LESERSBRIEWE | Professor vs professor oor ons groot taaldebat

Gooi die taal

LESERSBRIEWE | Professor vs professor oor ons groot taaldebat

Hier is wat die akademici dink van ons plan om loslit-Afrikaans in Vrye Weekblad te gebruik.

  • 12 April 2019
  • Vrye Denker
  • 5 min om te lees
  • artikel 23 van 23


Prof Anne-Marie Beukes, University of Johannesburg
Baie geluk met jul eerste uitgawe! Ek is 'n geesdriftige leser!
Oor skryfwyses: ek is dit met julle eens dat ons nie te rigied moet vasklou aan skryfwyses wat vir meeste lesers vermoedelik vreemd aandoen nie. Skryf seblief in spontane, “goeie", eietydse Afrikaans wat ook bv. streeksvariasies en skrywers se idiosinkratiese styl respekteer (jip, Jeremy V se styl is beslis nie aan te torring nie!).
Ek sou kon argumenteer dat julle 'n uitstalkas kan word van onse taal se soepelheid en unieke seggingskrag sonder om te verdrink in die ondeurdagte modieuse Engelse invloed.
My voorstel is dat julle met verloop van tyd lesers se menings in ag neem en toets (selfs dalk nou en dan ‘n meningsopname doen).
Prof Gerhard Kemp, Universiteit Stellenbosch
Net 'n vinnige woord oor taalgebruik: ek vereenselwig my met Max se uiteensetting van VW se “gemaklike" en soepel benadering tov taalgebruik, en meer bepaald plekname, geografiese terme ens. Ek het nog altyd gedink “Oeganda" (ipv “Uganda"), “Soedan"/“Sudan" ens is irriterend. Hou asb by “Uganda", “Putin", “Sudan" ens.
En: baie dankie vir die herlewing van VW. Hoogtyd! In die laat 1980's het ek as skoolkind en met afknyp-sakgeld daarop ingeteken. Dit het my politieke bewussyn help vorm aanneem.
Prof Gerhard van Huyssteen, Noord-Wes UniversiteitEk stem (asseblief!) volledig saam dat Afrikaans in sy wydte en sydte in Vryeweekblad gelees moet kan word. Ek is veral bly oor artikels soos dié van Jeremy Vearey; daar is m.i. baie ruimte vir rubrieke en beriggewing wat in ál Afrikaans se variëteite geskryf word - nie net Standaardafrikaans en Kaaps nie. Doe asseblief zo voort, en maak dit gebeur!Ek is ook baie mal vir julle beskrywing vir die hantering van loslit- vs. losgattaal. Niks se geluigeit nie, maar ook niks geforseerd nie. Beter kon ek dit nie stel nie.Oor julle redaksionele besluit m.b.t. “miljoen", “miljard", ens. is ek dit helaas nie met julle eens nie. Die Taalkommissie het in aanloop tot die publikasie van die 2017-uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls 'n uitvoerig (maar dan werklik uitvoerige!) ondersoek oor die saak gedoen. Ons ondersoek was in samewerking met die regeringsagentskap wat hiervoor verantwoordelik is (die Nasionale Metrologie-Instituut van Suid-Afrika), populêre media soos koerante en tydskrifte, kenners in die finansiële bedryf, navorsers by organisasies soos die Kernenergiekoöperasie, akademici en, les bes, eindgebruikers.Behalwe dat die wet voorskryf dat ons in Suid-Afrika van die lang skaal móét gebruik maak (kyk die aanhaling onderaan my e-pos uit die AWS), was dit gou duidelik dat verreweg die meeste publikasies ook steeds hierdie lang skaal gebruik. (Huisgenoot was die enigste publikasie wat wel die kort skaal gebruik, as ek nou reg onthou.) Ook lesers het uiteindelik gesê: “Ons is nie so onnooslik dat ons nie die verskil kan verstaan nie." In ons ondersoek het lesers dus ook oorweldigend gekies vir die lang skaal.Netwerk24 het m.i. 'n goeie beleid wat dubbelsinnigheid uitskakel en dit eintlik vir almal maklik maak. As hulle na “2,45 miljard" wil verwys, skryf hulle “2 450 miljoen". Dit is m.i. 'n goeie middeweg, as jy dan dink dat jou lesers nie slim genoeg is om te weet wat “2,45 miljard" is nie. Soos julle tussen die lyne kan lees: Ek beskou dit 'n klap in die gesig van lesers om te dink dat hulle te dom/lui is om te verstaan wat “miljard" sou beteken. Gee ons 'n bietjie meer krediet, asseblief! :-)Die gebruik van verafrikaanste (al dan nie) eiename is dikwels 'n kluif. Op watter gronde sê 'n mens “Londen", “Nieu-Seeland" en “Moskou" is bruikbaar, maar “Tsjetsnië" en “Mogadisjoe" nie? Ter illustrasie: in 'n korpus van meer as 200 miljoen woorde (uit verskillende bronne, van verskillende uitgewers; ook vanaf die internet), die volgende frekwensies:Mogadiesjoe = 0 (soos Max dit spel in die nuusbrief)Mogadisjoe = 347Mogadishu = 76Tsjetsjnia = 0 (soos Max dit spel in die nuusbrief)Tsjetsjnië = 122Chechnya = 2 (ek moes gaan opsoek wat Tsjetsjnië in Engels is!)Wladimir Poetin = 423Vladimir Putin = 115Eerlik is eerlik, daar is m.i. min gronde om te sê dat iets soos “Wladimir Poetin" of “Tsjetsjnië" goggas is, maar “Moskou" en “Tsjeggiese Republiek" is nie. Of hoe word laasgenoemde dan hanteer in Vryeweekblad? “Czech Republic"? Of miskien “Czech Republiek"? Die feit dat 'n bepaalde skrywer dalk nie weet wat die gevestigde Afrikaanse naam is nie, of omdat iets vir 'n skrywer "lelik" lyk, maak nie dat lesers nie weet wat dit is nie. Weereens, asseblief: moenie ons as lesers onderskat nie!    M.b.t. laasgenoemde punt sou ek julle weereens graag na die bylaes agterin die AWS verwys, waaronder 'n lys buitelandse geografiese eiename, 'n lys met landname en hulle geldeenhede, gespesialiseerde lyste met plekname uit die Ooste (China, Japan en Indië), en 'n transliterasietabel vir die hantering van woorde/name wat uit Russies oorgeneem word. Julle sal onder andere sien dat “Sjina" (wel “China") nie in die lys voorkom nie, soos ook “Oeganda" (wel “Uganda") nie.Ook dié lyste is nie uit die lug gegryp nie, maar baseer op frekwensies in verskeie publikasies, taalkundige ondersoeke deur kundige mense, oorlegpleging met uitgewers, koerante en lesers, ens. Oor die afgelope tien jaar of meer is daar ook 'n baie sterk beweging om te kyk wat in die brontaal gebeur en dit dan oor te skakel na Afrikaans (eerder as om net gewoon die Engels oor te neem). O.i. is dit meer respekvol teenoor die plek en sy mense, as om gewoon die Engels oor te neem. Die Chinese name is byvoorbeeld in ooreenstemming met die voorskrifte van die Chinese regering - en nie gewoon klakkelose verafrikaansings nie.Ek voel sterk oor punte 1 en 2 hier bo; punte 4 tot 5 sou ek graag wel wou sien by 'n koerant wat homself verbind tot bepaalde waardes (soos om nie die intelligensie van sy lesers te onderskat nie ...).Uit die AWS (p. 706):In Suid‑Afrika word die lang skaal voorgeskryf deur die “Measurement Units and Measurement Standards Act, 2006” (Wet No. 18 van 2006; nie in Afrikaans afgekondig nie). Ingevolge dié Wet word alle regulasies uitgevaardig kragtens die Wet op Meeteenhede en Nasionale Meetstandaarde, 1973 (Wet No. 76 van 1973), en die Wysigingswet op Meeteenhede en Nasionale Meetstandaarde, 1998 (Wet No. 24 van 1998), geag kragtens die 2006‑wet uitgevaardig te wees.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.