Steek uit in Eersterust, Lesufi!

Kyk verby die taal van die onderdrukker

Steek uit in Eersterust, Lesufi!

Dalk moet ons die wit mens uit die taal haal en moet net bruin mense dit praat, sê VIRGINIA KEPPLER. Miskien sal die Lesufi’s van die land Afrikaanses dan beter verdra.


HOE dekoloniseer ek my Afrikaans? Sȇ my hoe?
Dit is die derde grootste huistaal in die land - en dit sluit alle nasies in. So hy is mos nou lankal inklusief.  Moet ons dan die wit mens uit die taal haal?
Wanneer gaan daar opgehou word om Afrikaans en alles wat Afrikaans is te vervloek? Die alewige gekerm dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is, is net ’n manier om haat teenoor Afrikaanses te bevorder en brandend te hou.
Wel, ek weier om verantwoordelik gehou te word vir apartheid net omdat ek Afrikaans praat.  Afrikaanse kinders kan mos ook nie die skuld daarvoor dra nie.
Onthou, daar was net twee soorte toilette, “Blankes” en “Nie-Blankes” of “Swart”. So ek en dies wat so Afrikaans haat, het saam na die “Nie-Blankes”-toilette toe gegaan.
Daarom kan ek nie verstaan waarom Panyaza Lesufi, die LUR vir Onderwys in Gauteng, ons skole in ons bruin woonbuurte verengels nie. Ons skole word gestroop van Afrikaans en ons kinders word gedwing word om in Engels skool te gaan. Ons wat sê nee, fokkit, moet hul kilometers ver uit die woonbuurt na Afrikaanse skole ry. En dié skole is ook stadig maar seker aan die verengels.
Lesufi, wat beteken dit as jy sê skole behoort nou aan almal? As die voedingsradius groter gaan wees? Gaan ons kinders binne dertig kilometer ’n Afrikaanse skool kry?
As die Afrikaans so ’n groot probleem is, moet ons dalk daarna kyk om al ons amptelike tale te skrap en Engels ons enigste amptelike taal maak. Dan is die veld mos gelyk.
Of dalk moet al die wit mense ophou Afrikaans praat en eerder Sotho of Zoeloe praat. Dalk sal die Lesufi’s van ons land Afrikaanses beter verdra as net “ek-hulle” (die bruin mense) dit praat.
Lesufi, die waarheid lȇ in jou getalle, in die syfers van jou departement. Jy het sedert 2004 altesaam 111 dubbelmediumskole na slegs-Engels-skole verander. (Soos ek verlede jaar in The Citizen berig het.)Van dié skole is 43 in bruin woorbuurte, waar mense oorwegend Afrikaans is. Nou vir wie word daar eintlik gelieg? Die ergste is dat jy sȇ jy doen dit alles om “transformasie” en “inklusiwiteit” te bevorder.Kan Lesufi asseblief opstaan en aan Afrikaanses verduidelik waarom sy inklusiwiteit vir ons uitsluit? Wanneer bevorder hy die Afrikaanse kind ook?
Hoekom word die Afrikaanse kind uit sy gemeenskap uitgesluit en gedwing om na Afrikaanse skole buite sy woonbuurt te gaan soek? Waar is die inklusiwiteit hier?
Lesufi, wanneer het jy met ons gemeenskappe gesit en gesels, gekonsulteer om uit te vind hoe jou “oorlog teen Afrikaans” ons raak en laat voel? Nooit! En hoekom sal jy, nè.
Ek stel voor Lesufi kom kuier bietjie hier tussen ons mense, die gewone ou op die grond. Kom drink tee met ’n koeksister of ’n bier sodat ons jou kan vertel van Afrikaanses en wat jy aan ons Afrikaans doen.
Dan sal jy hoor hoe mooi die klanke van Afrikaans oor onse tonge rol, hoe dit van streek tot streek gepraat word. Want jy sien, dit bruis in ons bloed.
Dalk sal jy verby die onderdrukker-Afrikaans kyk en net die mooi Afrikaans sien - en net so hard vir ons Afrikaanse kinders veg soos wat jy geveg het vir die 55 Engelse leerlinge om by Overvaal Hoërskool in Vereeniging, 'n Afrikaanse enkelmedium-skool, ingeneem te word. Ten minste sal dit ’n gewaardeerde geveg wees en niemand sal seerkry nie.
En vir die wat nou weer gaan “You know and she said”: Om Engels te praat en in Engels te leer, beteken glad nie jy of jou kind is beter geleerd of slimmer as die Afrikaanse kind nie.
Dit beteken jy laat jou kind sy moedertaal verwerp, maar dit is jou keuse.
So Lesufi, net omdat jy Afrikaans uit ons skole dwing, beteken dit nie ek sal dit ophou praat nie. Want jy sien, my ma het Afrikaans gepraat, en haar ma. Ek praat Afrikaans, my kinders praat Afrikaans en hul kinders sal ook Afrikaans praat.
En solank as wat ek in Afrikaans droom, het jy die oorlog verloor.
“So steek uit in Eersterust, my ou!”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.