Onse lywe is vry, maar onse harte klou aan ’n ander tyd

Die dag toe 'n vyfjarige haar huil verloor

Onse lywe is vry, maar onse harte klou aan ’n ander tyd

ANASTASIA DE VRIES skryf oor die ding met onthou en vergeet.


AS ek oor iets anders kon skryf. Oor vryheid of gelykheid of sommer net ’n boom.
Maar dit was voor ’n boekpraatjie by die Belhar-biblioteek se leesklub ’n week of wat gelede. Voor 13, 14 vroue van Belhar. En die geding met onthou. Van vergeet. Onthou. Die verlede. Is verby. Vergeet. Wil vergeet. Kán nie. Onthou. Vergeet. Nie. 
Daarom sit ons 25 jaar later nog vasgevang tussen die wete dat ons is wat ons onthou volgens Zakes Mda, en wat Etienne van Heerden noem “die ongemak met die verlede”, sê een van die jong vroue ná ’n bespreking van of en hoe boeke praat met ons samelewing vandag.
Dis in die manier waarop ons nou nog met mekaar praat, oor mekaar, kompleet ’n outydse swaardgeveg in ’n ou Kaapse verhaal. Aanval, skerm, verweer, retireer, skerm, verweer, retireer tot in jou eie hoekie in. Sy is soms banger vir die geweld van by mekaar verbypraat, die geraas wat isoleer en verdeel, as vir die gangsters.
“Onse lywe is vry, maar onse harte klou aan ’n tyd toe die een onder moes lê vir die ander, bek toe terwyl jy bepraat word. ‘Nee, baas. Ja, baas. Hoeffil sakke vol, baas.’ Nou weet ons nie hóé om met mekaar te praat nie, veral nie oor die verlede nie. Vergewe. Vergeet. Vergewe is vergeet. Nie. Beskuldigings. Verontskuldigings. Oor-en-weer. Heen-en-weer.
“Onder daai gedruis bloei ons wat wil, maar nie kán vergeet nie liewer binnetoe en vat onse stemme saam. Ja, ek het vergewe. Nie saamgesweer om die verlede geheim te hou nie, nie die één verlede wat ek hier en nou met almal in dié land deel nie. Ek weet hoe dit jou mond, jou stem dood maak. Hoe dit is om in jou eie kop te treur oor ’n verlede wat ons nie kon leer hóé om na mekaar te luister met onse monde toe en onse harte oop nie.
“Kyk maar hoe word mense geboelie om elkeen in sy eie hoekie te loop skyn met ’n ge-‘julle weet nie hoe swaar ons gekry het nie’ versus ‘maar ons het nie geweet nie; ons het net so swaar soos julle gekry’. Ons wéét. Ons was hiér. Ons was verdruk, nie blind nie. Ons kan nie eens lieg dat ons nie geweet het nie.”
Die vroue weerskante van haar hou haar hande styf vas. Haar suster praat gewoonlik, amper 30 jaar al, oor niks anders as haar boeke nie, verduidelik een, ’n leerkrag soos haar pa. Almal in dié land dra nog swaar aan ons stories, aan die verlede, sê sy. Onthou is bitter. Vergeet ook. Wie se storie vergeet ons, watter verlede onthou ons?
“As ons maar mekaar só kon vashou, só met mekaar kon praat ... Gewone mense, ma’s, pa’s, ongeag kleur of ras. Ons is nie klaar gepraat nie. Ek is nie. Ek wens ek was vry om mense so oud soos ek in die oë te kyk, hulle  hande in myne, en te sê weet jy hoe graag ek ook sou wou sê ek het nie geweet nie? Dat ek bitter graag wil vergeet, maar nie kan nie. Ek was dáár, sien. Die dag in 1988 toe my pa ’n boy gemaak is. My pa, my sagte, sterk, slim pa, met die lag in sy oë, toe al hoof van ’n skool. Ek so vyf jaar oud, my suster drie.”
Die polisieman was skaars 20 jaar oud, haar pa al iets in die 40. Hulle moes die “privaat” strand verlaat, het die polisieman beveel. “Toe, toe boy,” het hy haar pa aangepor. Haar pa het gestruikel, geval, haar krysende suster in sy arms vasgeklem. Van die mense op die strand het net gelag. Sy onthou die flitsende tandjies van die witkopkinders, omtrent haar ouderdom.
“Is my Da,” het sy gegil. Haar pa het oor haar hare gestreel. Sy kon voel hoe hy bewe. Sy weet nie of sy daaroor gehuil het of oor die leegte in haar pa se oë nie. “Ek is nie u boy nie, meneer.”  Haar pa se stem was nog sy stem. “Hotnot!” het die jonger man teruggeslinger. Haar Da se lag was nie ’n Da-lag nie. “Ek trek nie hot aan u of u pa se wa nie, meneer. Dit weet u so goed soos ek.”
Tot vandag onthou sy die skaamkwaadgeit in die jonger man se vaalblou oë, haar pa se leë, koue oë. Sy en haar pa het nooit weer daaroor gepraat nie. Eintlik praat hulle nooit meer oor veel nie. Maar sy het haar huil dáárdie dag al verloor.
Soms soek sy in ’n skare vir ’n man so oud soos haar pa toe was, een met skaamte in sy vaalblou oë. En vir hulle, verwondes soos sy, wat dalk ook wens hulle was weer vyf en die wêreld genadiger. “Miskien, eendag, sal ek ons vry skryf. Eendag wanneer my liewe, sagte pa dood is en ek nie hoef te maak of ek vergeet het nie."
Dis oor skaamte dat ons mekaar vandag nog nie reg in die oë kan kyk nie, sê die mevrou wat op haar dag by ’n uitgewer gewerk het. “Die skaamte van wéét wat ons aan mekaar gedoen het, van mens tot mens. Ons, ordentlike, Godvresende kerkmense.  
“Maar dit was die 1960’s. Ek hoor toe ’n kollega sê sy eet niks uit ’n hotnot se hand nie, al is dit in papier toegedraai. Ek het my woedepyn diep onder my hardegatgeit loop bêre. Sy’t my mensheid gesteel. Ek sou dieselfde doen. Ek was witter as sy, haar neus platter. Dit het daardie dae mos baie getel. Toe sê ek as my neus so plat was, sou ek nie blank probeer speel het nie. Ek is aangekla."
Sy moes verskoning vra. Sy’t geweier. Sy’s verplaas. “Soms loop ons mekaar nog raak, groet, maar ons het nie woorde vir mekaar nie. Dit lyk ons vlug, so wild is ons vir mekaar gemaak.”
Nou skryf sy gedigte oor verlossing, gelykheid, medemenslikheid, eenheid.
Jy sal oor ons skryf, wou die leerkrag weet toe ons groet.
Ek sou skryf, ja.  Ek het. Vir hulle. Totdat hulle kan. Totdat sy kan.
Eendag as sy vyf is en haar pa ’n man.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.