LESERSBRIEWE | Taaldebat: Ag nee, mense, reëls is reëls!

Doodverkeerd

LESERSBRIEWE | Taaldebat: Ag nee, mense, reëls is reëls!

Daar was 'n klomp lesers wat sommer lekker verontwaardig geraak het omdat ons met die reëls wil karring.

  • 19 April 2019
  • Vrye Denker
  • 3 min om te lees
  • artikel 30 van 33


Dit gaan oor fonetiese patrone
NET om te laat weet wat die eintlike redenasie is agter die skryfwyse van wat julle ’n “gogga soos Tsjetsjnia” noem. Dit is beslis nie ’n reaksie teen Engels nie, want Engels doen presies dieselfde; trouens, in alle tale word woorde wat oorspronklik in 'n ander alfabet geskryf is, soos Russies, getranskribeer op 'n manier wat soos die oorspronklike klink, dit wil sê foneties. Elke taal het sy eie fonetiese patroon. Afrikaans doen dit anders as Engels, net soos wat dit ook anders in Frans gedoen word. In Nederlands is die Kmer Rouge die Roode Kmers. Tale se ideosinkrasieë maak hulle interessant. Moet asseblief nie die kind met die badwater uitgooi nie! – Francois Smith
Praattaal en skryftaal is nie dieselfde nie
Ek wil net gou verskil met Max oor die gebruik van Afrikaans. Ons moet verstaan dat daar praattaal en skryftaal is. Praattaal is wat my betref buigbaar en oor tyd sal baie woorde en sêdinge van die praat taal opgeneem word as deel van die taal en dit is hoe enige taal ontwikkel oor tyd. Die skryftaal moet korrek gedoen word en die taalreëls volg. – Henk Steyn
Sies, dit is ’n Amerikanisme!
Ek stem saam met jou gebruik van Afrikaans, behalwe as dit kom by “biljoen”.
Die “internasionale metrieke stelsel SI” (kopie van voorblad aangeheg) skryf voor dat “miljard” die regte voorvoegsel is vir duisend miljoen, en “biljoen” vir miljoen miljoen. Die gebruik van biljoen vir duisend miljoen is ’n Amerikanisme. – Dr. Pieter E. Claassen
Ons moet waak teen luiheid
Ek stem saam oor die meeste items in die taaldebat, maar sou miljard verkies omdat dit is soos ek praat. Kan ek smeek dat huidiglik soos een van die Engelse woorde gebruik sal word wat net is omdat die persoon te lui is om te besef die woord is tans. – Louis Hauman
Hoekom het ons dan woordeboeke?
Ai, dis so jammer dat jul standpunt ten opsigte van taalgebruik is: “Niemand wat ons ken gebruik dit as hulle praat nie.”
Waarom dan nog woordeboeke, spelreëls en stylgidse? Dis geen wonder dat niemand meer kan spel of suiwer Afrikaans praat nie – dit lyk my die standaard van goeie Afrikaans het – soos met alles in ons land – gedaal. Vroeër kon leerders, studente en Jan Alleman Die Burger (een voorbeeld van ’n destydse goeie Afrikaanse koerant) as ’n betroubare verwysing gebruik vir goeie Afrikaans. Nie meer nie. Vroeër het onderwysers alles in hul vermoë gedoen om die standaard van Afrikaans hoog te hou – nie meer nie, want daar is nie meer ’n duidelike lyn tussen reg en verkeerd nie. – Annami Simon
Biljoen werk net nie
Jammer, “biljoen” werk nie. Inderdaad, “Afrikaans is nie Nederlands nie”, anders sou Engelse woorde gebruik word sonder om te dink — en dis “lui” (indien nie afstootlik nie).
Feit is: “Miljard” is al so stewig gevestig dat “biljoen” na ’n klakkelose Anglisisme klink. “Miljardêr” het aanvanklik vreemd geklink, maar het eintlik net meer herhaling nodig om verteerbaar te wees.
 Trouens, “miljard” behoort nie vreemd te wees nie: Die Britte, Franse en Italianers gebruik dit ook. Dis die Amerikaners wat dit opgeneuk het vir die res van die wêreld, dalk omdat hulle dit nie kon uitspreek nie.
 Daar is groter taaldinge wat pla – soos spelling en los- en vasskryf, wat ek (dikwels) nie sonder ’n woordeboek kan doen nie. Dalk is dit die “reëls” (uit skooldae) wat vergeet is. – Dan Weber
Biljoen is doodgewoon net verkeerd
Die ding is: Om biljoen te gebruik in plaas van miljard is nie ʼn teken van “groei” of dat die taal “lewend” is nie; dit is doodgewoon net verkeerd. En iets word nie waar en reg net omdat baie mense so dink nie. Destyds toe min of meer die hele wêreld se bevolking vas geglo het die aarde is plat en die son draai daaromheen, was die heelal steeds heliosentries en die aarde 'n sfeer. – Stefan Coetzer

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.