Afrikaans: Niemand kan ʼn taal besit nie

‘Hoesit, ma se kind?’

Afrikaans: Niemand kan ʼn taal besit nie

Koerante, die politiek en die samelewing het die afgelope twee of drie dekades verander. Maar die Afrikaanse gemeenskap is oop vir diversiteit, sê ISMAIL LAGARDIEN. Ons kom al ʼn lang pad, en ons diversiteit is steeds ongeskonde.


DIEP in die holtes van my gedagtes onthou ek my daaglikse roetine van 27 of 28 jaar gelede. Dit het om 06:00 begin. Elke oggend het ek vyf of ses koerante gekry, hulle almal gelees, aantekeninge gemaak, en met my dag begin. Ek was die politieke korrespondent vir Sowetan – die agbare Aggrey Klaaste was toe die redakteur – en my basis was in die parlementêre persgalery.
Omdat ons koerant deur The Argus Group gedruk is en ons, wel, daai klein swart koerantjie was (hoewel ons ongeveer 1.6 miljoen lesers gehad het), moes ons ons beurt afwag om gedruk te word. Ons spertye was minstens drie uur voor dié van ons kompetisie. Dit beteken ek moes, sê nou maar, die Cape Times, The Citizen en Die Burger lees en die wires voor brekfis scan. Terloops. Dis regtig skokkend hoe party mense (steeds) dink dat dominansie en beheer net openlik en deur die gebruik van fisieke mag gemanifesteer word. Dis ʼn probleem wanneer jy slegs die dinge glo wat jy deur jou sintuie kan waarneem. Never mind.
Terug na die sterwensdae van apartheid, en my werk in die parlementêre persgalery. Teen 12:00 het ek “opvolg”-verslae ingedien, wat teen 15:00 ietwat “oud” was wanneer The Star en die Cape Argus op straat was. Ek sou dan daardie twee koerante lees, die parlementêre prosedures van die dag nagaan, en nuwe idees vir stories vir die volgende dag voorstel. Dit moes teen 17:00 geskryf en ingedien wees – ander korrespondente het vyf uur langer tyd gehad – want The Argus Group het toe voorkeur aan The Star en soms ook bylaes vir die volgende paar dae gegee. Ons was ʼn onmiskenbare tweede of derde prioriteit. Teen die tyd wat ons eerste uitgawe reg was om oor die land heen versend te word, was ander nuuskantore besig om hul uitgawes af te rond. My werkdag het rondom middernag geëindig.
Hartklop van die swart gemeenskap
Soveel as wat ons destyds, soos beskryf deur ʼn sekere knaap , Cyril Ramaphosa, die hartklop van die swart gemeenskap was, was ons altyd verskeie ure laat omdat ons nie ʼn prioriteit was vir die mense wat die koerant gedruk het nie ...
Wat het dit alles te doen met ʼn gas-rubriek (hopelik die eerste van vele) in April 2019? Die kort antwoord is: “Baie.”
Die koerantlandskap het verander. Suid-Afrika ook. The Argus Group het deur minstens twee inkarnasies gegaan, en Sowetan is in ʼn nuwe stal. The Star en die Cape Argus en Cape Times word nou deur Sekunjalo Investment besit, en daar is aanhoudend vrae oor hul onafhanklikheid, allermins weens die persoonlikheidskultus wat van tyd tot tyd hul produksie beïnvloed.Daar is tye wanneer ek hierdie koerante lees dat ek onthou hoe koerante in die 1930’s in Duitsland begin het om die Ariërleer toe te pas (te “Aryanise”), en toe uitgewerye soos Ulstein – wat Berlyn se Vossische Zeitung gepubliseer het – van hul onafhanklikheid gestroop is, en redakteurs (soos die getroue party-onderdaan Dietrich Eckart) sonder enige direkte ingryping eenvoudig met die amptelike posisies van die staat en die dominante politieke party saamgegaan het. Hulle het dikwels op ʼn “gepaste” manier verslag gedoen oor “goedgekeurde” onderwerpe. Maar laat ons nou nie sake vooruitloop nie.Die punt wat ek wil maak, is dat koerante nooit uit ʼn sosiale en samelewingskonteks verwyder kan word nie. Hulle kan, en behoort, onafhanklik van manipulasie, uitbuiting, politieke ingryping en beheer te wees. Dit klink ambisieus, waarskynlik onmoontlik – hoe pynlik daardie waarheid ook al mag wees.Regop, opreg en regverdigTerselfdertyd moet ons daaraan erkenning gee dat alle koerante eintlik vir iets groters as etiek en professionaliteit staan. In lief en in leed, in voorspoed en teenspoed, koerante staan vir oortuigings en idees – party ondersteun heersende partye, ander ondersteun die opposisie, terwyl die beteres regop, opreg en regverdig staan. Die beste koerante is ʼn platform vir ʼn diversiteit van idees, konsepte en stemme. In Suid-Afrika vandag, in tye wat gekenmerk word deur “staatskaping” en, in ʼn mindere mate, maar nie minder gevaarlik nie, “institusionele kaping” (op die manier wat die ou The Argus Group gekaap was), kan toenemend diverse stemme, twistende stemme, kognitiewe kaping – wat eenvoudig diversiteit sou doodmaak – keer.
Dit in ag genome, is daar waarskynlik geen groep of gemeenskap in Suid-Afrika wat meer divers as die Afrikaanssprekende gemeenskap is nie. Die geskiedenis van die Afrikaanse gemeenskap is gesetel in Afrikane, Europeërs en Asiërs wat eeue lank oor die vasteland heen en saam met die passaatwind beweeg het, wat enige maatstaf betref (hetsy genetika, ras, etnisiteit, geloof, politiek, kultuur of die gemeenskap in die algemeen).
Ek hou op die beste van tye nie daarvan om my hoed aan die verskeie hake te hang wat in ons gemeenskap uitstaan nie, maar die Afrikaanssprekende gemeenskap word netjies vasgevat in Thabo Mbeki se landmark speech, “I am an African”. Die mense wat Afrikaans praat, of dit nou suiwer Afrikaans is of met die infleksies van die townships (Tsotsitaal of Flaaitaal), is “gevorm uit die migrante wat Europa verlaat het”. In hul are vloei “die bloed van die Maleise slawe wat van die Ooste af gekom het”. Hulle is die afstammelinge van “krygsmanne en -vroue [van] Hintsa en Sekoekoeni ... die patriotte wat Cetshwayo en Mphephu [...]” die kleinkinders wat “vars blomme op die Boere se grafte geplaas het by St. Helena, die Bahamas en die Vrouemonument”, die kinders van “Nongqawuse. Die afstammelinge van “diegene wat van Indië en China gedeporteer is” – hulle is Afrikane.
Koerante het die afgelope twee of drie dekades verander. Die politiek het verander. Die samelewing het verander. Hoewel daar van Pakistan tot Duitsland ʼn al hoe groter soeke na suiwerheid is, en ʼn verdieping van etno-nasionalisme in Hongarye, Italië en Amerika, is die Afrikaanssprekende gemeenskap oop vir hul eie diversiteit, sonder om ooit die middelpunt van hul eie aandag te wees. In ons agterkop weet ons ook dat tale met die verloop van tyd verander, en dat sommige uitsterf. In hierdie sin kom Afrikaans voor dieselfde uitdagings te staan as elkeen van die meer as 6,000 tale wat vandag oor die wêreld heen gepraat word. Afrikaans is onbeskaamd bewus van sy Franse, Nederlandse, Engelse, Duitse, Afrika- en Maleis-Polinesiese  invloede.
Meer as 30 jaar gelede het Sowetan die hartklop van die swart gemeenskap verteenwoordig – al is dit geskryf deur mense, ons almal, wat Engels as ʼn tweede of derde taal gepraat het. Ek veronderstel wat ek sê is dat taal nie eksklusief tot ʼn spesifieke ras behoort nie. Niemand besit ʼn taal nie. Afrikaans hou mense, families en gemeenskappe oor die lengte en breedte van die land bymekaar.
Twee dae voordat ek gaan sit het om hierdie rubriek te skryf, het ʼn man my soos volg op die Kaapstadse Internasionale Lughawe gegroet: “Hoesit, ma se kind?” Hy was van die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.