Ons is 'n groot en deurmekaar familie, ons Suid-Afrikaners

GENE IS DIKKER AS BLOED

Ons is 'n groot en deurmekaar familie, ons Suid-Afrikaners

Ons het almal een ma. Ma Eva, die mitochondriale oer-moeder. ’n Khoi-San-ma. En hoewel bloed dikker is as water, skryf JAN HORN, is gene dikker as bloed.

  • 26 April 2019
  • Vrye Denker
  • 8 min om te lees
  • artikel 14 van 31
  • Jan Horn


POLITIEKE partye word die geleentheid gegee om hul saak vóór die verkiesing voor ’n gehoor in George te stel. Die debat word op RSG uitgesaai. Tussen die geroesemoes van stemme en die omroeper wat gemoedere probeer kalmeer, skree iemand: “Julle is nie welkom hier nie. Dis Khoi-wêreld hierdie. Gaan terug na julle eie plek toe!”
Het die stroom van ons geskiedenis nou ’n nuwe sytak ontwikkel? Of is dit net die hoofstroom wat ’n ekstra stroomversnelling ondergaan?
In 1994 sit ek teen ’n sandduin in die Kalahari en gesels met Dawid Kruiper. Ons kom ’n lang pad saam, ek en die Kruipers. Ek volg hul paaie nou al ’n paar jaar met my kameras vir die program 50/50. Van die plaas by Van Zylsrus na Kagga Kamma in die Sederberge en weer terug na die Kalahari. Boesmans van die rooi duine.
Ek hoor al klaar die sirenes afgaan omdat ek durf van Boesmans praat. Dis mos nou die San van Khoi-San. Dalk moet ons net vir ’n oomblik stilstaan by die oorsprong van die woord San voordat ons by die oorsprong van die Khoi-San kom.
Swerfgoed sonder erfgoedToe die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in 1652 onderkant Tafelberg ankers gegooi het, was die Khoi-veeboere hier lankal goed gevestig met vaste verblyfplekke. Die San was jagters met geen kaart of transport van waar hulle jag of bly nie.
In die Khoi se oë was die San laerklas-rondlopers sonder werf of adres. Swerfgoed sonder erfgoed.
Hulle het hulle die San genoem: “Hulle wat goed van die grond af optel.” In teenstelling hiermee beteken die woord Khoi-Khoi “die mense van die mense”. Óns is dié mense. Klasseverskille is nie nuut nie.
Die Khoi het met minagting na die dronk, bleek matrose van die Hollandse skepe in die Kaapse hawe as onder meer die !KoeriSan verwys. Wit uitvaagsels.
Khoi-San of Boesman?
Maar nou ja, die geleerde mense en antropoloë weet seker van beter. Nou is dit die Khoi-San. Tog, elke keer as ek met my kameras in die Kalahari kom, moet ek by die Boesmanraad gaan aansoek doen vir toestemming en ’n permit. En betaal. Hulle is trotse Boesmans. Maar ons laat dit daar.
Die San-ding was juis die rede hoekom ek destyds saam met Dawid op die duin gesit het. Want ek was verward. Die regering het toe pas grond beskikbaar gestel vir die San/Boesmans om gevestig te word.
Ek vra vir hom: “Dawid, ek weet nou nie meer nie. Hoe moet ek jou nou noem? Is dit nou San of is dit nou Boesman?”
Hy het ver oor die duine gekyk.
Toe sê hy met ’n vonkel in die oog: “Kyk, die saak staan só. As dit by grond of geld van die regering kom, dan is ons San. Onder mekaar noem ons onsself Boesmans. Maar as jy met my praat, dan is ek Dawid.”
Dis nou 2019. Weer ’n verkiesingsjaar.
Dawid is nie meer met ons nie. Nie meer hier om te deel aan ’n nuwe opwelling van identiteit wat al jare lank in ons land prut en nou begin kook het nie.
’n Nuwe identiteit. Die Khoi-San. ’n Groeiende bewuswording van “ons is die eerste mense”. Die mense onder die mense.
’n Identiteit wat sy terrein tussen wit en swart afbaken. ’n Identiteit wat  die Bo-Kaapse mense, die Griekwas, die Korannas, en die Namas tot bo in Namibië insluit. Almal wat, soos Rietjie Kruiper destyds vir my gesê het, “tussen die lyndrade van ‘ons mag nie’ lewe”.
Wie, en wat, is hierdie nuwe identiteit? Khoi-San.
Oorsprong van die mens in AfrikaDarwin was reg toe hy in 1876 voorspel het dat die oorsprong van die mens heel moontlik in Afrika gevind sal word. Vandag is dit wetenskaplik bewys. Ons eie 2.3 miljoen jaar oue Taung-skedel is deel van die bewyse.Die ontstaan van alle mense wat vandag lewe, is in Afrika. Maar waar in Afrika?Die afgelope 2 miljoen jaar was daar verskeie migrasies uit Afrika na die noorde. Die eerste was Homo erectus, die regoplopers. Primitief, maar darem op pad na menswees. Ons weet dat hul oorsprong in Afrika is.
Ongeveer 2 miljoen jaar gelede begin hulle noordwaarts trek en versprei deur Europa tot in Asië. Hulle was die voorlopers van die Neanderdalmense en Denisovans. Intussen ontwikkel die mens in Afrika in ’n meer vaartbelynde, gevorderde spesie: Homo sapiens; dit beteken die “slim mense”.
 Die tweede groot trek na die noorde begin ongeveer 200,000 jaar gelede. Homo sapiens trek uit Oos-Afrika deur die Midde-Ooste na Europa en versprei daarvandaan ooswaarts na Asië. Op pad ontmoet hulle die Neanderdalmense.
En soos mense maar is, het hulle neergesien op hierdie bonkige, ruwe grotbewoners van Europa, want “hulle” het nie soos “ons” gelyk nie. Daarom was hulle tweedeklasburgers.
Die nuwe “slim mense” was kleiner en ratser gebou as die Neanderdalmense. Hulle het beter wapens gehad – spiese met fyn afgewerkte kliplemme wat hulle as gooi- of steekwapens kon gebruik. Daarenteen was die Neanderdalmense se werktuie nog lomp kliphandbyle. Hulle het nie ’n kans gehad nie.
Dit was nie lank nie of die inkommers uit Afrika koloniseer die hele Europa en Asië. Terselfdertyd trek hulle ook uit Oos-Afrika suidwaarts na die Kaapse kus toe.
Die gatslag van die supervulkaanToe, sowat 70,000 jaar gelede, tref ’n gatslag ons. Die supervulkaan Toba ontplof in Sumatra. Die massiewe uitbarsting veroorsaak ’n drastiese afkoeling van die aarde wat bykans 1,000 jaar duur. Die afkoeling veroorsaak ’n wêreldwye megadroogte, asook die uitsterwing van baie plant- en dierspesies.Alhoewel wetenskaplikes verskillende menings oor die presiese uitwerking op die mense het, is dit duidelik dat Toba ons spesie ’n knou toegedien het. In die daaropvolgende 5,000 jaar sterf groot bevolkingsgroepe in die noorde uit.’n Klein groepie mense aan die suidpunt van Afrika oorleef wel aan ons kusstreke. Argeologiese opgrawings by Pinnacle Point, Vleesbaai en Blombos is bewyse daarvan.
Toe Toba se stof uiteindelik gaan lê, was die Noordelike Halfrond feitlik ontvolk. Daar het wel groepies mense oorleef en van hulle gene is nog in vandag se mense te bespeur, maar hulle bloedlyn het mettertyd uitgesterf. Later het die Neanderdalmense, die Denisovans en enige oorblywende Homo erectus ook verdwyn.
 Dis moeilik om te glo, maar 100,000 jaar gelede was die totale wêreldbevolking minder as 100,000. Ná die megadroogte weens Toba het skaars 10,000 mense oorgebly.
In die noorde lê die aarde woes en leeg. En 65,000 jaar gelede begin daar weer ’n groot trek na die noorde. Dis seker maar in ons Suid-Afrikaners se bloed om te wil trek.
Argeoloë kan die spore van dié migrasie tot in Australië en Amerika volg. Ons voorvaders, nou bekend as die moderne anatomiese mens, koloniseer Europa vir die tweede keer en wis die paar oorblywende Neanderdalmense finaal uit. Hoekom nie? Hulle was mos laeklasmense!
Waar presies lê ons bakermat dus?
Naas argeologie het ons deesdae ook ’n kragtige meetinstrument om te weet wie waar gewoon het en wanneer: genetika. Ons kan nou terugloop op die spoor van ons herkoms deur die mitochondriale DNS wat van ons oermoeder af kom en die Y-Adam-gene van ons oervader te gebruik.
Eva van Suider-Afrika
Deur die gene in moderne bevolkings te lees, kon navorsers bepaal dat die Khoi-San in Suid-Afrika van vandag – dis nou die afstammelinge van die wat nié 65,000 jaar gelede getrek het nie – die oudste afgesonderde genepoel op aarde is.
Dit is in húlle gene waar die oorsprong van die anatomiese moderne mens lê. Die mitochondriale Eva van Suider-Afrika is ons almal se oer-oumagrootjie!
Maar die Khoi-San-spoor loop nog verder terug. In 2010 ontdek die argeoloog Andrew Smith van die Universiteit van Kaapstad ’n skelet in ’n graf naby St. Helenabaai aan die Weskus. Dit was die oorskot van ’n man wat 2,370 jaar gelede geleef het.
Die antropoloog Alan Morris het die man se mitochondriale DNS ontleed en die verstommende ontdekking gemaak dat sy DNS-spoor ouer is as dié van enige ander groep mense wat vandag lewe. Die spoor loop reguit terug tot 150,000 jaar gelede na die mitochondriale oerouma Eva, die ma van alle mense wat hier aan die suidpunt van Afrika geleef het.
Die gene praat hard en duidelik: Ons almal se oer-oumagrootjie, en -oupagrootjie, was Khoi-San.
2019
As daar nou een land is wat van identiteite amper ’n godsdiens gemaak het, is dit Suid-Afrika. Nie net wit, swart en bruin nie, maar Afrikaners, Indiërs, Xhosas, Zoeloes, Sotho’s, Vendas, Engelse, Bo-Kaapers, Boesmans, San, Khoi, Namas en alles tussenin. En elkeen baklei vir sy identiteit. Sy kultuur. Sy groep.
 Nou is dit weer tyd om te kies. Elkeen in sy eie groepie. Taal, kleur, kultuur. Party kies selfs om weg te trek. Oorsee.
Maar dit maak nie saak hoe bleek of donker ons velle is nie, of vir watter party ons stem of watter taal ons praat nie. Ons het almal een gemeenskaplike ma. Die mitochondriale oer-moeder. ’n Khoi-San-ma. Ma Eva.
My eie voorsate het 65,000 jaar gelede die groot trek noordwaarts na Europa aangepak. Seker uit nuuskierigheid. En in 1739 trek groot-oupagrootjie Horn as ’n Haakbusmeester weer uit Duitsland terug na die Kaap.
Hier in Suid-Afrika het ons huis toe gekom. Ons is ’n groot en deurmekaar familie, en soos enige familie baklei en stry ons ook onder mekaar. Maar bloed is dikker as water. En gene is dikker as bloed.
Toe sê Dawid vir my: “As jy met my praat, is ek Dawid.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.