LESERSBRIEWE | ’n Presidensiële nagmerrie

DIE PRYS WAT DIE PUBLIEK MOET BETAAL

LESERSBRIEWE | ’n Presidensiële nagmerrie

Vyf Amerikaanse presidente het nie uit Watergate geleer nie, het Bob Woodward in sy boek Shadow in 1999 geskryf. Die ANC leef in 'n soortgelyke skadu. Het die moontlike opvolger(s) enige wysheid uit hul vorige Nommer Een se foute gekry?

  • 10 Mei 2019
  • Vrye Denker
  • 2 min om te lees
  • artikel 31 van 32


ESKOM is waarskynlik die ANC se grootste politieke nagmerrie, het die ontleder Daniel Silke in middel-Februarie aan die nuusagentskap AFP gesê. Die man in die straat sou die woord staatskaping daarby kon voeg.
’n Soortgelyke nagmerrie het hom in 1974 in Amerika afgespeel toe Richard Nixon as president bedank het oor die Watergate-skandaal.
Nixon en lede van sy administrasie het hulle skuldig gemaak aan klandestiene operasies, vuil truuks en die afluister van gesprekke van politieke opponente. Die joernaliste Bob Woodward en Carl Bernstein se onthullings oor dié gebeure het uiteindelik bygedra dat Nixon bedank het.
Binne dae nadat Nixon se opvolger, Gerald Ford, ingehuldig is, wou hy sy landgenote gerusstel met dié woorde: “My mede-Amerikaners, ons lang nasionale nagmerrie is verby.”
Dié nagmerrie van Watergate was egter nie verby nie, skryf Woodward in sy 1999-boek Shadow: Five Presidents and the Legacy of Watergate. Daarin beskryf hy die skaduwee wat Watergate oor vyf opvolgende Amerikaanse presidente – Ford, Carter, Ronald Reagan, George Bush en Bill Clinton – gegooi het. Hy beskryf hoe al vyf aanvanklik nie die inkwisitoriese omgewing van die presidentskap kon begryp en bestuur nie.
Woodward skryf dat hy ná ʼn onderhoud met Ford weggestap het met die gedagte dat presidente vóór Ford, Nixon ingesluit, die president se kantoor die slagoffer van hul gedrag gemaak het. Woodward het voorts gesê Nixon se wandade en sy leuens oor Watergate het Amerika emosioneel én sielkundig skade berokken.
Volgens Woodward het die Watergate-skandaal en die remedies teen toekomstige magskendings ’n blywende impak op presidente én op Amerika.
In 1976, die jaar voordat Carter die presidentskap by Ford oorgeneem het, het hy gesê: “Dit is tyd dat ons regeringsleiers die reg respekteer, nie minder as die eenvoudigste landsburger nie, sodat ons ’n einde kan maak aan die dubbele standaarde van geregtigheid. Ek sien geen rede hoekom grootkop-skelms vry kan wees terwyl arm mense tronk toe gaan nie.”
In sy epiloog skryf Woodward hy het ná Watergate nooit verwag dat ’n president weer in beskuldiging geplaas sou word nie. “Ek het gedink Nixon se opvolgers sou die lesse van Watergate geleer het. Eerstens, as twyfelagtige aktiwiteite opduik, maak die feite bekend, wat dit ook al is. Tweedens, moenie toelaat dat eksterne navrae van aanklaers, kongreslede of joernaliste omskep word in ’n permanente staat van verdenking en oorlogvoering nie. 
“Maar die oorweldigende getuienis is dat vyf presidente ná Nixon nie daardie lesse verstaan het nie. Hoekom het hulle nie besef dat hulle ten volle verantwoording sou moes doen vir die uitoefening van hul magte nie?”
Dis asof Shadow ’n onbedoelde rigtingwyser kan wees vir Suid-Afrika wat met die nagmerrie van Eskom en staatskaping worstel. Silke het gesê: “Vir talle ANC-kritici het die onlangse kragonderbrekings die simbool geword van die prys wat die publiek moet betaal vir beweerde korrupsie en wanbestuur.”
Pres. Cyril Ramaphosa is vroeg in Februarie op ʼn politieke byeenkoms in Kimberley deur City Press se Junior Khumalo aangehaal: “Wanneer ons oorsee reis, sê mense gereeld hulle bewonder Suid-Afrikaners oor die vordering wat ons maak om uit die nagmerrie van apartheid te kom.” 
Suid-Afrika se volgende nagmerries, wat ook deur ʼn Nommer Een bedink is, laat talle burgers wakker lê. Hoe gaan sy opvolger(s) dié nagmerrie hanteer? – Jan Bezuidenhout

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.