Gee terug ons naam. Ons plek. Die vel op ons gesig

HAYIBO!

Gee terug ons naam. Ons plek. Die vel op ons gesig

Dit het net 14 bladsye gekos - en die simboliese geweld van vyf wit vroue-wetenskappers - om ANASTASIA DE VRIES se stoïsisme teen vooroordeel en rassisme soos vel van haar gesig te ruk.


Eintlik moet dié lekke ekke net my lekke bekkie hou. Het dít mos al vroegdag saam met my daaglikse lepel lewertraan ingekry: Mense kan maar dink jy is dom; moet net nie jou mond oopmaak en hul vermoede bevestig nie.
Sorrie, maar soms maak sekere dinge net nie meer saak nie. Laat die wêreld maar vermoed wat hulle wil, praat soes hulle wil. Dié ghoes uit die “poor, lower working-class community” van Ravensmead worry haar skarumba.
Die hele wêreld weet dit tog al: bruin vroue. Kognitief. Agteruit. Só laat dié bruin vrou ook maar praat soos ’n kakielap wat skeur, ja?
Lae kognitiewe funksie; lae filter. Mos.
Kyk, was ek van my jare af toe ek verlede week die Matie-artikel Age- and education-related effects on cognitive functioning in Colored (sic) South African women te lees kry.
Skoons kontverstom, soos ek al van ons Namakwalandse studente hoor sê het. Skrik my toe eers in die koloniale era in waar mens dié soort geskrif sou verwag. Toe sien ek nee, dit staan nogals gedruk en getik in ’n nourie dag se internasionale akademiese tydskrif.
Hayibo!
Wie is díé vroue?
Maar wat geskryf is, is geskryf: “Colored (ja-nee) women in South Africa have an increased risk for low cognitive functioning, as they present with low education levels and unhealthy lifestyle behaviors.” En: “[...] Colored women present with low cognitive function and (hoekom “and”?) which is significantly influenced by education”.
Ek is twee keer deur daai artikel. “Don’t jump to conclusions,” het een van Ravensmead se anties altyd gesê. “Work to conclusions!” Toe werk ek. Nog vyf, ses keer deur daai artikel.Ek was obsessief op soek na antwoorde op die hoekoms en waaroms waarmee die eerste twee lesings van die teks (14 bladsye sonder bronnelys) my gelaat het.Ek wou verstaan wie die 60 vroue uit die sowat 2,7 miljoen bruin vroue in die land is, waar hulle woon, hoe en hoekom juis hulle gekies is, wat die doel van die navorsing was of is, van wat ná die vasstelling van ons kognitiewe agteruitgang sou gebeur, die gronde waarop ons as homogeen geïdentifiseer is, as almal só, ongesond, ongeleerd, hoe skynbaar ingewikkelde berekenings en statistieke tot growwe veralgemenings herlei kon word, en ...
Soos vel van my gesig afgerukMy pa met sy arbeiderhande wat die skool in standerd ses uit broodnood moes verlaat en sy lewe lank ’n geleerde man wou wees, was verkeerd. “Lees,” het hy sy vyf dogters aangesê. “Leer! Soelat niemand eendag vir jou kan sê wie jy is of wat of waar jou plek is nie. Leer!”
Ek is neer teen die aarde, sou ek nou vir hom sê. Sien jy dat die stoïsisme wat ek soos Mamma en Ma voor my teen vooroordeel en rassisme leer beoefen het, soos die vel van my gesig afgeruk is? Dat dit net 14 bladsye gekos het, 14, en die simboliese geweld van vyf wit vroue-wetenskappers om sy dogters hul plek aan te wys, in die miesies se koebys?
Dis nie waar hy my wou sien nie, my pa. Nie op hierdie plek, gedwing om na myself te kyk deur die oë van ander, om myself te meet aan die maat van ’n wêreld wat (dalk steeds) met geamuseerde minagting of bejammering na swart mense kyk nie. Dié woorde oor “double consciousness” in W.E.B. du Bois se boek The Souls of Black Folk lees ek verlede week iewers raak. Nou spook dit by my. Dis nie verby nie; dis steeds met ons.
Dit was daar toe die navorsing aan die lig kom. Bruin vrou teen bruin vrou. Lekker ou divide en rule. In die naam van wiens brood men eet, diens woord men spreekt. “Loop lees eers die hele tesis (sic), die navorsing se doel,” beveel ’n bruin Matie-vrou. En ’n ander: “Stupid joernaliste wat ook op die wa wil spring, maar nie wetenskaplike konteks verstaan nie.”
Dit was daar in die white womansplaining oor wat die navorsers eintlik bedoel en wat hulle met hulle bevindings beoog. Agterna. Maar wat nie geskryf is nie, is nie geskryf nie.
Geen definisie van wat in daardie “wetenskaplike konteks” onder lae kognitiewe funksie verstaan moet word nie. Verskil dit dan van die verklaring op onder meer bl. 522 van die Pharos verklarende Afrikaanse woordeboek (negende hersiene uitgawe, eerste druk 2010)?
Aikona, sisi's, genoeg!
Eintlik gaan dit nie om bruin vroue se intelligensie nie, word toe agterna oor ’n Kaapse radiostasie verduidelik, eerder om kwessies soos “dementia”. Maar dít word dan eers in die “conclusion” geopper?
En waar in die teks staan dit helder en duidelik geskrywe dat die studie gemik is op ’n moontlike intervensie of voorstelle in dié verband? Aikôna sisi’s, lees maar; er staat niet wat er staat, om nou die Nederlandse digter Martinus Nijhoff na te praat.
Selfs ons eerstejaars, meestal die eerste studente uit families in ’n “poor, lower working-class community”, weet as jy ’n term gebruik wat oop is vir interpretasie, moet dit summier verklaar word. Jy sit nie langs my om te verduidelik wat jy bedoel wanneer ek nasien nie, so skryf uit die staanspoor wat jy wil hê ek moet verstaan, hoor hulle gereeld.
Hulle weet hoe om ’n argument te struktureer, samehangend, logies, om te waak teen vae of misleidende begripsomskrywings, denkspronge, elemente in jou konklusie wat nie in jou voorafgaande stellings gedek word nie of konklusies wat glad nie uit die premisse afgelei kan word nie en op drogredenasies dui.
Ja, hul studie het beperkings, gee die navorsers toe, en is “limited by a small sample size and non-probability sampling methods and is likely not fully representative of the larger Colored population in SA”. Waarskynlik nie ten volle verteenwoordigend nie? Asseblief, don’t touch me on my kognitief.Of moes ek uit die “however” aan die begin van die volgende sin (“However, the findings of this study provide novel and valuable insight into the cognitive performance of Colored women...”) afgelei het dat die voorafgaande “nie ten volle verteenwoordigend” geïgnoreer moet word? Ek luister by die radio.Eintlik nee. Genoeg van verduidelikings, regverdigings, verskonings, mediaverklarings. Methinks in elk geval the ladies protest too much. Of soos my pa sou sê: “Moenie vir my kom vertel bokdrolletjies is rosyntjies nie. Jy was verkeerd. Val in jou skuld.”Maar by die radio luister ek dié keer nie. Ek soek ons naam terug. Ons plek. Die vel op ons gesig.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.