LESERSBRIEWE | Taaldebat: Gooi hom!

Grille en nukke

LESERSBRIEWE | Taaldebat: Gooi hom!

'n Samevatting van die lekkerste briewe in ons sappige taaldebat.


Dwars in die krop
ʼn Ander verskynsel wat my in die praattaal opval, is dat “daarvan", “daardeur", “daarop", “daarmee", ensovoorts, toenemend met “van dit", “deur dit", “op dit", “met dit", ensovoorts, vervang word. Dit steek my dwars in die krop, maar nou ja, die praters bepaal seker die taal wat gepraat word. Ek sien dit nie bra in die geskrewe taal (koerante, ensovoorts) nie. – Bertie van Zyl
Ek speel golf, nie gholf nie
Ek stem saam dat ons moet skryf soos ons praat. As ek golf speel, speel ek nie gholf nie, ek put op die green en set nie op die setperk nie, maak hopelik ʼn birdie en nie 'n voëltjie nie en het darem al drie keer 'n hole in one gehad. – Dawie Malan
Lees soos ons praat
Dit is lekker om Afrikaans te lees soos ons praat, nie soos die Akademie dit verkies nie. En ja, ons moet die taal ook in ag neem soos wat ander Suid-Afrikaners dit gebruik, byvoorbeeld in die Kaap, Noord-Kaap ens. Hulle praat ’n ander tipe Afrikaans, en ek bedoel nie vloekwoorde nie ... – Christo Venter
Hie kô ʼn ding!
Gebruik asseblief die taal soos ʼn jong, lewendige, ongebreidelde perd. Laat hom hardloop, spring, stofskop, runnik van vreugde, gatskop waar nodig, en laat waai!!!
Ek sien uit na hierdie nuwe publikasie – en vir seker gaan julle op suurknolle se liddorings trap, maar moet julle asseblief nie te veel aan hulle grille of nukke steur nie.
Voorwaarts, Burgers – hie kô 'n ding!! – Hennink Nieuwoudt
Ag, waar is die bleddie kappie nou weer?
Ek kan nie meer saamstem met die “jul”-nee-“julle”-beleid oor Afrikaans soos ons hom hoor en praat nie. Die een ding wat mens, wanneer jy in die werklike wêreld (ag, waar's die bleddie kappie nou weer, is dit Alt of Ctrl en 149 of wat?) tussen Afrikaans en Engels moet oorskakel, deurmekaar maak, is die miljard en biljoen ding. 'n Engelse spreker of artikel verwys na “billion” en ek moet telkens nou eers weer dink aan ’n Afrikaanse reël wat die een of ander puris in ’n studeerkamer uitgedink het waar net Afrikaans gedink en gepraat word.
Ns: “Brasília" is die hoofstad van “Brasil” (soos geskryf deur die mense wat daar woon. Let op die aandagteken op die eerste “i") Nou kom ons met “Brasilië" en “Brazil” vir die land se naam en die hoofstad dan? Hoekom nie net Brasil nie? – Arnold van der Linde
Ditsem!
Ditsem, Max!! Amper sê ek b***sem, dit klink te lekker. Met loslit en nie losgat nie is julle in die kol. Laat Vrye Weekblad ook sy vryheid ten opsigte van die Afrikanse taal self bepaal. Dit is al manier hoe Afrikaans gaan voortbestaan. Die taalpuriste gaan dit nie regkry nie. In elk geval nie soos hulle skryf en met die reëls wat hulle voorskryf nie. Afrikaans moet gepraat word. En selfs as ons skryf, moet dit met ons praat. Anders hoor ons dit nie. – Jan Grobbelaar
Kreools
Ons moet minder pedanties raak om suiwer Afrikaans te praat. Ons moes al lankal ’n Suid-Afrikaanse “kreools” begin praat het sodat almal mekaar kan verstaan.
Taal is dinamies. Skryf dit soos ons dit praat, en gebruik tog asseblief internasionaal erkende terme soos hashtag (hutsmerk?) en dot com (punt kom??) sonder skroom. China en Oxford is net reg. – Elize Gouws
Kap hom soos in die rooi taal
Baie lekker om die debat dop te hou, maar ek stem saam – laat ’n biljoen en ’n triljoen liewer dieselfde beteken as in die Rooi taal. Netnou betaal een of ander boertjie heeltemal te veel vir ’n steenkoolmyn … – Neil Grobbelaar
Loslit
Dankie vir die jeugdige kragtigheid van Vrye Weekblad se taalgebruik. Ek hou daarvan. Loslit lees en skryf. – Hantie Kruger
Omhels die taal soos hy is
Ek sê nie ons moet commin raak nie, maar dis lekker om te lees soos ons tog praat, of hoe?
My gevoel is dat ons Afrikaans eerder moet omhels soos dit gebruik word, en nie probeer afdwing soos wat taalkundiges wil hê ons moet dit gebruik nie. Dit sal nie werk nie. In elk geval is Afrikaans, soos enige taal, ’n lewende taal, wat aanpas soos wat dit gebruik word. As ons dit staties probeer hou soos wat dit 30 jaar of meer gebruik was, dan sal dit sterf. As voorbeeld, daar is min mense wat regtig Engels verstaan soos wat dit geskryf en gepraat is 100 tot 200 jaar gelede. Hoekom dink julle het ons (ten minste ek) so gesukkel met Shakespeare? :-) – Christo Venter
Miljard maak my deurmekaar
Kolskoot!!!! Ek is ʼn 56-jarige Afrikaanssprekende en die miljard maak my heeltemal te deurmekaar – so welgedaan en julle het my steun! –Beanie Hogewind-Sacks
Geen pretensie asseblief
Dankie tog vir gemaklike Afrikaans sonder pretensie of hoogdrawendheid! – Hanta Theron
Welkom op dieselfde planeet
Hoog tyd ons praat dieselfde taal as die res van die planeet, veral wiskundig (biljoen in plaas van miljard, maar veral triljoen in plaas van biljoen). – Kobus Ross
In lyn met markpraktyk
Ek stem heeltemal saam met die benadering tot Afrikaans. Die voorbeeld van ’n biljoen is baie relevant en in lyn met die markpraktyk. –Tertius Liebenberg
Taaltoffies
As ouer (gewoonlik meer kritiese) leser stem ek heelhartig saam met hoe julle die taaltoffies hanteer. Wat die gebruik van “hul” betref, lees dit dalk makliker. – Annie le Roux

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.