Caster: die geskiedenis gaan jou oordeel, Sebastian Coe

CASTER SAL BO UITKOM

Caster: die geskiedenis gaan jou oordeel, Sebastian Coe

Die Internasionale Federasie van Atletiekverenings (IAAF) se besluite oor die Olimpiese goudemedaljewenner Caster Semenya is skandalig en 'n verontmensliking van dié kampioenatleet, skryf ANSO THOM.

  • 10 Mei 2019
  • Vrye Denker
  • 3 min om te lees
  • artikel 15 van 32
  • Anso Thom



CASTER Mokgadi Semenya kán hardloop. Soos die wind. Blitsvinnig, tegnies amper perfek en ongelooflik sterk. Sy is 'n fantastiese atleet met die sportwêreld aan haar voete.
Tog geniet sy in sommige kringe nie dieselfde ondersteuning en bewondering as manlike atlete soos Usain Bolt of ander van haar geslag wat meer “vroulik” lyk nie.
Ernstige foutlyne in die samelewing word duidelik sodra jy oor Caster praat. Sistemiese homofobie, patriargie en rassisme. Dit is haar lot. Gesprekke oor Caster gee voor dat dit gaan oor hoe om atleties te wees, billikheid in mededinging, beskerming van vrouesport en dies meer. Ver daarvandaan.
Die tragiese waarheid is dat haar geval 'n tipiese voorbeeld is van hoe diversiteit in menswees en insluiting steeds 'n onhaalbare droom is en vir baie 'n vae en vreemde konsep bly. Die meeste lesbiese, gay, biseksuele, transseksuele, interseksuele mense word meestal geïdentifiseer as “anders”. Nie “normaal” nie.
So ook mense met gestremdhede, fisiek of verstandelik. Hulle almal ken die trauma daarvan as jou seksualiteit of geslag, waardes of moraliteit, gestremdheid, intelligensie of voorkoms aanhoudend bevraagteken word.
Jy moet jouself deurentyd bewys, die bevraagtekening verduur; die geslagsbevestiging, menings oor jou liggaam, jou voorkoms, jou denke. Dit is 'n voortdurende teenwoordigheid in jou lewe, dikwels diskriminerend en kom neer op 'n verdierliking of verontmensliking. Dit is 'n tragiese eienskap van ons samelewing.
Soos Sarah Baartman
Die IAAF se oningeligte besluite oor hierdie ongelooflike atleet sal opgeteken word as 'n skande in sy geskiedenis, 'n voorbeeld van 'n mislukking van die reg, wetenskap en menseregte. Die atletiekbase het besluit dat sy medikasie moet neem om haar testosteroonvlak te verlaag.
Die ewe verstommende mening dat sy teen “mans” moet meeding, sal staan as Sebastian Coe, president van die IAAF, se nalatenskap en sal al sy atletiekprestasies oorskadu. Dié besluite is skandalig en ’n verontmensliking van die atleet. Dit ontbreek aan basiese intellek en moraliteit.
Die IAAF se behandeling van Caster herinner aan die Khoi-vrou Sarah Baartman se lewe in die 19de eeu. Sarah was 20 toe sy haarself aan boord van 'n Britse skip bevind het op pad na Londen waar sy as 'n frats tentoongestel is. Sy is toe verkoop aan 'n boer van Frankryk en is later in tragiese omstandighede oorlede.
'n Gipsbeeld is van haar liggaam gemaak terwyl haar brein en geslagsdele in formalien geplaas is. Haar liggaam is 'n eeu lank deur Europese wetenskaplikes bespreek en ontleed. Sy is uiteindelik in 2002 na Suid-Afrika teruggestuur.
Hoewel daar baie verskille tussen Sarah en Caster is, is die werklikheid dat hulle tog in ’n mate eenders behandel word: 'n Vrou en haar liggaam word bespreek, uitmekaargetrek, haar geboortereg misken, haar “andersheid” beklemtoon en haar vryheid om haarself te wees word haar ontneem.
Die Caster-storie wys dat sistemiese seksisme en patriargie nog baie werk nodig het voordat mense sal besef dat almal geregtig is op waardigheid, ongeag sogenaamde “andersheid”. Waar mense in gesagsposisies sal ophou om ander te wil “reg” maak, te verander of om mense te dwing om te word wat ʼn ander groep as “reg” beskou.
Anders as Sarah, wat 'n tragiese dood van vernedering en wreedheid gesterf het, sal Caster bo uitkom. Sy sal uitstyg bo die verkramptheid van die IAAF. Sy sal uithardloop onder hulle en almal wat hul konserwatiewe en uitgediende vorm van menslikheid ondersteun. Op die baan, die lewe en in die geskiedenis.
Caster hardloop vir almal in die LGBTQIA+-wêreld en vir almal wat deur die sisteem “ontmens” en “anders” gemaak word. Die ondersteuning wat sy kry, is 'n teken van hoop dat die gety draai en dat die ou diskriminerende orde tog eendag in duie sal stort.
Haar storie is besig om 'n nuwe geskiedenis te skryf.
* Anso Thom is 'n joernalis en die redakteur van Spotlight, 'n publikasie van die Treatment Action Campaign en SECTION27.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.