LESERSBRIEF | ‘In so ’n oomblik is die suiwerste taal, net die stilte’

Die ironie van ons geskiedenis

LESERSBRIEF | ‘In so ’n oomblik is die suiwerste taal, net die stilte’

‘Ek onthou nog goed die dag in September 1966 toe ek as 'n Voortrekker in 'n spraakkoor opgetree het.'

  • 19 April 2019
  • Vrye Denker
  • 2 min om te lees
  • artikel 31 van 33


EK onthou nog goed die dag in September 1966 toe ek as 'n Voortrekker in 'n spraakkoor opgetree het – onthou dié ou woord? Ja, dis reg: 'n spraakkoor. Met ander woorde 'n koor wat gepraat word, nie gesing word nie.
Die tafereel het hom afgespeel in die Moedergemeente se kerksaal ná die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd. In lewe eerste minister van Suid-Afrika en in dood, verewig, die hoëpriester van apartheid.
Dele wat ek kan onthou, het so geklink:
Spraakkoorspreker 1: “Dit was 'n dag van son, dit was 'n dag van saffier, maar net tot tweeuur namiddag.”
Spraakkoorspreker 2: “Toe het die son sy gele glans verloor en die Suid-Afrikaanse lug sy bloute.”
Spraakkoorspreker 3: “Toe het ons, kinders van die suide, 'n geliefde eerste Minister verloor.”
… en dan die kraker: “In so ’n oomblik is die suiwerste taal net die stilte.”
Die laaste reël was my alleenspraak. Ek het dit al dikwels weer gebruik. Met groot effek. Somtyds as humor. Somtyds as 'n gelaaide afkeuring. Minagting met 'n klanklose uitroepteken! Somtyds om die oomblik te onderstreep:
“In so ’n oomblik is die suiwerste taal net die stilte.”
En nou is ons weer op pad na so ’n oomblik – die verkiesing van 2019. Stilte is ons suiwerste taal, anders oorweldig die sooibrand ons dalk. So in dié oomblik verlustig ek my liewer om te dink aan Nelson Mandela. In lewe president van demokratiese Suid Afrika. In dood, verewig: “a giant of history,”  om CNN en ander aan te haal.
Die man wat almal heupswaaiend op die voete kon bring om saam te dreunsing ... Mandela ... Mandela ... Mandela ... Nelson Mandela.
Met sy dood het ons almal, die kinders van ons planeet, 'n geliefde vader verloor. Nelson Mandela, by wie ek 'n sin vir waardigheid geleer het – vir myself en vir ander. Nelson Mandela, wie se beleg van 27 jaar uiteindelik apartheid verwoes het. Voor wie selfs koningin Elizabeth wou buig. Nelson Mandela, wat geharde middeljarige wit boere uit vrye wil laat opstaan het – om hom toe te juig.
Ek dink weer aan sy lewe, sy lang pad vir ons almal. En ja, in so ’n oomblik is die suiwerste taal net die stilte. Want 'n mens kan maar net sprakeloos in verwondering staan dat een mens soveel kon doen. So sonder grense tot binne in ons almal se menswees kon inkom. So geloofwaardig kan wees.
Kom ons gaan stem, want Nelson Mandela se heel eerste woorde as president van Suid Afrika was: “Nooit, nooit, nooit …” Sy boodskap was dat ons nooit weer mag vertrap, verneder en vermors nie. Vryheid, menswaardigheid, staatskaping, korrupsie, kotswekkende amoraliteit, transformasie en plek-in-die-son, is die groot goed waaroor ons almal kan gaan stem. So maak jou stem dik. Skryf geskiedenis. Mandela verdien dit.
Daar is so min Mandelas vir wie ons al heupswaaiend op die voete wil kom om saam te dreunsing; in 'n universele koor van woorde waarmee alle mense vryelik kan vereenselwig: Mandela ... Mandela ... Mandela ... Nelson Mandela.
Frans Antonie
(Geredigeer)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.