SA ekonomie: die kritieke ontwerpfout

Polemiek

SA ekonomie: die kritieke ontwerpfout

NICOLAAS HANEKOM verduidelik waarom hy glo die gedeelde besit van hulpbronne die oorsaak van SA se ‘oorbeweide’ ekonomie, ‘uitgeteerde’ infrastruktuur en ‘geërodeerde’ dienslewering is.

  • 12 April 2019
  • Vrye Denker
  • 6 min om te lees
  • artikel 21 van 23
  • Nicolaas Hanekom


BEURTKRAG, korrupsie, staatskaping, swak dienslewering en bankrot staatsinstansies en munisipaliteite is alles simptome van ’n sekere ekonomiese stelsel. Hierdie simptome sal met ons bly so lank as wat hierdie stelsel toegepas word.
Enige land wat hierdie stelsel toepas, word aan soortgelyke simptome gekenmerk. Dit het dus niks met Suid-Afrika se eiesoortige faktore soos ras, apartheid, armoede, gebrek aan opvoeding, moraliteit en etiek te doen nie. Hierdie simptome is die onafwendbare gevolge van die gekose polities-ekonomiese stelsel.
Die ekonomiese beginsel van die “tragedie van die gemeenskaplike” (Tragedy of the Commons) beskryf die terminale siektetoestand waaraan ons samelewing tans ly.
Die ineenstorting van Eskom en ander staatsinstellings en die wegholkorrupsie is die logiese gevolge van hierdie tragedie van die gemeenskaplike. Dié ekonomiese beginsel beskryf hoe rasionele individue wat onafhanklik van mekaar in eie belang optree, die breër gemeenskap verarm deur ’n hulpbron uit te put wat gesamentlik deur almal besit word.
Die opinie van die president dat “ons gesamentlik verantwoordelik is vir Eskom” verklaar die ingesteldheid wat aanleiding gee tot beurtkrag, swak treindienste, staatskaping en mislukte rioolstelsels. Net soos wat kennis van die fisiese wetenskap ons bemagtig om die sonsopkoms te verstaan en te voorspel, maak die ekonomiese wetenskap dit moontlik om die ineenstorting van dienslewering te verstaan en te voorspel.
Besoekers aan die kommunale gebiede (voormalige tuislande) merk dadelik die gebrek aan infrastruktuur, die oorbeweiding, gronderosie en uitgeteerde beeste, skape en bokke op.
Dieselfde ekonomiese verskynsel wat tot hierdie faktore aanleiding gee, verklaar tans die agteruitgang van infrastruktuur in Suid Afrika, die “oorbeweiding” van die staatskas, die erosie van goeie bestuurspraktyke en die “uitgeteerde” toestand van openbare finansies en dienslewering.
Die siektetoestand wat tot die tuislande beperk was, is deur die huidige regering deur die land tot in elke staatsonderneming en munisipaliteit versprei.
Die groen, golwende heuwels met goeie landbougrond en hoë reënval in die stamgebied word deur 'n aantal families gedeel. Hulle bly in netjiese huisies op die heuwels en hul beeste loop saam in die veld. 
Daar is egter groot probleme in hierdie idilliese samelewing. Daar is 'n konstante mensgemaakte droogte, die veld is oorbewei, en omdat die beeste se ribbes uitsteek, is hulle ook onvrugbaar. Die mense leef in armoede sonder lopende water, riolering of elektrisiteit. Hoekom is hier armoede te midde van oorvloedige hulpbronne, terwyl die aangrensende kommersiële boere welvarend is?
Die gebrek aan verantwoordelikheidsin, wat onlosmaaklik deel van privaat eiendomsreg is, veroorsaak die armoede in die kommunale gebied. Eiendomsreg en verantwoordelikheidsin gaan hand aan hand. Kommunale besit word aan die gebrek aan verantwoordbaarheid gekenmerk. Die stelsel self diskrimineer teen verantwoordbaarheid en beloon onverantwoordelikheid.
Eiendomsreg moedig die kommersiële boer aan om verantwoordelikheid te neem vir die drakrag van sy plaas en sy veegetalle te beperk. Eiendomsreg beteken dat dieselfde individu wat die winste maak ook die koste dra. Indien die boer sy plaas oorbewei, daal sy inkomste, asook die waarde van sy eiendom.
Hy neem dus volle verantwoordelikheid vir die beskerming van die hulpbron. Sy beeste se aanteelsyfer is goed omdat sy weiding gesond is.
Die stamlede net anderkant die grensdraad deel gemeenskaplike grond. Daar lyk dinge sleg, want die gebrek aan eiendomsreg motiveer elkeen om so veel as moontlik beeste aan te hou wat die ander lede se weiding kan opvreet voordat hulle beeste sý weiding opvreet.
Die persoon wat die meeste beeste besit, ontvang die grootste inkomste, terwyl die koste van oorbeweiding gelykop deur die hele gemeenskap gedra word. Sy welvaart veroorsaak die ander lede se armoede. Hy privatiseer die wins en nasionaliseer die koste.
Kommunale besit motiveer en ondersteun dus die mees gewetenlose persoon om die hulpbron maksimaal uit te put.
Onder hierdie omstandighede is die ineenstorting van die hulpbron onafwendbaar. Wanneer 'n gemeenskaplike hulpbron gedeel word, motiveer dit die ondernemer om die hulpbron so vinnig en so veel as moontlik te “ontgin” voordat ander lede van die gemeenskap hom voorspring.
Onder kommunale besit is daar geen motivering vir enigiemand om verantwoordelikheid te neem vir die bestuur van die weiding nie. Indien een persoon die grootte van sy kudde beperk om die weiding te spaar, kom sy buurman en laat vreet sy weiding op.
Die afwesigheid van verantwoordbaarheid dryf en waarborg dus die uitbuiting, misbruik en ineenstorting van die hulpbron. Dis nie slegs verantwoordbaarheid wat afwesig is nie, maar daar is ook ’n sterk finansiële motivering om tot nadeel van die groep en die hulpbron op te tree.
Gemeenskaplike besit lei tot 'n gebrek aan individuele verantwoordbaarheid. Die motivering om beste praktyke toe te pas, die hulpbron te beskerm en volhoubaar te maak, is afwesig. Die stelsel straf verantwoordelike optrede en beloon onverantwoordelike optrede. Die stelsel bevorder ook die mees gewetenlose individue en diskrimineer teen etiese en morele gedrag.
Bogenoemde beskryf en verklaar die omstandighede by staatsinstellings en ANC-munisipaliteite. Die huidige regering pas die beginsels van kommunale besit regdeur die ekonomie toe. Die ANC-beleid verklaar dat die verantwoordelikheid nie by enige individu lê nie, maar dat die hele gemeenskap verantwoordelikheid aanvaar. Indien die ANC 20 miljoen ondersteuners het, dra elke kader, raadslid en politikus slegs een twintigmiljoenste deel van die verantwoordelikheid. Die toerekeningsvatbaarheid is dus basies zero.
Die sosialistiese aard van die ANC, in kombinasie met die kiesers se agtergrond van kommunale grondbesit, motiveer dus die uitbuiting van gemeenskaplike hulpbronne sonder dat enigiemand daarvoor verantwoordelik gehou word.
Dit is dus onvermydelik dat instellings onder ANC-beheer die gevolge en simptome van gemeenskaplike besit sal weerspieël. Dit beteken dat dienslewering oor die hele land sal daal tot op die vlak wat in tradisionele stamgebiede geld. Hierdie skokkende werklikheid word basies deur die ANC se Vryheidsmanifes gewaarborg. Onder die huidige regering word winste in die hande van kaders geprivatiseer, terwyl die koste in die hande van belastingbetalers genasionaliseer word.
Eskom is dus ’n “gedeelde hulpbron” waar die winste na die mees gewetenlose individue en die begunstigdes van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gaan, terwyl die koste van die “oorbeweiding” en plundery deur die hele gemeenskap gedeel word.
Dieselfde simptome van kommunale besit wat ons in stamgebiede sien, word dus by Eskom herhaal. Die verval van staatsinstellings is die logiese en onafwendbare gevolg van kommunale besit. Die onetiese optrede van SEB-begunstigdes en staatskapers word met kontant en mag beloon, terwyl die aksies van kundige, etiese en hardwerkende mense met afdanking gestraf word.
Slegs die privaat besit van hulpbronne (privatisering van staatsinstellings) kan die nodige verantwoordelikheidsin en dissipline herstel om effektiewe dienslewering te verseker.
Die ontwerpfout van gedeelde hulpbronne sal die gesofistikeerde infrastruktuur en dienslewering afbreek om die stelsel van kommunale reg te reflekteer. Die hele Suid-Afrika sal soos ’n tuisland lyk, nie andersom nie. Die gebrek aan infrastruktuur in die tuislande dien as voorbeeld van ons toekomsverwagting onder kommunale stelsels.
Die ou Eskom en die Suid-Afrikaanse Weermag was kommunale stelsels wat wel uitstekend gewerk het en volhoubaar was. Dit verskil van die huidige mislukte stelsel omdat verantwoordbaarheid en dissipline by bogenoemde instansies met 'n ysterhand afgedwing is en oortreding is swaar gestraf.
Indien ons voortgaan met hierdie tragedie van die gemeenskaplike sal dienslewering verder ineenstort. Selfs die gemeenskaplike hulpbron waarop die hele ekonomie gebou is, naamlik die geldeenheid, sal weens dieselfde redes geërodeer word. Die ANC se ekonomiese beleid waarborg ook die voortgesette “oorbeweiding” van die staatskas, verdere “erosie” van dienslewering en die “uitgeteerde” koopkrag van die welsynstoelae.
“Wanneer die samelewing uit onkunde die veragtelike vereer en die eerbare verag, moraliteit straf en kriminaliteit beloon, skadelike praktyke aanmoedig en voordelige praktyke ontmoedig, valsheid vereer en die waarheid verloën, dan draai ’n nasie sy rug op voorspoed en kan die situasie slegs deur die verskriklike lesse van katastrofe reggestel word.” – Frédéric Bastiat (1850)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.