Die verhaal van twee Molefes en die ongebreidelde plundering...

VROTSIEK VAN STAATSKAPING

Die verhaal van twee Molefes en die ongebreidelde plundering van die staat

Die Zondo-kommissie na staatskaping en die Waarheidskommissie voel al hoe meer asof dit uit dieselfde kleed gesny is, skryf ANNELIESE BURGESS. Popo Molefe, voorsitter van die direksie van Transnet, het dié week oor die vernietigende uitwerking van staatskaping op die ééns stabiele staatsonderneming getuig.



NIE al die onthullings voor die Zondo-kommissie is nuut nie; baie is die vuurtjie waarvan ons die rokie lankal gesien het. Maar om dit uit die perd se bek te hoor, om dit vers en kapittel onder eed uitgespel te sien, is steeds skokkend en help ons verstaan dat die stelselmatige plundering veel dieper gaan as net die enorme bedrae geld wat gesteel is.  Staatskaping was 'n meedoënlose aanslag op die staat, op die mense van Suid-Afrika.
Daar is 'n soortgelyke parade ontboesemers en skuldbelyers as destyds by die WVK. Dieselfde eenvoudige dekor en rekwisiete wat dien as 'n spons vir die waarheid wat uitskuim soos rioolvullis - die saal sonder fieterjasies, 'n paar baniere, die diskrete televisiekameras en eentonige leërs; die hooftafel en getuiebank en regter Raymond Zondo se waardigheid wat alles bymekaar hou soos Desmond Tutu destyds by die WVK.
Met Angelo Agrizzi se getuienis oor Bosasa het die visioen van die destydse amnestie-aansoekers opgedoem – die singende voetsoldate wat hulleself probeer red van hulle eie oortredings, terwyl Popo Molefe se stelselmatige en presiese uiteensetting van die kriminaliteit by Transnet hierdie week amper gevoel het soos 'n septiese salf vir die wond wat staatskaping op ons psige gelaat het.
Ten minste wéét ons nou, ten minste word die pit stadig uitgedruk, ten minste kan niemand meer wegkruip agter “ons het nie geweet nie". Want ons wéét, en dit was erg.
Popo en Brian
Die gemors by Transnet is op 'n manier die storie van twee Molefes – Popo, die huidige voorsitter van die direksie en een van die ANC se onkreukbare grysbaarde uit die UDF-stal, en Brian, die voormalige hoofbestuurder, eens een van die ANC se belowende jong slimkoppe wat veronderstel was om groot spore in die sakewêreld te trap.
Teen die tyd dat Thuli Madonsela se 2016 staatskapingsverslag, State of Capture, die bewyse van Brian Molefe se intieme verhouding met die Guptas oopgeblaas het, was hy reeds by Eskom waar hy onder luide geskal (van Jacob Zuma, toe die president) ingebring is om dié organisasie te “stabiliseer”.
Ons weet nóú dit was allesbehalwe wat hy daar gaan doen het; hy was besig met 'n heel nuwe Gupta-gekonkel wat in 'n groot mate tot die inploffing van dié energiereus in die hart van ons ekonomie gelei het. Madonsela se verslag het gewys hoe Brian Molefe se selfoonrekords ontleed is, en dit het gewys dat hy en Ajay Gupta mekaar pal gebel het (58 keer in sewe maande) en dat hy boonop 19 keer “by of naby” die Gupta-woning in Saxonwold was.
Toe volg die bisarre nuuskonferensie waar hy sy bedanking by Eskom aangekondig het, maar tranerig volgehou het dat sy Saxonwold-draaie eintlik net onskuldige besoeke aan 'n sjebien in die buurt was. Dit was 'n patetiese vertoning, en vandag is daar geen twyfel nie dat Brian Molefe oor die jare by Transnet en Eskom 'n totale gedaanteverwisseling ondergaan het - van 'n goue seun in die ANC na die vroedvrou vir die Gupta-plunderpeloton.
Popo Molefe is in 2018 deur Cyril Ramaphosa aangestel om die Transnet-stalle te probeer skoonvee, maar die omvang van die miskuil het selfs hóm omkant gevang. Hy het soos 'n getraumatiseerde man geklink toe hy dié week voor die Zondo-kommissie begin getuig het oor die vrot-siek wat die nuwe raad daar gevind het. Hy was “uit die veld geslaan” oor hoe wyd die korrupsie in die organisasie versprei het, en oor die algehele verontagsaming van reëls.
Hy het nie doekies omgedraai nie – dit was 'n hoogs gesofistikeerde operasie wat begin is nadat Brian Molefe in 2011 aangestel is. Daar was geen twyfel nie van wie hy gepraat het toe hy verwys het na  “mense wat bekend is dat hulle die land gedien het, wat die kwalifikasies het, wat voorheen opgehemel is as groot bestuurders en sakeleiers” en waar hierdie geloofwaardigheid dan pertinent gebruik is as dekmantel om “beheer” te neem van die meganismes wat korrupsie en ongerymdhede binne die organisasie moes keer.
Terselfdertyd is ander sleutelmense in strategiese afdelings van die organisasie ingetrek – veral die wat 'n rol kon speel met die toewysing van fondse en kontrakte – onder meer posisies soos die finansiële hoof, die penningmeester en die aankoopbeampte.
Hoofargitekte van die Transnet-kaping
Behalwe vir Brian Molefe, was daar twee ander “protagoniste” in die groot rooftog by Transnet:  Siyabonga Gama (wat Brian Molefe opgevolg het toe hy Eskom toe is) en die hoof- finansiële beampte, Anoj Singh, wat ook later by die plundering van Eskom betrokke was. Húlle, sê Popo Molefe, was die “drie hoofargitekte van staatskaping by Transnet”.
Molefe het ook die Guptas se agent in Transnet uitgewys: Iqbal Sharma, 'n sakevennoot van die berugte sakeman in die Gupta-binnekring, Salim Essa, was die voorsitter van die Eskom-raad se aankopekomitee.
“Individue met 'n gemeenskaplike doel het die belange bevorder van 'n groep wat vinnig rykdom wou akkumuleer deur sekere maatskappye, en hulle skakels met groot besigheid, te gebruik,” het Molefe die patroon verduidelik.
Korporatiewe regering is tot op so 'n punt ondermyn dat individue op enorme bedrae kon afteken sonder 'n tender en werknemers wat nie die agenda van die binnekring ondersteun het nie, is afgedank, verplaas of oortollig gemaak.
Daar was 'n kultuur van “jy is vír ons, of jy is téén ons” en dit is genadeloos afgedwing deur dié wat die hef in die hand gehad het: “Daar was 'n kultuur van jy vra nie vrae nie, jy luister net en voer opdragte uit."
Weerwraak is afgedwing. “Aanklagte is gefabriseer en mense is onderwerp aan dissiplinêre verhore waar hulle dan skuldig bevind en afgedank is."
Daar was 'n verlamming wat ingetree het, het hy verduidelik. “Geld kon net uit die organisasie gesuig kon word sonder dat enigiemand dit kon stop … dit was die horror show.”
Maar die Verhaal van die Twee Molefes vertel ons ook iets anders, en ons sien dit weekliks voor Zondo ontvou: Vir elke skelm Molefe is daar 'n eerlike Molefe, mense wat die aanloklikheid van kitsrykdom weerstaan en met waagmoed en integriteit in die nasionale belang optree.
Beursies volgestop
Ná Molefe het 'n uitvoerende bestuurder by Transnet, Peter Volmink, verder vleis aan die geraamte van die Transnet-gruvertoning gesit en vertel hoe bestuurders en raadslede van Transnet prosedures en regsprosesse geminag het om hulself en hul sakevriende se beursies vol te stop.
Zondo gaan nog getuienis aanhoor dat Transnet oorbetalings van sowat R18 biljoen in twee transaksies vir lokomotiewe gemaak het en dat R1,6 biljoen sonder 'n geldige kontrak aan die konsultante McKinsey en Trillian betaal is.
Die ANC vertel ons al jare lank hulle probeer 'n ontwikkelingstaat hier bou om ongelykheid te beveg en die agtergeblewendes te bemagtig. Infrastruktuur – treinvervoer, hawens, energie, paaie – is die boustene van so 'n staat.
Die verhaal wat voor Zondo ontvou, is 'n handleiding oor hoe om dit nié te doen nie. Transnet, Eskom, Prasa, Denel is almal staatsondernemings wat vir eie gewin deur die staatskapers deur die kniekoppe geskiet is. Transnet sit vandag met skuld van minstens R122 biljoen en Eskom met R420 biljoen.
En Suid-Afrika se werkloosheidsyfer en ongelykheid is groter as wat dit was as toe Jacob Zuma in 2009 president geword het.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.