Sterk ANC of swak ANC: Wat die 2019-verkiesing vir SA gaan beteken

Ramaforia of Ramaflop?

Sterk ANC of swak ANC: Wat die 2019-verkiesing vir SA gaan beteken

Vanjaar se verkiesing word oorskadu deur twee hoofscenario’s: ʼn swak ANC of ʼn sterk ANC. Kan Cyril Ramaphosa se gewildheid Jacob Zuma se skandes troef? Een ding is seker: 8 Mei 2019 is dié kritieke rigtingwyser vir Suid-Afrika se politieke toekoms. DAWIE SCHOLTZ verduidelik die moontlike implikasies.


DIE publiek word op die oomblik verswelg deur uiteenlopende meningspeilings en skattings van hoe die kiesers op 8 Mei gaan stem. ’n Breër perspektief van die groter werklikheid sneuwel in die proses. Tussen 2011 en 2016 het groot verskuiwings in ons politiek plaasgevind. Min mense het ooit dié verskuiwings, die werklike drywers daaragter en die langtermyn-implikasies daarvan behoorlik ondersoek en probeer verstaan. In hierdie artikel verduidelik ek my perspektief op die ontluikende veranderinge in ons politiek en die gepaardgaande implikasies vir ons toekoms.
Om dié veranderinge te verstaan, moet ’n mens met ’n ontleding van die Zuma-verkiesings (2011, 2014 en 2016) begin.
Die implikasies van die Zuma-era
Dit is voor die hand liggend dat die Zuma-era die ANC enorme skade berokken het. Die munisipale verkiesing van 2016 was ’n duidelike manifestering daarvan. Tussen 2011 en 2016 het die ANC altesaam 8% steun op nasionale vlak ingeboet en beheer van drie belangrike metrorade verloor. Maar om die langtermyn-implikasies van die Zuma-era se skade aan die ANC te begryp, moet die 2016-verkiesingsuitslag reg en in diepte verstaan word.
Die ANC het in die 2016-verkiesing baie sleg gevaar weens twee onmiskenbare tendense:
1) Swart kiesers begin die ANC verlaat. ’n Ontleding van die 2016-stempatrone toon duidelik dat daar ʼn groot disintegrasie en verskuiwing van die swart stempatroon vir die ANC plaasgevind het. Die ANC het in 2016 swakker gevaar onder swart kiesers in alle provinsies behalwe KwaZulu-Natal.
Maar die verandering was nie eenvormig nie. Die ANC het in die verlede ’n eenvormige ondersteuningspatroon onder swart kiesers geniet – in die hoë 80’s. Dit het verander en lyk nou swakker in amper elke provinsie, maar ook verskillend in elke provinsie.
Hierdie verswakking van ANC-steun in die swart kieserskorps is opgesom in grafiek 1. Die Gauteng-syfers is veral merkwaardig en verduidelik hoekom hierdie komende verkiesing so marginaal in Gauteng gaan wees: Die ANC se steun het tussen 2011 en 2016 met 17% onder swart kiesers gedaal.
Alhoewel hierdie artikel nie oor die opposisiepartye handel nie, is dit wel belangrik om te noem dat verreweg die meeste van hierdie verlore ANC-steun na die EFF toe is, maar dat die DA ook ʼn porsie van die verlore ANC-steun gewen het.
2) Opkomspatrone het teen die ANC gedraai. Die aantal mense wat by die stembus opdaag, speel ’n groot rol in die uitslag van Suid-Afrikaanse verkiesings. In die laaste paar verkiesings het die DA veral beter daarin gevaar om sy ondersteuners te motiveer om te stem.
Soos die grafiek duidelik illustreer, was voorstedelike opkoms, waar die DA se kiesers oorwegend woon, baie hoër as in die townships, waar die ANC se kiesers oorwegend woon. Die implikasie is dat voorstedelike kiesers, meestal minderhede, se verkiesingslaankrag dan groter word as hul proporsionele verteenwoordiging in die bevolking. Dít is omdat ʼn disproporsionele persentasie van voorstedelike kiesers opdaag om te stem. Hierdie disproporsionele-opkoms-patroon is ʼn kritieke element in die DA se verkiesingstrategie.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat die grootte van die gaping tussen voorstedelike en township-opkoms in 2016 groter was as in 2011. Die grootte van die gaping, ongeveer 15% op nasionale vlak, was histories groot en het ʼn aansienlike rol gespeel in die ANC se verswakking tot 54% algeheel, asook die DA se vermoë om die ANC in die groot metromunisipaliteite tot onder 50% te druk.
Die 2014-verkiesing is nie hier ingesluit nie, aangesien die opkomspatrone tussen munisipale en nasionale verkiesings baie verskil. In nasionale verkiesings is ANC-kiesers baie meer geneig om te stem, met die gaping tussen voorstedelike opkoms en township-opkoms wat net 7% was in 2014 (die laaste nasionale verkiesing). In al die huidige analises en peilings vir die 2019-verkiesing word die aanname gemaak dat die opkomsgaping tussen voorstedelike gebiede en townships weer min of meer 7% gaan wees ten gunste van voorstedelike gebiede. Indien die opkomspatroon merkwaardig anders sou lyk in enige rigting (ʼn groter of kleiner gaping), kan ons dalk op verkiesingsaand verras word.
Terloops, so ʼn opkomsverrassing was byvoorbeeld een van die grootste redes vir die onverwagte uitslae in die Donald Trump- en Brexit-verkiesings, aangesien landelike, konserwatiewe kiesers in baie groter mate opgedaag het om te stem as wat die wiskundige modelle vir daardie verkiesings voorspel het. Die belangrike les is dat die kieser se besluit om op te daag of nie op te daag nie, uiteindelik ʼn groot invloed op Suid-Afrikaanse verkiesings het.
Cyril Ramaphosa en ’n oomblik van onsekerheid
Wanneer ʼn mens hierdie baie moeilike konteks vir die ANC in die onlangse verkiesings in ag neem, is dit duidelik dat die ANC die verkiesingsveldtog in ʼn moeilike posisie begin. As die tendense van 2016 hulself net herhaal, of selfs versterk, kan die ANC se steun tot ver onder sy 2014-uitslag van 62% in die komende verkiesing daal.
Maar die verkiesing van Cyril Ramaphosa as ANC-leier beteken dat daar nou relatiewe onsekerheid is oor van die kritiese veranderlikes in die komende verkiesing. Ramaphosa se baie hoë persoonlike gewildheid beteken dat die ANC dalk beter kan vaar met van die bogenoemde veranderlikes, ondanks die strukturele skade wat die Zuma-era aan die ANC-handelsmerk berokken het. Of dalk nie ­– en hierdie vraagstuk is die kruks van die onsekerheid in die huidige Suid-Afrikaanse politieke landskap.
Die uitslag van die verkiesing gaan ʼn duidelike antwoord op hierdie vraagstuk gee.
Die 2019-uitslag en wat dit vir die toekoms betekenSoos dit nou hopelik duidelik is, is daar baie veranderlikes wat die verkiesinguitslag gaan beïnvloed, met opkoms en die swart stempatroon as die twee belangrikste veranderlikes. Ek sien een van twee scenario’s vir die uitslag:In die “sterk ANC”-scenario help die Ramaphosa-effek die ANC om beter te vaar in terme van opkoms en onder sy tradisionele swart steunbasis as in 2016. In hierdie scenario vaar die ANC beter as in 2016 (54%), maar waarskynlik swakker as die 2014-uitslag (62%). Indien hierdie scenario 'n werklikheid sou word, sou dit impliseer dat die verswakking van die ANC wat ons onder Zuma gesien het nie noodwendig ʼn strukturele tendens is nie, maar eerder ʼn Zuma-gedrewe verskynsel wat met sterk leierskap en hernuwing in die party teengewerk kan word. In hierdie scenario kyk ons na ʼn meer stabiele ANC-regering vir minstens nog ʼn dekade.In die “swak ANC”-scenario lyk die uitslag baie dieselfde of selfs swakker vir die ANC as die 2016-uitslag, wat sou impliseer dat Ramaphosa se persoonlike gewildheid nie genoeg was om die broosheid van die ANC-handelsmerk ná die Zuma-era te oorkom nie. Dit sal impliseer dat die ANC vasgevang is in ʼn strukturele, onvermydelike patroon van verswakking. Dít is grootliks gedrewe deur swart kiesers wat soek vir verandering en bereid is om vir ander partye te stem om dit mee te bring.
Dit is moeilik om die algehele ANC-persentasie te voorspel waar ons met groot selfvertroue kon aflei dat die uitslag die “swak ANC”-scenario impliseer, aangesien daar baie veranderlikes in die som ingetel word (met voorstedelike opkoms veral as ʼn belangrike vraagstuk hier). Die belangrikste aanwyser sal wel die swart stempatroon wees – in Gauteng en nasionaal. As die ANC-stempatroon in die swart kieserskorps nasionaal en veral in Gauteng verder verswak onder die 2016-vlak, sou dit ʼn skerp, flitsende rooi lig vir die ANC en ʼn goeie aanwyser wees dat ons onsself in die “swak ANC”-scenario bevind. In hierdie scenario is dit baie waarskynlik dat ons binnekort die era van mededingende verkiesings, koalisies op nasionale en provinsiale vlak, en groter politieke onsekerheid gaan betree.
Die vraagstuk oor watter alternatiewe partye dan die ANC se moontlike verlore steun trek in die “swak ANC”-scenario, sal deurslaggewend wees aangesien dit hoë-impak-implikasies sal inhou vir die uiteindelike nuwe ekonomiese beleidsrigting wat die land sou inslaan. Die mate waarin huidige ANC-kiesers dan na regs of links wegbreek, sal dus van kardinale belang wees; en die manier waarop die huidige alternatiewe partye (die DA en die EFF) hulself posisioneer om hierdie wegbreek te trek, is reeds ʼn belangrike vraagstuk wat in ʼn sekere mate in hierdie verkiesing bepaal gaan word.
Alhoewel dit nog onduidelik is in watter een van hierdie twee scenario’s ons leef, is my persoonlike mening, gegrond op die peilings en tussenverkiesingsdata wat ons in die afgelope 12 maande gesien het, dat dit meer waarskynlik is dat ons onsself in die “swak ANC”-scenario bevind. Maar die verkiesingsuitslag sal vir ons duidelike antwoorde hieroor kan gee.
Dit is wel duidelik dat hierdie ʼn uiters rigtinggewende, insiggewende verkiesing met beduidende gevolge gaan wees.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.