Julius Malema se vlymende swaard

ONTLEDING

Julius Malema se vlymende swaard

Julius Malema wil nie net op Ramaphosa jag maak nie, hy wil die president van Suid-Afrika word, skryf PIET CROUCAMP.


JULIUS Malema het 'n beduidende rol daarin gespeel dat twee van die ANC se vier presidente sedert 1994 (vyf, as mens Kgalema Motlanthe inreken) nie hul termyn voltooi het nie. Die huidige president, Cyril Ramaphosa, is ook in Malema se visier, maar hierdie keer wil hy nie net die Amabuffalo omtrek nie, hy wil ook president van die ANC en die land word.
Dreigemente van geweld as 'n manier om steun te werf strook nie met die idee van vry en regverdige verkiesings nie. Ook die militarisering van politieke mededinging druis in teen die grein van 'n grondwetlike demokrasie. Tog is dit die standaardstrategie van die EFF om opponente met geweld te dreig. Die dreigemente is altyd versigtig verpak in 'n ongemaklike semantiek; “Ons sal sterf vir Zuma” [in die tyd toe Malema nog in die ANC-jeugliga was], of “Ons sal nie ‘nou al’ wit mense doodmaak nie.”
Populisme kom byna sonder uitsondering verpak in 'n paramilitêre nomenklature en veronderstel 'n binêre uiteinde; slagoffers versus verdrukkers, die wenner neem alles. So word Malema aangespreek as die Opperbevelvoerder en die lede van die party is “vegters”. Ekonomiese vryheid is die slagspreuk wat afgespeel word teen die veronderstelde tekortkominge van politieke vryheid. Die militarisering van populisme vind regverdiging in die ontoeganklike, korrupte patronaatskap van die regerende elite.
Die media en die publiek se morbiede fiksasie met die waarskynlikheid van geweld word 'n selfvervullende profesie. Hoe meer die EFF se leierskap joernaliste persoonlik teiken, hoe meer berig die media ‒ soms sonder introspeksie of kritiek ‒ op histeriese wyse daaroor. Dié openbare spektakel kom tot wasdom in sosiale media; populisme en propaganda verpak in die idioom van “stratcom” en “wit monopoliekapitaal” konsolideer 'n steunbasis van slagoffers en gemarginaliseerdes.
Dit alles blyk redelik effektief te wees as 'n verkiesingstrategie ook. In die nasionale verkiesing van 2014 het net minder as 1,2 miljoen kiesers (6,35%) by dié strategie aanklank gevind en hul kruisies vir die EFF getrek. Met die plaaslike regeringsverkiesing van 2016 het net meer as 1,2 miljoen (8,19%) stemgeregtigdes gehoor gegee aan die gemilitariseerde populisme van Julius Malema, en aan die EFF 'n mandaat gegee om sowel wit monopoliekapitaal en die veelwywer van Nkandla in die wetgewer en in die openbaar te halssnoer.
Hoewel die EFF in 2016 se plaaslike regeringsverkiesing net 48 546 stemme meer as in die nasionale en provinsiale verkiesing van 2014 gekry het, het die DA 87 000 minder stemme gekry as in 2014 en die ANC 4 miljoen minder. Indien 2016 'n nasionale verkiesing was, sou die EFF hul aantal setels in die parlement opgeskuif het van 25 na 32. Dit terwyl byna elke ander party 'n beduidende aantal setels sou verloor het.
Banale populisme as verkiesingstrategie
Daar is min twyfel dat die EFF in Mei 2019 selfs beter sal doen. 'n Lae stempersentasie bevoordeel dikwels die kleiner partye en indien Malema en sy stormtroepe daarin slaag om in informele nedersettings politieke kapitaal te maak, is 12% nasionale steun nie vergesog nie. Die EFF het reeds daarin geslaag om die ANC in 'n hoek in te verf oor grondonteiening. Met groeiende werkloosheid en toenemende absolute armoede kan grond as 'n soort ekonomiese sowel as ideologiese verlossing maklik die swart middelklas en die absolute armes in informele nedersettings 'n gemeenskaplike belang gee.
Indien die EFF 10% van die uitgebragte stemme op 8 Mei 2019 kry, sal hul verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering opskuif tot ongeveer 40 uit die 400 lede van die wetgewer. Die party moet dus ongeveer 700 000 nuwe stemme kry, wat sal beteken dat sowat 2 miljoen Suid-Afrikaners hul kruisies moet trek vir die populistiese teenwoordigheid van die EFF in die Nasionale Vergadering. Dit sal nie alleen 'n reusesprong in steun vereis nie, maar sal 'n duidelike bewys wees dat die militarisering van partypolitiek ‒ en banale populisme ‒ 'n werkbare verkiesingstrategie is.
Die demografie en maatskaplik-ekonomies status van die EFF se steun is belangrik. Tans is dit duidelik dat die party se steun grootliks stedelik is, en dat 'n beduidende persentasie ‒ indien nie die meerderheid nie ‒ van sy steun uit die swart middelklas kom. Die EFF is nie alleen by uitstek 'n stedelike party gesetel in Gauteng nie, die party is ook grootliks gefokus op middelklaskwessies. Tot en met die 2016-verkiesing was daar nie beduidende steun vir die EFF in die informele nedersettings om stede nie, maar dit kan dalk verander in 2019.
Middelklas vervreem van ANC
Die EFF mobiliseer ook baie sterk aan tersiêre instellings, wat beteken dat die jeug die ander groot steunbasis van die EFF verteenwoordig. Daar is nie syfers beskikbaar om die punt te bevestig nie, maar verreweg die grootste persentasie swart studente aan universiteite kom waarskynlik uit die swart middelklas van ongeveer 5,5 miljoen mense. Die populistiese aard van die #feesmustfall-fenomeen was dus heel waarskynlik 'n manifestasie van die druk waaronder die swart middelklas verkeer het sedert die verlangsaming in die ekonomie met 2008 se globale ineenstorting van internasionale markte. En met ongeveer 68% van alle senior bestuursposte in die korporatiewe ekonomie wat steeds wit is, het die wit middelklas as ’t ware 'n natuurlike vyand vir die swart middelklas geword.
Terselfdertyd het die swart middelklas vervreem geraak van die ANC, enersyds weens die sistemiese korrupsie en andersyds die noodwendige uitsluiting in die private sektor van die voordele wat die bevrydingsbeweging kan bied. Die EFF is inderwaarheid die ANC-jeugliga van ouds in ’n nuwe gedaante, en dus die mees logiese politieke uitlaatklep vir die swart middelklas, wat in 'n drukgang tussen wit korporatiewe rassisme en die finansiële druk van 'n middelklasbestaan in ʼn krimpende ekonomie beland het.
Dis ’n groot finansiële terugslag vir 'n swart middelklasgesin wanneer een of meer kinders universiteit toe gaan. Dit verklaar waarom die #feesmustfallers daarop aangedring het dat definisie van die sogenaamde “missing middle” van studente huishoudings moes insluit waar die gesamentlike inkomste R900 000 per jaar eerder as R600 000 is. Die “missing middle” is studente uit middelklasgesinne wat nogtans nie tersiêre kostes kon dek nie. Die probleem is dus legitiem, maar die oplossing is opportunisties gedryf deur die EFF. Die geweld wat op kampusse uitgebreek het, was tipies van die EFF se populisme, en gemik op die werwing van swart middelklassteun.
Die EFF se registrasieprobleem
Wat verkiesings betref het die EFF die probleem dat minder as 16% van alle 18- tot 19-jariges geregistreer is vir die 2019 verkiesing, en waarskynlik nie meer as een uit elke drie in die ouderdomskategorie 21 tot 29 jaar nie. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het weens onder meer administratiewe en tegniese onbeholpenheid 47% minder 18- tot 19-jariges geregistreer vir vanjaar as vir die 2014-verkiesing. In die ouderdomskategorie 20 tot 29 jaar is daar 'n 9%-daling in nuwe registrasies tussen dié twee verkiesings, en net meer as 50% jong mense in hierdie ouderdomsgroep is vir die verkiesing geregistreer. 
Dit is slegte nuus vir die EFF, maar ook vir die ANC, en bevoordeel waarskynlik die DA wesenlik.
Dit is nie net die OVK wat verantwoordelikheid moet neem vir hierdie fiasko nie, politieke partye moet self ook meer doen om hul potensiële ondersteuners by die stembus te kry. Helen Zille, Wes-Kaapse DA-premier, het al dikwels opgemerk dat ’n politieke party nie 'n verkiesing op stemdag wen nie, maar reeds op registrasiedag. Die EFF se grootste kopseer is dus dat een van hul belangrikste steunbasisse eenvoudig nie genoegsaam geregistreer is vir die komende verkiesing nie.
Spook van korrupsie, VBS
Die ander spook wat in die duister vir die EFF skuil, is bewerings van korrupsie en die plundering van VBS Mutual Bank. Die swart middelklas is minstens ten dele weg by die ANC oor bewerings van patronaatskap en korrupsie. Die EFF het intussen bewys dat staatsmag nie die enigste roete na korrupsie is nie. Die noue historiese bande wat die EFF-leierskap met die ANC het, het die rooi barette toegang gegee tot kaders wat 'n belang het by die soort korrupsie wat aan staatskaping definisie gee. Terselfdertyd is daar minstens anekdotiese bewyse van verbintenisse tussen EFF-leiers en georganiseerde kartelle met opportunistiese invloed by die Tesourie. Populisme sal nie die swart middelklas vervreem van die EFF nie, maar dit is baie moontlik dat korrupsie en georganiseerde misdaad dit wel sal doen.
Meningsopnames is nou nie juis 'n gevestigde wetenskap nie, maar sowel die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRR) as Ipsos se peilings dui daarop dat die EFF se steunvlakke opwaarts stu en tussen 9% en 12% gaan wees in die verkiesing op 8 Mei. Populisme het gelukkig normaalweg 'n plafon van 10% steun in verkiesingspolitiek. Aangesien die stempersentasie na verwagting bo 70% gaan wees, behoort die ANC 'n statistiese voordeel te geniet bo kleiner partye indien kiesers in die informele nedersettings nie op 'n beduidende skaal teen die regerende party draai en eenvoudig weer wegbly soos in 2016 nie.
Die EFF gaan ná die verkiesing waarskynlik minstens 15 nuwe lede in die Nasionale Vergadering hê, wat hul totaal op 40 te staan sal bring. Hul destruktiewe teenwoordigheid in wetgewers sal eksponensieel styg en so ook die druk wat hulle op Ramaphosa gaan plaas. Daar is wel twee verskynsels wat die EFF kan kniehalter: Die genoemde lae registrasiesyfers onder jongmense en die korrupsie wat die swart middelklas kan vervreem. Indien dié twee faktore nie aandag kry nie, kan die EFF dalk net 'n 10%-party bly wat net relevant kan probeer bly deur opponente en die media met kleinburgerlike geweld te dreig. Malema en sy adjudante stel nie werklik belang in politieke bestuur nie, hulle stel net belang in mag. Enige ander party wat ná die verkiesing 'n koalisie of samewerkingsooreenkoms met die EFF sluit, sal dít op die harde manier leer.
Terselfdertyd sal EFF-steun onder 10% Malema net weer laat besef dat die enigste weg na die Uniegebou deur die ANC is. Die volgende ANC-leierskapverkiesing is minder as vier jaar weg.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.