BROLLOKS & BITTERGAL | Dis nie ’n rogue unit nie, dis...

POLITIEK

BROLLOKS & BITTERGAL | Dis nie ’n rogue unit nie, dis rogue joernaliste

Oor die Iqbal in die drinkwater, die Al Capone-strategie en vryheid-van-spraak-wanneer-dit-ons-pas.


Die katte kom weer
NES jy dink dit kan nie erger nie, dan raak dit sommer tien keer erger.
Piet Rampedi en Mzilikazi wa Afrika is, saam met hul oudkollega Stephan Hofstatter, die mees gediskrediteerde joernaliste in Suid-Afrika. Dit was dié driemanskap wat week op week “onthullings” oor 'n “rogue unit” in die nasionale inkomstediens (SARS) in die Sunday Times geskryf het.
Dié spesialis-ondersoekspan van Johann van Loggerenberg, Ivan Pillay en Peter Richer het bordele bedryf, op die president en baie ander gespioeneer en was 'n roekelose bende wat buite die wet gelewe het, was hulle storie. Die drie se kollega, die Vrye Weekblad-veteraan Pearlie Joubert, het uit protes teen hul propagandaveldtog bedank.
Die drie is druipstert by die Sunday Times weg. Ons ken almal die storie: Die koerant het twee keer groot ekskuus gesê vir die foutiewe berigte; 'n regter en 'n ouditeursfirma het hulle bevindings oor die eenheid teruggetrek; en die Nugent-kommissie het uiteindelik bevind die eenheid was wettig. Als kosjer.
Wa Afrika het gaan laaglê, maar Rampedi het 'n flentergat-koerantjie met die naam African Times begin, nou ook geskiedenis. Hy het onbeskaamd sy rogue unit-propaganda voortgesit en die Sunday Times oor die apologie vervloek.
Laas jaar, toe 'n dokumentêre film oor Winnie Mandela in Suid-Afrika gewys is, het hy breëbors verklaar dat hy 'n volledige lys het van “Stratcom-joernaliste” wat steeds aktief is. Toe hy uitgedaag is om dit te publiseer, wat hy nooit gedoen het nie (want dit bestaan nie), het hy Vrye Weekblad se Max du Preez 'n “white supremacist” en 'n “Stratcom-beskermheer” genoem. Die man is 'n charlatan van die eerste water.
En skielik, laas Sondag, toe is Piet en Mzilikazi in volle glorie terug, dié keer op die voorblad van die Sunday Independent wat deur skelm Iqbal Survé se Independent-groep uitgegee word.
Dit was gou duidelik dat die twee dieselfde saak dien, dalk dieselfde “handlers” het as met die rogue unit-sage: die patronaatskap-klub van die Zuma-era, deesdae bekend as die terugvegbende (bendeleier: Ace Magashule) wat Cyril Ramaphosa tot elke prys wil ondermyn en uitwerk.
Piet en Mzilikazi se stories is net so dun op bronne as hulle rogue unit-stories. Dit is maklik verklaarbaar: Hulle is destyds stories deur intelligensie-agente gevoer wat SARS wou verlam en Tom Moyane wou versterk, en nou word hulle weer 'n narratief met stukkies skinder gevoer wat hulle moet populariseer.
Die samesweringteorie wat hulle die wêreld instuur, pas netjies in Magashule se narratief van die laaste week dat “die staat” se masjinerie teen hom en ander ANC-leiers ingespan word. Die polisie, skryf die twee, is besig met 'n sinistere ondersoek na Magashule, openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane, Zuma-lojalis Dudu Myeni, die oudspioenbaas en deesdae hoof van tronke, Arthur Fraser, en adjunkminister Obed Bapela. Die polisie beplan selfs 'n klopjag op die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis, skryf hulle.
Iqbal Survé is die groot drol in die drinkwater hier. Hy het die eens gerespekteerde koerantgroep wat nou as die Independent-groep bekend staan tot persoonlike imbongi verhef om sy ego en sakebelange te dien en in die proses veral die Cape Times vernietig. Hy is nou erg bitterbek omdat sy hoogs bedenklike transaksies met die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) voor die kommissie van ondersoek van regter Lex Mpati oopgevlek is en gebruik nou sy koerante om terug te kap en wraak te neem.
Survé, Rampedi en Wa Afrika skaad die beeld van die media in Suid-Afrika meer as enigiemand anders sedert ons 'n demokrasie geword het.
Trek ’n Al Capone op hulle
As enigiemand ooit gewonder het hoekom die Zuma-ANC so 'n formidabele aanslag op SARS en veral sy spesialis-ondersoekeenheid geloods het, moet die antwoord nou duidelik blyk.
Volgens die Sunday Times het SARS begin om die belastingsake te ondersoek van al die ANC-figure wat volgens getuienis voor die Zondo-kommissie gunste en gawes van Bosasa ontvang het. Dit sluit die ANC-voorsitter, Gwede Mantashe, minister Nomvula Mokonyane, senior parlementslid Vincent Smith en Zuma se boesemvriendin Dudu Myeni in.
Dié lot se dilemma was dat hulle nie die ekstra inkomste van Bosasa kon verklaar nie, want dit sou die wenkbroue laat lig het en hulle het verkies om daaroor te swyg, wat weer 'n strafbare oortreding is.
Selfs al sou hulle, soos Mantashe probeer doen het, die gunsies van Bosasa afmaak as net gebare van vriendskap, kan hulle steeds nie verduidelik hoekom hulle dit nie by hul opgawes van inkomste ingesluit het nie.
Maar 'n mens moet begin wonder wanneer SARS nou regtig tot die hart van die onheil gaan deurdring en Zuma se belastingsake gaan oopvlek. Ons weet reeds uit Jacques Pauw se boek, The President’s Keepers, dat hy groot bedrae geld van die Durbanse sakeman Roy Moodley gekry het nadat hy reeds president was.
Dit is op sigself 'n oortreding, maar Zuma het boonop nie dié inkomste verklaar nie. En daar is rede om te glo Moodley was nie die enigste sodanige bron nie.
Miskien kan die belastinggeskiedenis van Zuma se voorste rottweiler, oudminister David Mahlobo, wat volgens talle berigte noue bande met renosterstroopsindikate gehad het, ook bekyk word.
Die Al Capone-strategie: As jy die skelms nie vir hul eintlike misdade kan vastrek nie, kap hulle met die belastingwetgewing.
SARS se nuwe baas wat dié week oorgeneem het, Edward Kieswetter, is 'n talentvolle en joviale man. Maar hy gaan ook knaters van titaan nodig hê om te doen wat gedoen moet word – en gou, voor die Magashule-faksie die oorhand kry.
Nul tot 10,000 in 800 dae
Donald Trump is nie net 'n roekelose narsis nie, hy is 'n liegbek in 'n liga van sy eie. The Washington Post se Fact Checker het bevind dat hy in die eerste 828 dae van sy presidentskap 10,111 valshede of misleidende stellings kwytgeraak het.
Dit raak al hoe erger. Dit het hom 601 dae gevat om by 5,000 valshede uit te kom, 'n gemiddelde van 8 per dag. Maar toe tel hy spoed op. Die volgende 5,000 het hom net 226 dae gekos, gemiddeld 23 per dag. Tussen 25 en 27 April – laas week – het hy sy eie rekord gebreek met 171 valshede. Hy vertel die meeste van die liegstories natuurlik op Twitter, maar ook in sy onderhoude met Fox-televisie en op van sy politieke vergaderings.
Oranje, blanje valsgatFeit: die oranje-blanje-blou-apartheidsvlag is 'n simbool van apartheid en wit onderdrukking. Dit is veilig om te sê die oorgrote meerderheid mense in Suid-Afrika sien dit as aanstootlik, as haatspraak van 'n soort.Net klipharde rassiste en apartheidontkenners vertoon dit in die openbaar, en dié mense weet baie goed watter boodskap dit stuur.Maar dis nou nie juis 'n brandende probleem nie. Die laaste keer dat die vlag by 'n openbare geleentheid geswaai is en kontroversie veroorsaak het, was AfriForum se sogenaamde Swart Maandag in Oktober 2017.So 'n mens wonder wat het die Nelson Mandela-stigting genoop om nou te probeer om die openbare vertoon van die vlag deur 'n hof onwettig, dus as 'n strafbare oortreding, te laat verklaar.Dit is nie ongehoord dat simbole en woorde in oop demokrasieë verbied word nie – die swastika en SS-insignia in Duitsland byvoorbeeld, die k-woord in Suid-Afrika – maar dit behoort net in uiterste gevalle gedoen te word. En moenie krap waar dit nie regtig jeuk nie.
Dit was o, so voorspelbaar dat dit AfriForum was wat die geding teengestaan het. Dié knape het mos nou al herhaaldelik, in woord, daad en video, dit duidelik gemaak dat hulle dink apartheid was eintlik net 'n ligte mistykie, 'n edel ideaal wat toe ongelukkig nie so lekker uitgewerk het nie. Hul grondredenasie?
Vryheid van spraak. Hulle het nie juis 'n spesifieke liefde vir die apartheidsvlag nie, sê hulle, maar hulle is die kampioene vir vrye spraak.
Dis nou dieselfde ouens wat boikotte reël, teen koerante, restaurantgroepe, versekeringsmaatskappye en individue met wie hulle nie saamstem nie, wat agteroorsit en glimlag as hulle leër van Twitter-trolle 'n vieslike oorlog teen hul kritici loods.
AfriForum het onlangs die hel op die komediant Deep Fried Man laat losbars oor 'n satiriese video van jare gelede waarin hy met die regses spot.
“Spaar my die ‘vryheid van spraak’-argument,” het hy dié week getweet. “AfriForum steun dié reg net as dit hulle pas,” sê hy en voeg by: “Dit sou onmoontlik gewees het om dié beginsel meer selektief as hulle toe te pas.”
Jip.
Beluga 007
Bittergal se opskrif van die week (in thedailybeast.com): “License to krill” op 'n storie uit Noorweë dat die Russe nou witwalvisse, oftewel belugas, gebruik om op Westerse vlote te spioeneer. 'n Beluga is in Noorweegse waters met harnasse opgemerk waaraan kameras, maar dalk ook wapens, vasgemaak kan word.
Twitter vergeet nie
Ons is die week herinner aan 'n tweet wat die ANC se hoofsweep in die parlementêre koukus, Jackson Mthembu, 'n maand voor die ANC se leierskapsverkiesing by Nasrec in Desember 2017 gestuur het. Eintlik het hy op 'n stelling gereageer van die huidige minister van polisie, Bheki Cele, dat dit nag vir die ANC sou wees as Ace Magashule tot sekretaris-generaal verkies sou word.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.