Dié land kan julle maar hou

JOU LAND

Dié land kan julle maar hou

In die musiekvideo “Die Land ” word die plaas as ʼn soort mitiese en geromantiseerde plek teenoor die bedreigende stad uitgebeeld. Dit plaas is 'n argetipe in die onderbewuste van die Afrikaner en die video is 'n nuwe avatar van die veel ouer plaasromantradisie, skryf CAS WEPENER.


SEDERT 2018 tot op hede bly die lied en musiekvideo “Die land” in die kollig. Dis ʼn lied waarin die sangers ʼn diep behoefte uiter dat hulle kinders “die land” moet erf. Die land waarna verwys word, is ook nie sommer enige land nie. Die musiekvideo en liriek beeld ʼn baie spesifieke land uit en ek wonder of die arme kinders wat dit moet erf, dáárdie land ooit wil hê. ʼn Bekende tema uit die Afrikaanse letterkunde, die sogenaamde plaasromantradisie, werp lig op my mening.
Die plaasroman het ʼn groot opbloei beleef so ʼn raps minder as ʼn eeu gelede voor en tydens die grootskaalse verstedeliking in Suid-Afrika. Bekende titels is byvoorbeeld Somer en Laat vrugte en van C.M. van den Heever, maar daar was baie ander skrywers. Kenners soos Ampie Coetzee en Hennie van Coller skryf insiggewend oor die plaasroman en wys ook op ʼn klompie kenmerke.
Geromantiseer
Die plaas word as ʼn soort mitiese en geromantiseerde plek teenoor die bedreigende stad uitgebeeld. Grond(besit) is van kernbelang en dus ook nabyheid aan die natuur, die adel van arbeid, geslagsrolle wat binne ʼn gevestigde patriargie funksioneer, ʼn bepaalde klassestelsel gegrond op ras, asook die belang van erfpag en die behoud van die plaas. Daar is natuurlik ook ʼn spesifieke soort godsdiens wat nou verweef is met die natuur en soms ook met politieke ideale.
Latere plaasromans sluit by die tradisie aan, maar daag dit ook uit. Romans, soos dié van Etienne Leroux wat byvoorbeeld op die plaas Welgevonden afspeel, satiriseer weer die plaas. Meer onlangs is daar Marlene van Niekerk se Agaat, wat afreken met heelwat van die ideale en waardes wat hier bo as kenmerke genoem is.
Ten spyte van ontwikkelinge in die letterkunde, asook die feit dat die meeste Afrikaanse mense hulle lankal nie meer op die plaas bevind nie, gedy die ouer plaasromantradisie op vele vlakke binne die Afrikaanse kultuur.
Hierdie genre en sy kenmerke is ʼn lens waardeur daar na Afrikaanse televisiereekse, flieks, advertensies, en veral ook liedjies en musiekvideo’s, gekyk kan word. Die plaas as ideaal leef selfs in ons kerke. Maak nie saak of ʼn kerkbasaar in Sandton, Sasolburg of Swartruggens gehou word nie, die geleentheid draai om skyfskiet, lusernbale, plaasbrood, “kamp”-vure en die boodskap is duidelik: Die plaas is die paradys.
Die plaas is ʼn soort argetipe in die onderbewuste van baie Afrikaanse mense wat hulle doen en late beïnvloed. Al hierdie gestaltes waarin die plaasroman homself steeds voordoen, het ʼn impak op mense en vorm hulle.
Assosiasies
Een van die nuutste avatars van die ouer plaasroman is “Die land”. Die kameraskote met die landskap en die plaas wat met die openingstoneel begin (orrelmusiek in die agtergrond met al die assosiasies wat daardie klank in Afrikaanse geledere oproep) word deurgaans volgehou.
“Die land” sluit nie ʼn stad of dorp in nie; die land is duidelik die plaas. Die video word in klank en beeld deur wit mans gedomineer. Daar is iewers op die agtergrond een keer ʼn dogtertjie, en reg teen die einde ʼn (stil) vrou wat haar rol as moeder vervul (sy ry nie trekker of laat die grond deur haar vingers val soos die oom met die two-tone hemp en die weermagboshoed op nie). Daar is een swart persoon, ʼn kind wat draadkar speel met sy wit maatjie.
Ek kon nie ʼn leidraad kry dat dit die swart kind se pa is wat die plaas besit en dat die wit kind se pa óf plaasbestuurder óf arbeider is nie, so ek kan nie so ʼn aanname hier met bewyse uit die video of lirieke begrond nie.
Daar is ook ʼn lamentasie in die openingsreëls oor “waar gaan jy speel met jou maatjies?”. En die antwoord in beeld is: slegs op die plaas en met draadkarre. Die kinders is belangrik, want die woorde stel dit duidelik dat waaroor dit hier gaan, is erfpag – die land behoort aan jóú.
Ai, hoeveel keer het boereseuns in plaasromans nie probeer ontsnap nie, maar helaas, hulle haal net die gramskap van die familie en die volk op die hals en “die land” word telkens soos jakkalsdraad om hulle drome gespan.
Die grond behoort volgens “Die land” aan die (wit) kinders, en sommer ook die son en die see en die sade wat gesaai word, is vir hulle, en as jy wil stry … die Here word betrek as uitklophou met ʼn redelik nasionalistiese, bykans militaristiese vlag (wat sal aanhou waai), met die woorde: “Die land behoort aan jou” daarop.
Militaristiese toonaard
Hierdie militaristiese toonaard (dalk lees ek dit hier in, maar kyk eers die video voor jy verskil) word versterk deur die wyse waarop wit mans in rye langs mekaar oor die landskap loop. Wat wil hulle suggereer? Nog ʼn Rebellie? Die Derde Vryheidsoorlog? Ek roep hier halt, maar sou nog lank kon aanhou.
Voor die video begin, word gesê dat die video ʼn boodskap van hoop oordra en dat dit ʼn bevestiging is van waarin die vyf sangers glo. Hoop het mense nodig, gegewe die huidige kommer rondom grond, en om duidelik te stel waarin jy glo, is ʼn reg.
Wanneer patriargie, klas en ras, gekoppel aan land as erfpag, so blatant uitgebeeld en boonop met godsdiens gesanksioneer word, dan word ek kriewelrig. Summier verlang ek na die verskyning van die slank Mrs Silberstein op die video as welkome aanvulling tot die vyf (land)here.
Kyk, soos die meeste Afrikaanse mense hou ek van ʼn plaas, sommer baie, maar menere, dáárdie plaas kan julle maar hou.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.