LESERSBRIEF | ‘Ek weier om myself ’n Afrikaner te noem’

Oranje blanje blues

LESERSBRIEF | ‘Ek weier om myself ’n Afrikaner te noem’

‘Die mense wat hulself trotse Afrikaners noem, is gewoonlik die ou Nasionaliste en nasionaliste'


DANKIE dat ons weer ons Vrye Weekblad kan geniet Vrydag en oor die naweek! Dit stel nie teleur nie en voldoen aan my verwagtinge. Ek het reeds verskeie van die artikels vinnig gelees en geniet die sterk Afrikaans en onverskrokkenheid.
Maar een ding kwel my steeds. En dit kom my voor dat ek hierin verskil van Max en vele ander wit Afrikaanssprekendes: Ek weier om myself 'n Afrikaner te noem en vind die term steeds gelaai. Die mense wat hulself trotse Afrikaners noem, is gewoonlik die ou Nasionaliste en nasionaliste. Die ouens wat steeds die ou oranje-blanje-blou aanhang, met alles wat daarmee saamgaan. Dié aan die regterkant van die spektrum wat steeds hunker na die ou Suid-Afrika. Ek was nooit deel van daardie kamp nie en wil nooit daarvan deel wees nie. Ek is 'n trotse Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner (en ook toevallig wit) en dank my sterre, 'n trotse Afrikaan. 
Miskien kan ons 'n debat hieroor in die VWB sien? Dit kom my voor dat ek steeds in die minderheid is in my standpunt, maar dit is vir my niks ongewoons nie. In Perth is mense (ander Suid-Afrikaners, Australiërs en mense van elders) telkens verstom as ek sê ek verlang na die huis en hoop om terug te gaan. Wanneer ek in Suid-Afrika is, is mense van alle kleure en geure net so dikwels verbaas. Maar dis oukei. Ek kan daarmee saamleef. Ek was ook destyds uit pas met die apartheidsregering en my wit medeburgers.
Louis de Villiers
(Geredigeer)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X