LESERSBRIEWE | Die ANC eet van verbode vrug van die boom van...

DIE VERLEDE IS DIEP

LESERSBRIEWE | Die ANC eet van verbode vrug van die boom van kennis en kwaad

Kan 'n mens in 'n koloniale bestel, wat oor byna 370 jaar ontwikkel het, een belhamel (Verwoerd) se bydrae uitsonder as die enigste wat die mag van die huidige bewind onderskraag?

  • 03 Mei 2019
  • Vrye Denker
  • 7 min om te lees
  • artikel 29 van 30


HANS Pienaar haak in ʼn onlangse uitgawe van VWB by medewoordsmid Opperman se Afrikaan aan, om die skuld vir die korrupsie van vandag se elite op Verwoerd te pak.
Afrikaan is dalk nie as woordkuns hoog aan te slaan nie, maar minstens een sal Janine Neethling se bydrae lank onthou.
Dalk is dit om onkunde en eenvoud van begrip dat hierdie siel nie verstaan het dat kolonialisme die ideologiese vraagstuk van die tyd is en dat Opperman dit wil goedpraat nie. Maar as dit so is dat Opperman wil sê dat ek myself nie as indringer moet sien nie en my geboortereg moet opeis, dan sê ek hoor-hoor!
Historiese verband
Eweneens weet hierdie enkeling maar min van pogings om anderkant vrede met die geskiedenis te kom en om die geskiedenis tot diens van mag te stel, of hoe verstaan moet word wat Pienaar daarmee bedoel of waarop hy sinspeel.
Om iemand in sy tydsgewrig te oordeel moet jy tog sekerlik na historiese, sowel as politieke, maatskaplike en ekonomiese verband kyk en nie een van daardie verbande verdraai nie.
Kan 'n mens in 'n koloniale bestel, wat oor byna 370 jaar ontwikkel het, een belhamel se bydrae uitsonder as die enigste wat die mag van die huidige bewind onderskraag?
Lank voor Verwoerd
As ʼn mens kan, moet jy tog vra na ʼn enkele diktatoriale optrede van Verwoerd in 1949 as voorbeeld?
Dan moet jy tog in Pienaar se idioom vra na ʼn voorbeeld van ʼn enkele koloniale opperhoof ('n teenstrydigheid?) wat deur een pennestreep deur Verwoerd op eie houtjie afgedank en vervang is?
Dan moet jy tog vra of Verwoerd se gedelegeerde bevoegdhede so wyd gelê het dat hy vir niks die seën van die goewerneur-generaal nodig gehad het nie?
Dan moet jy tog vra of daar dan voor 1949 geen historiese, politieke, maatskaplike en ekonomiese beleids- of wetgewende raamwerk was waarbinne Verwoerd moes optree nie?
Ag, daar is sommer nog baie goed wat hierdie leek moet vra.
Dit was brutaal van my oupa om my, toe ek tien jaar oud was, vir ou Madal 'n “special” te laat skryf om drieuur Saterdagmiddag van die plot af lokasie toe te kan loop. Dit was brutaal dat alle swartes (hoe oneerlik om hulle in hierdie verband só te moet noem), wanneer die fluit op die dak van die brandweerstasie skuins oorkant ons huis tienuur saans geblaas het, van die strate af en die dorp uit moes wees. Maar dit was uit hoofde van die Stadsgebiedewet van 1945, voor Verwoerd se tyd.
Ons moet dieper kyk
En is instromingsbeheer om boorlinge in die stamgebiede, later gekonsolideerde tuislande, te probeer hou nie al in 1923 ingevoer nie? Waar was Verwoerd toe? Waar was hy toe die blanke-administrasie van die dag, volgens wyle Giel Prinsloo (Inheemse Publiekreg in Lebowa, 1984), by wyse van voorbeeld, al in 1879 die Batlokwa gaRamakgopa as stam erken het?
Die wette op groepsgebiede en gemeenskapsontwikkeling is weer net vyf maande voor Verwoerd se dood in 1966 gemaak. Moet hy daarvoor ook alleen die blaam dra?
'n Mens wonder wat die tweede stroom was wat Pienaar sê Castro voorgestaan het, maar regstellende aksie lyk ewe gesond in beginsel en ewe boos in uitvoering as apartheid. Na alles is die definisie van groepe net so uit die genoemde 1966-wetgewing oorgeneem.
Sulke definisies is boos as dit by gebiede reël kom, maar heilig as dit by swart bemagtiging kom? Sou dit bereken kon word hoeveel die drakoniese toepassing van hierdie gekunstelde bemagtiging die land die afgelope 20 jaar aan werksgeleenthede en produksie gekos het? En hoeveel dit tot die “staatskaping” (ek sê hoogverraad) bygedra het?
Verregaande
Pienaar meen klaarblyklik Verwoerd moet pa staan vir die opleiding van staatsamptenare in tuislande, wat eers kort voor, maar meesal na sy dood verklaar is. En die grondwet vir hierdie tuislande se onafhanklikheid is eers in 1971 geskryf.
Om die kweking van swart magnate uit sulke staatsamptenare, waarvan die meeste seker al dekades uit diens is, ook op Verwoerd se brood te wil smeer, is tog verregaande.
Praat ons van geskiedkundige verband en samehang, of moet ons iets anders onder historiese konteks verstaan, mnr. Pienaar?
Hoe is die landboukrag beskerm van die boere wie se grond onteien is om by swart nedersettings ingelyf te word? Kyk tog net na wat van die landbou geword het nadat hulle sedert die omwenteling geen subsidies meer kry nie. En nou neuk die nuwe bewind ook al weer met subsidiëring om wat nie lewensvatbaar is nie te beredder.
Afstand tussen stad en platteland 
Hoe spring die brein van die formalisering van stamgebiede in die tuislandbestel oor ʼn kwansuis allerinsluitende grondwetberaad drie dekades later, tot by die oes van die vrugte deur vandag se swart bevoorregtes, sonder om hulle dan ook as “separatistiese fasciste” te etiketteer? Wat hulle dan net so skuldig maak aan apartheid as wat hierdie leek daarvoor die blaam moet dra, of hoe?
Die afstand tussen stad en platteland was nog altyd daar. Die inkorting van hierdie afstand gaan geen snars verander aan die verhouding tussen die kastige kenners van die stad en die diensbaarheidsmouse van die platteland nie. Om so te glo is juis om die ideologie van kolonialisme op sy kop te wil laat staan.
Dis die gierigheidsvrugte van die kennis-ekonome wat as vrugte op almal se brood gesmeer moet word, nie net op hulle eie nie. Wanneer die vrou van Matlala 55 km met ʼn bus of ʼn taxi aansukkel om haar Sassa-kaart in Polokwane te kom swiep, stuur sy haar aalmoes in 'n kuberoogwink na ʼn bankrekening in Johannesburg of die Kaap. Is dit ook Verwoerd se skuld?
Kolonisering op sy kop
Is daar dalk 'n voorbeeld van nuut onteiende grond in dr. Verwoerd se leeftyd wat aan een van 'n groeiende kapitalistiese klas gegee is, en indien wel, aan watter een? Hoe was die proporsionele verteenwoordiging in die tuislandwetgewers teenstellende magte vir die tradisionele leiers? Help asseblief, mnr. Pienaar.
Hoe het stamhoofde en stamgroephoofde hul domeine van voor 1960 na 1990 uitgebrei? Wat is ondemokraties aan die regeerstelsel van stamme? Sou die wegneem van hierdie regeerstelsel nie juis 'n koloniseringsdaad wees nie? Indien wel, wie wil dan die ideologie van kolonisering op sy kop keer? En hoe kan dit nou een man se nalatenskap wees?
Maar hier is die wortel van die kwaad: dat hulle, hoewel nie heeltemal waar nie, aan die sentrale regering verslag moet doen, hoe indirek ook al dit tans die geval is.
Vergeet nou maar eers dat daar tans baie stamtwiste is om mekaar na die kroon van die stamhoofskap of groepstamhoofskap te steek.
Verloëning
Die een ding waaroor ʼn mens jou moet skaam, is dat jou blanke (minder bruin) volksleiers van die Kaap, Vrystaat, Natal en Transvaal ná die Boereoorlog saam met die hoofkolonialis gaan aansit het om die Suid-Afrikawet in 1909 te beding en só hulle swart naaste verloën het.
'n Tweede misdaad waaroor ʼn mens jou moet skaam, is dat jou blanke (nou nog minder bruin?) volksleiers in 1956 opportunisties die Senaat gelaai het om die meerderheid te bewerk om ook bruines (hoe oneerlik om hulle in hierdie verband só te moet noem) en die paar swartes wat in Kaapland nog op die kieserslys was, hul stemreg te ontneem. Nog 'n verloëning.
Toe klim ons blanke (steeds minder bruin?) volksleiers saam met die ANC-elite (politieke gevangenes en drosters) in die bed om die Khoi en die San en die Nguni en die Sotho 'n derde keer te verloën, met die bedinging van die nuwe grondwetlike bestel. Daarmee verraai die ANC sy mense en sy volke deur self koloniseerder te word. En daarom begin die “vryheidsbeweging” nou al hoe meer wrang vrugte pluk.
Dit, sê iemand wat die onberekenbare helderheid van terugskouing het.
As Opperman skuldig is aan die verdraaiing van die geskiedenis, is u ook. mnr. Pienaar.
Maar u byhaling van die koloniale ideologie is ʼn storie wat blykbaar voor minstens my voete gelê het, sonder dat ek dit op die keper beskou het. Daaroor moet ek dink, en ek dink daaroor moet VWB 'n debat aan die gang hou. – Frans Geldenhuys
(Geredigeer)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.