milaan gevlieg en van daar besoeke per trein aan onder meer Florence en Venesië.
24. As jy iemand kan kies om jou portret te skilder, wie sou dit wees?
Enige kunstenaar wat nog die kubisme beoefen.
25. As jy drie mense kon nooi vir ete, lewend of ontslape, wie sal dit wees? En waar? En wat sal julle eet?
Thandi Klaasen, Al Debbo en Ingrid Winterbach. Vetkoek en mince op die terras van die Cipriani-hotel in Venesië.
26. Jou gunsteling-juwele?
’n Silwerring in die Romeinse styl met ’n karneoolsteen, en ’n replika van ’n antieke Egiptiese ring: silwer met ’n turkoois-skarabee.
27. Wat was jou gunsteling-outfit as kind? Waar het jou ma jou klere gekoop?
My ma het vir my nogal snazzy klere gekoop, maar ek kan nie onthou waar nie. Die fokus van my gunsteling-outfit was ’n paar bruin platform-boots wat my ouma vir my by ’n Indiërwinkel in die middestad van Johannesburg gekoop het (as ek reg onthou) toe ek so nege of 10 jaar oud was. Daarby het ek denim-bell-bottoms gedra en ’n hemp met breë bruin en wit strepe.
28. As jy ’n uniform kon kies (elke dag dieselfde klere) wat sal dit wees?
Swart linne. Broeke en hemde met ’n eenvoudige snit. Ek het nog ’n hele klomp van hulle wat ek ’n paar jaar gelede laat maak het.
29. Waarna sien jy uit?
’n Kersvakansie in ’n ou huis langs die see by Hangklip.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.