Simpel vrae en simpel antwoorde

Standpunt

Simpel vrae en simpel antwoorde

Eenvoudige vrae lei tot eenvoudige antwoorde, en joernaliste is die hekwagters wat teen dié simplisiteit moet waak, veral omdat ons met propperse tameletjies soos die grondvraagstuk (ons eie Brexit) op hande sit. JOHAN PIENAAR hoop dat die media, Vrye Weekblad inkluis, lui joernalistiek en “simpel vrae” sal nek omdraai voordat dit te laat is.


Politici en meningsvormers oor die spektrum heen is besig om die land te deurkruis met manifeste en epistels vol antwoorde. Elkeen wil Suid-Afrikaners oortuig dat húlle antwoorde en oplossings dié is wat die land kan red, of in die geval van rasgegronde partye soos Black First Land First (BLF) en Front Nasionaal (FN), dat hulle die redder is wat hulle ras kan red. In die meeste gevalle soek hulle eintlik net ’n lekker joppie vir die volgende vyf jaar.
’n Antwoord is egter net so goed soos die vraag.
Jare gelede het Max du Preez in ’n onderhoud aan my gebieg dat hy ’n swak student was, en wanneer hy homself eksamentyd in die moeilikheid bevind het, het hy altyd as uitweg gekies om fout te vind met die vraag.
Die Britte kan jou alles van vrae vertel. In 2016 is daar ’n vraag aan hulle gestel. ’n Swak, ongenuanseerde vraag. David Cameron se verkiesingsfoefie, gemotiveer deur sy geloof dat die Britse publiek nooit sou stem om die Europese Unie (EU) te verlaat nie en deur ’n behoefte om anti-EU-elemente in sy party te neutraliseer, het hom ’n eenvoudige, dualistiese vraag aan die kiesers laat vra.
Díe vraag – moet Brittanje in die EU bly of moet Brittanje die EU verlaat – het eenvoudig mank gegaan aan kompleksiteit. Die vraag het nie voorsiening gemaak vir die realiteit van ’n gesamentlike Europese geskiedenis post 1945 nie. Dit het nie voorsiening gemaak vir die posisie van Ierland nie of vir handelsooreenkomste of selfs immigrasie nie. Dit het bloot individue se emosionele opinie oor die saak getoets. Die vraag kon net sowel gewees het: Hou jy daarvan om in die EU te wees?
Die vraag het daartoe gelei dat politici aan albei kante gebrekkige antwoorde kon gee. Leuens op ’n bus, idees dat Brittanje weer beheer oor hulle wette sou kon neem in ’n wêreld waar hulle nie net ten nouste met die EU geïntegreer is nie, maar waar die internasionale reg toenemend ’n belangriker rol speel. Die feit dat Brittanje nuwe verhoudings met Europa sal moet beding, is afgemaak deur die Verlaat-kant, wat sonder enige bewyse beweer het dat die onderhandelings die maklikste onderhandelings in die geskiedenis van die wêreld sou wees.
Ook die Bly-kant het swak reageer. Eerder as om ’n komplekse argument aan die kiesers te bied, het hulle verkies om op die publiek se vrees in te speel. Die Verlaters het die poging eenvoudig “Project Fear” gedoop en dit met dié etiket eenkant toe geklap.
Aan albei kante is ’n eenvoudige vraag met eenvoudige antwoorde beantwoord. Die bitter vrugte van die gebrekkige vraag word nou gepluk. Die Britse parlement lyk by die skrywe van hierdie opinie hopeloos verstrengel omdat niemand in die hele veldtog ooit werklik op ’n praktiese vlak moes verwoord hoe hulle idee van Brexit lyk nie.
En nou, meer as twee jaar later, blyk dit dat daar geen konsensus is oor wat Brexit dan nou eintlik beteken nie. Die probleem is egter nie by die politici wat nou worstel om ’n antwoord te vind nie; die probleem het ontstaan by politici wat ’n swak vraag gevra het.
Die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie het al breedvoerig geskryf en gepraat oor die gevare van ’n enkelstorie. Ek vermoed dat die gevaar van die enkelvraag baie erger is. Uiteindelik bestaan die enkelstorie net in die teenwoordigheid van enkelvrae. Dis wat die enkelstorie voed. Komplekse vrae laat die enkelstorie honger ly.
Daar is ’n deurlopende tema in die dikwels gewelddadige aanvalle van radikale elemente op joernaliste en intellektuele wat van hulle verskil. Dit is nie bloot die feit dat daar van hulle verskil word nie. Ek het al te veel sogenaamde politieke vyande heerlik sien saam braai as daar nie ’n skare is om voor te speel nie. Wat die reaksie voorafgaan, of dit nou die dreigement is om akademici te hang of vroulike joernaliste te verkrag, is dat die individue in dié gevalle elke keer gepoog het om kompleksiteit by ’n gesprek in te voer.
Radikalisme van enige aard steun op die enkelstorie. Die vyand is nooit dié wat die teenoorgestelde enkelstorie glo nie, maar eerder dié wat die simplisiteit van die ideologie bevraagteken. Hulle is die gevaar. En dis die hekwagters van kompleksiteit wat aangeval en vernietig moet word.
Joernaliste is die hekwagters wat teen dié simplisiteit moet waak. Vrae vra is letterlik hulle werk. Ongelukkig gebeur dit al hoe minder. Daar is goeie joernaliste daar buite wat effektiewe vrae vra. Maar hulle is ongelukkig aan die verdwyn. In die laaste 20 of 30 jaar het die fokus van joernalistiek verskuif van indringende vrae na die skep van platforms waar idees doodeenvoudig sonder konteks teen mekaar afgespeel word.
Daar is ’n mediese krisis omdat baie ouers nie hulle kinders wil inent nie. Joernaliste is hiervoor te blameer. Pleks daarvan om indringende vrae oor Andrew Wakefield se navorsingsbedrog te vra het hulle bloot sy opinie teenoor dié van gerespekteerde epidemioloë gestel en die indruk gelaat dat die publiek moet besluit wie reg is. ’n Publiek, ek inkluis, wat nie die vermoë het om die argumente te beoordeel nie, maar wat nou gelaat word met die indruk dat die twee opinies gelykstaande is en ewe waardig van ons aandag is. Teen die tyd dat vrae oor Wakefield se navorsing in die media gevra is en die antwoorde tot sy skorsing as dokter gelei het, was dit te laat.Die prys van die luiheid? Die dood van kinders. Dieselfde geld klimaatsverandering, behalwe dat die prys van die lui beriggewing daaroor uiteindelik die dood van die planeet kan beteken. Donald Trump, wat onlangs kompleet met woer-woer-geluide beweer het dat die klank van windturbines kanker veroorsaak, het president geword op die rug van ’n gebrek aan komplekse vrae en ’n joernalistieke korps wat oor elke toenemend belaglike stelling van hom verslag doen – nie deur indringende vrae aan Trump nie, maar deur sy opponente te vra wat hulle mening oor sy belaglikhede is.
Suid-Afrika moet op die oomblik sy eie Brexit-oomblik trotseer. Die grondvraagstuk in Suid-Afrika is ’n geweldig komplekse probleem. Daar is sosiale, ekonomiese, politiese en emosionele komponente aan die vraag. Die antwoorde op die vraag moet meer kompleks wees as die enkelstories van “wit mense het die grond gesteel” en “julle wil die land na ’n tweede Zimbabwe of Venezuela bestuur”.
Die vraag self moet meer kompleks wees as ’n simplistiese vraag oor die wysiging van die Grondwet. Ek bevind myself in die denkskool wat meen dat die voorgestelde wysiging geen magte aan die staat sal toeken wat nie reeds tot hulle beskikking is nie. Die wysiging is, soos die Brexit-referendumvraag, ’n eenvoudige vraag wat verkeerdelik meen dat ’n enkele simplistiese wysiging die antwoord gaan wees op ’n vraagstuk wat verby die regsposisie tot diep in die wese van ons bestaan as Suid-Afrikaners sny.
Onteiening sonder vergoeding as wysiging tot die Grondwet gaan net so suksesvol wees om vrae oor grondbesit en ons verhouding met grond in Suid-Afrika te beantwoord as wat die Brexit-referendum was om vrae oor Brittanje se verhouding met Europa te beantwoord. Die grootste krisis tans vir die Suid-Afikaaanse diskoers is die simplistiese blik op ’n uiters komplekse vraagstuk en die tipe antwoorde wat daaruit kan voortspruit.
My hoop vir Vrye Weekblad II is dit: dat hulle komplekse vrae sal vra in ’n tyd waar die kritieke massa van Afrikaanse joernalistiek na simplisiteit neig. My vrees is dat dit dalk te min, te laat is.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.