Die Ace Magashule wat ék geken het

Met ys, ja

Die Ace Magashule wat ék geken het

JONATHAN JANSEN was sewe jaar lank vise-kanselier van die Universiteit van die Vrystaat. Hy móés saamwerk met die man wat in dié tyd premier was: Ace Magashule. Die politikus wat Jansen leer ken het, is meer kompleks as die eendimensionele beeld van gangster wat die ANC se sekretaris-generaal opgebou het.


SEWE jaar lank moes ek saam met die man werk wat almal in die Vrystaat kortweg “Premier” (sonder die bepaalde lidwoord) genoem het. Premier het dít gesê, Premier het dát gesê. Ek het geen keuse gehad nie as om saam met die man te werk wat later die sekretaris-generaal van die ANC geword het – Ace Magashule. As visekanselier van ’n universiteit met ’n mediese skool is die verhouding tussen die premier en die rektor uiters belangrik.
Personeel vir die mediese skool word in diens geneem volgens sogenaamde “gesamentlike aanstellings”, wat beteken die universiteit stel die dokters aan vir hul akademiese verpligtinge, maar hulle word ook deur die provinsiale regering aangestel vir hul professionele verpligtinge in die staatshospitale. Hierdie reëling is uiters veeleisend vir die leierskap van ’n universiteit met ’n mediese skool. In ’n provinsie soos die Vrystaat was dit ’n absolute nagmerrie.
Ek het maklik 30% van my bestuurstyd niks anders gedoen nie as om die politieke, finansiële en akkrediteringsbedreigings vir die Universiteit van die Vrystaat (UV) se mediese skool te hanteer.
Hier is een voorbeeld van hoe probleme ontstaan. As “die provinsie” nie poste adverteer en akademiese dokters aanstel nie weens ’n gebrek aan fondse (die algemeenste verskoning in hierdie streek), of ’n politieke onderonsie oor ’n “wit” aanstelling of bloot weens burokratiese onbeholpenheid, is die opleidingsplatform vir voornemende dokters onmiddellik in gevaar. Dan bestaan die moontlikheid dat die MBChB (die basiese mediese graad) se akkreditasie teruggetrek kan word. As die akkreditasie verval, is daar ernstige gevolge vir die universiteit.
Ace altyd hoflik, besorgdDaarom was dit noodsaaklik dat ek die lyn na die premier se kantoor oop moes hou: Om druk uit te oefen dat geld dringend beskikbaar gestel word of dat akademiese dokters tydig aangestel word. Dit was ’n daaglikse stryd.
Wat ek wel kan sê, is dat ek te alle tye die volle samewerking van die premier gehad het. Hy het altyd hoflik, besorgd en ten volle toegewyd aan die akademie by UV voorgekom. Dikwels het hy na my kantoor toe gekom vir ’n vergadering eerder as om te vra dat ek na sy redelik beskeie kantoor ry.
Ek onthou dat hy, anders as die meeste politici, my oproepe binne ’n uur sou beantwoord nadat ek ’n boodskap by sy personeel gelos het. Ons het ’n verhouding gehandhaaf wat gegrond was op wedersydse respek en samewerking selfs wanneer daar spanning was tussen die hoofsaaklik wit akademici in die mediese skool en die swart hospitaalbestuurders. Dikwels het ons met moeilike personeelvergaderings saam as voorsitter opgetree om só faksies nader aan mekaar te bring.
Arm studente gehelp
Iets waarvoor ek die premier bewonder het, was sy volkome toewyding aan finansiering vir behoeftige studente. Aan die begin van elke akademiese jaar sou hy my vra vir ’n lang lys van alle studente wat befondsing gekort het, en dan het hy onvermoeid gewerk om geld te bekom om hierdie behoewende studente te help.
Ek het met ’n valkoog dopgehou dat die geld nie net gegaan het aan studente wat sy party se jeugbeweging ondersteun het nie. Ek het egter geen rede tot kommer gehad nie, want alle studente is oorweeg vir geldelike hulp van die premierskantoor.
Dit was juis hierdie premier se LUR vir onderwys wat my kom spreek het om die universiteit se hulp te vra om nuwe lewe in onderwys in die provinsie te blaas. “Ons hou nie van jou nie omdat jy altyd die party kritiseer,” het die LUR gesê, maar vinnig bygevoeg: “Kan jy ons met die skole help?”
Ek weet hierdie versoek sou beslis nie sonder die premier se goedkeuring gekom het nie, en deesdae behaal die Vrystaat vir die eerste keer van die beste gemiddelde resultate in die Graad 12-eksamen.
Gerugte oor korrupsie
Ja, daar was altyd gerugte van korrupsie. Ja, elke nou en dan is daar gepraat oor politieke opponente wat “uitgehaal” is. En natuurlik het almal gepraat oor die korrupte tenderprosesse in die Vrystaat wat almal al langs die lyn af van groot- en kleindorpse parasiete verryk het. Maar ek het by my primêre missie gehou, naamlik om die universiteit se reputasie vir topgehalte mediese opleiding te beskerm en om te verseker dat die verhouding tussen die UV en die provinsiale regering positief bly.
Ek het geen rede om baie van die korrupsie-aanklagte teen die premier in Pieter-Louis Myburgh se nuwe boek, Gangster State, in twyfel te trek nie.
Ek was diep ontsteld toe ek gehoor het van sy ras-deurspekte opmerkings waarin hy swart mense gevra het om nie vir umlungu (wit mense) te stem nie. En ek is steeds woedend oor die booswigte wat die bekendstelling van Myburgh se boek in Sandton ontwrig het, en die flou, laat en teenstrydige reaksie van die regerende party.
Ek het oplaas besluit om hierdie rubriek voor te lê deels omdat ek nog altyd agterdogtig was oor simplistiese, vereenvoudigde joernalistieke berigte oor leiers en hul lewens.
Hierdie premier se verhaal is beslis meer kompleks as die eendimensionele weergawes van sy rol binne die Suid-Afrikaanse demokrasie.
Nogtans is dit dringend noodsaaklik dat die korrupsie-aanklagte teen die voormalige premier sonder vrees of gunsbetoon in die land se howe getoets word.
Totdat dit gebeur, bestaan daar ’n werklike gevaar dat selfs ’n hele boek se narratief oor korrupsie deur hierdie senior politikus net nóg ’n mediaskandaal gaan wees wat in die vergetelheid gaan verdwyn wanneer ons aanbeweeg na die volgende onthulling oor nog ’n skelm politikus.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X