LESERSBRIEWE | Hoera en nee dankie vir Riku Lätti se Kwak-storie

DIS SOMMER TWAK

LESERSBRIEWE | Hoera en nee dankie vir Riku Lätti se Kwak-storie

Daar's uiteenlopende menings oor Riku, Steve, taal en die Ghoemas.

  • 10 Mei 2019
  • Vrye Denker
  • 3 min om te lees
  • artikel 32 van 32


Kwak is vlak en swak
HOERA en dankie vir dié artikel! Ek is so bly ek is nie die enigste Afrikaner wat so oor Kwak voel nie: “dieselfde ou liedjie wat homself oor en oor herhaal …”. En Kwak is ’n wonderlike naam: dit rym met “twak”, “swak”, “vlak” en allerhande ander lekker Afrikaanse woorde …
Net ’n opmerking oor die naam “Ghoema-toekennings”: Dis nou wragtag “cultural appropriation” in sy slegste vorm. Hoe durf die organiseerders dit Ghoema-pryse noem as daar nie ’n enkele ghoema-kunstenaar is wat in aanmerking kom nie? Weet hulle ooit wat ghoema is? – Hannelise Brand
Suur druiwe oor ander se sukses
EK gee my nie uit as kenner van die musiekbedryf nie, maar Riku se ellelange gesang in Vrye Weekblad klink alte veel na suur druiwe omdat hy skynbaar nie deel is van die hoofstroom-populêre musikante nie. Die kloof waarna hy verwys, is nie tussen rassistiese Afrikaanse musiek en alternatiewe kunstenaars nie, maar tussen suksesvolle en nie-suksesvolle musikante.
Verder is ek geen aanhanger van Steve Hofmeyr se politieke onverdraagsaamheid nie,maar om alle Afrikaanse musikante (wat nie saam met anderskleuriges optree nie) met die teerkwas by te kom klink vir my onbillik.
’n Verdere subtiele boodskap wat deurskemer, is dat die anderskleurige kunstenaars tog ’n gelyke kans gegun moet word by kunstefeeste, die radio, TV, by toekennings, ensovoorts, en ’n kwotastelsel word selfs geopper. Dit, op sy beurt, klink baie soos ANC-beleid om tog seker te maak dat die miskendes, en deur-apartheid-benadeeldes, gehelp moet word.
Is dit nie genoeg dat die kwotastelsel besig is om ons sport en ander terreine van internasionale mededinging te vervlak, te substandardiseer en effektief uiteindelik te vernietig nie? Dit is ook ’n klap in die gesig van suksesvolle bruin en swart kunstenaars.
Daarenteen sal ek graag ook alle kunstenaars aanmoedig om oor die kultuur- en rasgrense heen uit te reik om groter geleenthede vir almal te bied. Benewens Refentse (wat deur die artikel afgemaak word as ’n hanskakie) is daar reeds baie voorbeelde van anderskleuriges wat baie geliefd is onder Afrikaanssprekendes. Voorbeelde hiervan is Randall Wicomb, Trevor Noah, Craig Lucas, Lynelle Kenned en die Soweto String Quartet.
‘Meesterlik vertolk’
Ek was tydens die onlangse KKNK by die gewraakte Huisgenoot-opelugaanbieding … wat ’n belewenis om al ons bekende Afrikaanse liedjieskrywers aan te hoor, meesterlik vertolk deur bruin en swart kunstenaars, sangers en instrumentaliste.
Sover ek weet, het ons steeds ’n vryemarkstelsel wat deur vraag en aanbod redelik effektief werk. Die vraag na ’n bepaalde tipe musiek kom van die mense wat dit geniet, en dit bepaal waar geld spandeer word aan reklame, elektroniese media, lugtyd, borgskappe, ensovoorts.Wil ons selfs hier ook die beweerde gevolge van apartheid probeer kunsmatig regstel deur politieke inmenging?
Dit word erken dat daar baie prulmusiek beoefen word deur Afrikaanssprekendes (my gesin verwys daarna as “doef-doef-musiek”) en as die artikel ’n pleidooi sou wees vir beter smaak, lirieke met meer diepsinnigheid en onderskeidende melodieë, sal ek dit volhartig ondersteun. Hoekom moet Afrikaanssprekendes egter streef na ’n homogene musiekkultuur?
Die Afrikaanse kultuur sal, soos die reënboognasie-konsep gefaal het, ook nie geredelik integreer nie. En mag ons daarvan uitgespaar word.
Erkenning van taal
Nou kom ek by die werklike klip in my skoen. Die Afrikaner is van alles nie-materieel ontneem: die politieke mag waarvoor ons die magtige Britse Ryk aangevat het; ons veiligheid; ons openbare onderwys en hospitaaldienste; ons polisiediens; en helaas ook ons amptelike erkenning van taal (die lys is nie omvattend nie). Al wat oorbly, is ons kultuur vasgelê in boeke, teater en musiek (elemente van laasgemelde wat erken word nie te verhewe is nie).
Die boodskap wat Riku oorbring, is myns insiens ’n nie so subtiele, verdere aanval om ons kultuur af te breek na ’n gemene deler van alternatiewe musiek. Die onbillike optrede van MultiChoice sal nie die Afrikaanse (sogenaamde nasionalistiese) musiek onderkry nie; inteendeel, dit sal lei tot verdere polarisasie tussen Afrikaans en ander kulture. – Koos van Wyk

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.