Nommoa: Die Kaap se gedugte guerrilla-krygsheer van ouds

VRYHEIDSVEGTER

Nommoa: Die Kaap se gedugte guerrilla-krygsheer van ouds

Vir die Kompanjiesoldate aan die Kaap was hy Doman, die Khoikhoi-tolk, maar 356 jaar later herdenk ons sy nalatenskap as die vryheidsvegter Nommoa. JEREMY VEAREY vertel hoe dié kryger in Batavia, pleks van te verhollands, soos Van Riebeeck wou hê, die vyande se kwesbaarheid ontdek het.


IN Doman en Garabinga se krygskamp aan die voet van die Steenberge agter Tafelberg wag hulle nou al twee dae dat dit begin reën. Maar hulle woel nou al langer as dit hier, kovert besig om die getallesterkte van die vryburgers op hul plase en die Kompanjiesoldate by die karige Coornhoop-skansie op pad na die hoofteiken te verken. Dit sal hulle maklik met hul omtrent 300 krygers kan oorrompel, want die meeste vryburgers het al vroeër met hul vee na die Fort in Tafelbaai ontvlug.
Met die reën aan jou kant
Maar hul hoofteiken is ’n heel ander storie. Jan van Riebeeck se Bosheuwel-plaasvesting hoër op teen die Steenberge met paal-en-plank-omskansing is geen gewone skansie nie. Dis onmoontlik om van buite op merkbare afstand te sien hoeveel soldate daar agter die digte omskansings skuil. Dis net die Kaapse reën wat nou die verskil tussen ’n deurslae wen of volslae verloor gaan maak.
Dit weet Doman van sy tyd in Batavia toe Van Riebeeck hom in 1657 vir ’n jaar daarnatoe gestuur het om te verhollands. Hy het nou wel nie verhollands nie, maar ontdek toe dat die Kompanjie-soldate se lontgewere in aanvalle op die plaaslike Bantammers nie in die reën werk nie. Kom reën, kom die slag van Bosheuwel, ongeag hoeveel soldate agter daardie omskansings skuil.
Hy het tot dan alles gedoen om hierdie oomblik te vermy. As tolk vir Van Riebeeck het hy hom goed van sy taak as onderhandelaar gekwyt met die Hoëkraalmense van die Goringhaikwa in die berge van die Kaapse vlaktes om die vrede te bewaar. Maar dit het alles met sy terugkeer in Maart 1658 verander, veral ná sy blootstelling aan militante verset deur die Bantammers teen die Kompanjie in Batavia. Daar het hy geleer dat sy vyand met al hul gewere en vestings wel kwesbaar is.
VEREER ... 'n Standbeeld van Nommoa deur Sarah Richards.
SkoonskipMet hom en Garabinga as ervare voorvegters aan die spits wat hul vegtroepe – sommige met pyl en boë, rakkums, knopkieries en ’n paar assegaaie per man – in een stormloop dryf, is dit skoonskip. Hulle oorrompel maklik die vryburgers van die Liesbeekvallei, buit hulle beeste, en onttrek voordat lontgewere herlaai word. En soos in Batavia brand hulle al die vyand se geboue af, sowel as eie tydelike opslagkrale om te verhoed dat die vyand enige bruikbare veemis vir bemesting benut. ’n Strategie wat hulle heelwat vroeër, voordat hulle van hul vreedsame besettingsveldtog in mathuise aan wal van die grag van die Fort en langs vryburgernedersettings in die Liesbeekvallei na Februarie 1667 verjaag is, effektief aangewend het.Die reën val. Met ’n kakofonie van krygskrete bestorm Doman en sy krygers die Coornhofskans met vuur en bloed in wyk. Bosheuwel dreig onheilspellend, sonder ’n geluid of fakkellig te bespeur.
Die reën stop. Doman stop, onseker of die Kompanjie-soldate miskien daarna droë lontgewere uit die magasynstoor gaan haal het. Daar is ook nie tyd vir verkenners om dit te bevestig nie. Buitendien is die laaste wolke met die wind aan die verbygaan en die volmaan skitter nou te helder na wense.
Nou verg dit insluip in die skadu’s van die maanlig teen die steiltes van Steenberg deur die woud tot by die teiken. En dit moet in doodse stilte tot by die omskansings van Bosheuwel bekruip word. Doman ontplooi sy aanvalsmag in oshoringformasie onder twee kapteins op teenoorgesteelde flanke en hom en Garabinga in die middelgroep as voorhoede. Die sluierstroom omvleuel en dis eers toe hulle die omskansings op sluip dat die krygskrete ontplof. Assegaaie steek en slurpsuig met bloedsproei uit gapende wonde. Die dreuntjank van die vyand bedaar, met dood of die besef dat van hulle wel op sy genade, na wil van sy doel, mag oorleef.
‘Ek behoort aan dié land’
Die oorlewendes se rapport aan Van Riebeeck by die Fort die volgende dag moes seker baie verwarrend geklink het. Hulle het wel aanvanklik die vure onder in die vallei gewaar en die krygskrete gehoor. Maar toe word dit vir ʼn wyle onheilspellend stil. Dis eers toe onsigbare skimme skielik met ’n groot geraas op die omskansings in krygers van vlees en bloed ontpop dat hulle besef die vyand het hulle onkant gevang. Daar was nie tyd om eers die lontgewere teen dié oormag te herlaai nie. Dan was daar hul leier, Nommoa. Dié het glo gewaarsku: “Ek is nie julle Doman, julle Hottentot-tolk nie. Ek is Nommoa, en ek behoort aan dié land.”
Dit blyk dat Van Riebeeck hom toe hierna ernstig opgeneem het. Soveel so dat dié ’n losprys van heelwat bo die gemiddelde losprys van 20 guldens lewend of 10 dood vir hom beloof het. As Nommoa was hy nou 100 guldens lewend en 50 dood werd. Hierdie losprys is nooit opgeëis nie.
Of dit nou die toedoen van Autshumao of Krotoa se invloed was, weet ons nie. Maar op 10 Maart 1660, ná ’n lang, suksesvolle guerrilla-veldtog, bring Autshumao vir Nommoa terug na die Fort as deel van sy onderhandelingspan en ’n vredesverdrag word op 6 April 1660 geteken. Hy word weer ontplooi as Doman, die Kompanjie-tolk, maar nou saam met Krotoa omdat hy nie ten volle vertrou word nie.
Van Doman hoor ons wel later in Zacharias Wagenaar (Van Riebeeck se opvolger) se Dagregister-inskrywing van 11 Desember 1663. Karel Schoeman het dit soos volg uit Nederlands vertaal in sy boek Kinders van die Kompanjie (2006):
“Vanaand is die Kompanjie se tolk Doman dood buite in ’n Hottentoos-hutjie oorlede, oor wie se dood niemand van ons sal kla nie, aangesien hy in baie dinge vir die Kompanjie ’n skadelike en boosaardige mens was.”
Maar ons weet mos vandag van beter, al wil van ons soms nie die oerknal van Nommoa se wekroep in ons hoor nie. Doman se vyande het hom nou wel ná sy vleesdood fel verwyt, maar die vervreemde veggees van Nommoa wandel steeds onrustig. Tyd om te luister.
So laat ons in hierdie 356ste jaar van sy dood aan hom eer betoon en sy nalatenis as vryheidsvegter volwaardig erken. Vertel sy storie uit die volksmond aan dié wat nog nie sy wekroep hoor nie.
Ons is Nommoa, en ons behoort aan dié land.
Doman is dood, lank lewe Nommoa!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.