Afrikaner, dis nie die tyd om stil te bly nie

WIT SKULD EN WITHEID

Afrikaner, dis nie die tyd om stil te bly nie

Ons is kniediep in die modder oor wie mag praat, wie mag besit, wie mag toi-toi, skryf MERCY KANNEMEYER, 'n millenniër. Ons almal woon in huise van glas, en daarom trap ons maar suutjies.


Wit mense moet meer saam met mekaar praat.
Eers ’n vrywaring: Hierdie artikel geld vir almal wat hulle as Afrikaner identifiseer. Daarom, nie alle wit mense nie. Self-identifikasie is belangrik. Daar moet egter ruimte gemaak word vir vryheid van assosiasie en mense wat hulle nie met hul kultuur of mense wil identifiseer nie.
Net soos daar nie een soort bruin mens is nie, is daar nie een soort wit mens nie. Almal moet natuurlik nie oor dieselfde kam geskeer word nie, want dit is bloot onregverdig.
Ek wil nie bydra tot die geraas nie. Daar is op die oomblik genoeg lawaai in die media. Die verkiesing is op ons drumpel.
Sommige kunstenaars boikot die Ghoemas. AfriForum is al weer in die buiteland op soek na steun. Kurt Darren mors die landslied op tydens die Varsity-beker op Stellenbosch. Die ANC maak ’n vieslike flater op ’n reklamebord. (Ek wonder nou nog of hulle together of tougher wou skryf. Of miskien is togher ’n nuwe ding wat ons kort. Die ANC moet ons asseblief in kennis stel, want die hemel weet.)
Hoe dit ook al sy, ons word van alle kante af gebombardeer met nuus en nietighede.
Dolke in die hart en dolke in die donker
Maar dis nie nou die tyd om stil te bly nie. Ons moet juis nou praat, want ons almal weet van dolke in die hart en dolke in die donker.
Net soos daar ruimte gemaak moet word vir self-identifikasie, so moet daar verantwoordelikheid geneem word vir die vel waarin jy is. Party mense wil nie en wil graag verby kleur kyk. (Sterkte daarmee wanneer jy by ’n verkeerslig kom!) Sonder dat jou velkleur vir jou iets raak waaroor jy wroeg (byvoorbeeld weens wit skuld) kort daar wel ’n sekere bewustheid.
In Suid-Afrika word ons gefassineer deur velkleur en met rede, want ons geskiedenis is ingewikkeld en die huidige stand van onverdraagsaamheid maak die toekoms nie juis makliker nie. Dink maar aan die gemor oor wit bevoorregting, BEE, regstellende aksie, kwotas . . .
Party mense se ore bloei al as jy oor wit bevoorregting begin gesels, maar dis nie ’n nuwe ding nie. Ons is kniediep in die modder oor wie mag praat, wie mag besit, wie mag toi-toi. Ons almal woon in huise van glas, en daarom trap ons maar suutjies.
Wit skuld en witheid
Die idee van ’n WVK vir die Afrikaner volg ná ’n gesprek met iemand oor wit skuld en witheid. Ons het onder meer gesels oor hoe daar dikwels tydens vurige debat oor ras en ons verlede gevra word dat wit mense eerder stilbly en luister. En hoe wit mense dan voel hulle het nie ’n plek of ’n sê nie. Kan ons dan werklik sê ons woon in ’n demokrasie as almal nie gelyke behandeling kry nie? Of oorskadu ons verlede ons nog so dat ons nie vryelik kan saambestaan nie?
En, ja, ek is 24 en wat weet ek nou van die WVK? Vir sommige kan hierdie mening rassisties lyk. Ander sal meen mense van kleur kan nie rassisties wees nie omdat rassisme juis diskriminasie teen mense van kleur is.
Nietemin wonder ek of daar ná die Anglo-Boereoorlog genoeg tyd was vir diegene wat daardeur geraak is om te gesels en met mekaar versoen te word? Of het hulle vredesonthalwe te vinnig aanbeweeg?
Ek sê nou nie dit is die plek waar al die pyn en lyding van die Afrikaner begin het nie, maar dit is wel ’n gebeurtenis wat groot gevolge vir die toekoms gehad het – net soos die Tweede Wêreldoorlog vir Duitsland en apartheid vir Suid-Afrika. Ek en my vriende was nie daar om dit te ervaar nie, maar die gevolge is op baie plekke vandag nog sigbaar.
Wat ek wel weet, is dat gesprekke oor witheid en wit skuld meer gereeld tussen wit mense moet plaasvind. Sonder om mense weg te stoot en hulle in hoekies te druk, is dit noodsaaklik om te besef dat mense van kleur nie enigiets aan wit skuld kan doen nie. Behalwe om te luister en te probeer verstaan. Daar is wel wit mense wat aktiewe burgers is en hierdie soort gesprekke voer. Kudos vir diegene wat hiermee besig is.
Get a grip
Voor ek gekruisig word as ’n apologeet vir wit mense: Dis maar net die soort dinge waaroor ek wonder. Ek wil graag in ’n verdraagsame Suid-Afrika woon. Ons raak al hoe minder verdraagsaam en dit is soms angswekkend om te dink dat ek nog vir 60+ jaar in hierdie land moet woon. En nee, ek wil nie emigreer nie. Ek wil my land sien werk.
Waar laat hierdie gedagtes my? Dalk by iets eenvoudigs soos: Hou net kop. Wees bewus van die verlede. Wees bewus daarvan dat mense almal swaarkry en dat ons meer empatie aan die dag moet lê. Ai, en waar sal ons wees sonder ’n land wat ons so op ons tone hou?
Ons moet probeer kophou, Suid-Afrika. Ons almal. And we all need to get a flippen grip!
Tot volgende keer, millenniër-groete.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.