Amandelboomgrense

JEREMY VANNIE ELSIES

Amandelboomgrense

Vandag, presies 367 jaar gelede, het Jan van Riebeeck se vloot Tafelbaai binnegevaar. JEREMY VEAREY onthou.


DAAR was 'n tyd voor 1652 toe ons mense se beeste vrylik aan die voet van Hoerikwaggo kon wei. 'n Tyd van sorglose smul aan die oorvloed amandels wie se bome ryk oor ons weivelde gesaai was. Maar toe kom die houtkapper Cornelis hier in 1659 en kap wild sonder respek. Dit nou met 'n permit van daai bleekman in die snaakse klere daar by die Kasteel wie vir hom glo 'n houtkonsessie gegee het. En nog sonder om vir ons te ken in die saak. Toe moer ons die moerskont. Die ding hardloop toe weg en gaan huil by die bleekman van die kasteel.
Dit wassie lankie toe stuurie bleek man van die kasteel 'n moerse trop bleek gangsters om ôs te rol. Ôs kap bankvas en moer die goed want kaantie wies hulle om ôs land somma soe te vat en ôs beeste te steel. Maa mettie tyte kamp en kap hulle turf uit onne ôs. Hulle vat somma ôsse amandelboeme en bou 'n muur om ôs van hulle te skei. En soe hêrrit gekô rat ôs se amandelboeme hulle apartheidmuur vi ôs se oppression gewôd tit.
Maa it stop nie net by amandelboeme nie. Mettie tyte wat loep en djare wat kom ontnaam hulle somma vi ôs na Hottentot, Khoi en San. Hulle change somma Hoerikwaggo na Tafelberg, en gie ôsse amandelboom weivelde die naam Kirstenbosch. Nou kaantie wies ôs nou? As djy nie soe sieke issie kô ek wys jou.
Vattie dêreklaswaentjie tot by Nuweland stasie, dis nou soe genoem na ôsse ou land wat hulle somma hulle Nuweland gemaakit. Dan loep djy op narrie voet van Hoerikwaggo tot by Kirstenbosch se tuine. Nou as djy daa kô gaan soek vi die oudste amandelboeme. Daa staan nog hie en daa 'n stukkie van hulle amandel muur. Daa is niks mee van ôs in hulle se Kirstenbosch nie, maa ôs se voorsate se geeste wandel nog altyd opsoek na jou.
Staan stil en luister. Hoor djy die oerknal van ons skimpyn? Snif rond. Ruik djy die kruit van die bleek gangsters se gewere? Voel die ougrond soos djy rondgrawe vir ôs se laaste amandels. Djy gaan eers niks hoor, sien en voel nie. Moenie somma worry en opgie nie, issie jou skuld dat djy nie kan onthou nie. Jou voorsate was mos geforce om te vi'giet om vi jou môre te survive. Lê onner 'n amandelboom en was jou mind skoon van die pyngedagte wattie bleek gangsters van jou gemaakit. Byt nou 'n amandel en proe jou weg terug na jou voorsate.
Maak oop jou geestesoë en kyk. Sien jy nou jou langhoring beeste wat gerus daar naby die amandelbome wei? Kyk hoe swem jou dogter daar in die bergwaterstroom terwyl jou seun met die Ghiegga kruie en wortels oes vir die volk se kwale. Jou vrou is erenstig aan die vergader met die stamraad in die skadu van die amandelbome oor gerugte uit die baai dat daar bleekmans aan die voorvoet van Hoerikwagga aanwal gekom het. Wie is hulle, waarvandaan kamka hulle, en waantoe gaan hulle?
Hou daai gedagte vir 'n oomblik maar moenie te lank daar talm nie want jy is nog nie heeltemaal waar jy moet wees nie. Nog net die pad van jou slawerny wat geloop moet word, en dan jou apartheid kleurlingskap. Maar dit is nie die finale pynloop na jou bestemming nie. Jy is amper nou hier in die nuwe Suid Afrika, maar daar is nog steeds die wie van agter nuwe politieke amandelmure jou wil uithou. Die nuwe hulle wie jou deur die lens van hulle eng groepsbeheptheid, steeds as hul andere wil inperk.
En hier eindig my sielstog met jou. Hiervandaan moet jy self sien hoe verskeie bergstrome van al jou voorstate in een komvandaan rivier loop. Maar dit gaan nie maklik wees nie. Jy sal die bitter amandels van jou eie bome sorgvuldig moet oes en die goeies van die slegtes skei. Dit versigtig ontgif. Dit als terwyl ons saam, alle ou en nuwe amandelboom skeidsmure doodbrand. 
Eers dan word ons een groter ons in 'n land sonder amandelboomgrense. Jy staan dan waarlik aan die voet van Hoerikwaggo, en kan sy amandels weer sorgloos geniet.
HOOFFOTO: 'n Kunstenaarsvoorstelling van Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap (Charles Davidson Bell - Suid-Afrikaanse Geskiedenis in Beeld (1989) deur Anthony Preston; Bion Books; Gedruk in Suid-Afrika).

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.