LESERSBRIEWE | Hier kom groot moeilikheid met ons pensioengeld

PASOP, JY WORD GEFOP

LESERSBRIEWE | Hier kom groot moeilikheid met ons pensioengeld

Twee lesers sê daar word roekeloos gedobbel met geld van die Pensioenfonds vir Regeringswerknemers.

  • 10 Mei 2019
  • Vrye Denker
  • 4 min om te lees
  • artikel 30 van 32


Biljoene het reeds verdwyn ... oppas vir fopnuus
DIE afgelope tyd was daar verskeie berigte, nuusbulletins, ensovoorts wat skewe inligting oor ons pensioenfonds [die GEPF] bevat. Sommige daarvan kan dalk fopnuus wees so onakkuraat is dit.
Wat onderwysers betref, kan hul sogenaamde Nuusbrief 11 van 2019 moontlik fopnuus wees so onakkuraat is dit. Ek glo nie die SAOU sal so iets publiseer nie. Dus, onderwysers, wees versigtig, u nuusbrief is dalk nie eg nie.
Daar word onder meer gesê dat alarmistiese gerugte deur die media en ander kommentators oor hul pensioenfonds versprei is. Dit laat na om te sê dat hierdie “gerugte” eintlik getuienis onder eed voor die Mpati-kommissie is waar ernstige korrupsie betreffende biljoene rande se verliese van hul pensioenfonds se geld nou gereeld geopenbaar word. Die media voer maar net hul taak uit en word moontlik vals beskuldig …
’n Uiters sensasionele en negatiewe persepsie word glo geskep. ’n Persepsie wat onder eed geskep word? Hierdie soort stelling kan moontlik minagting van ’n geregtelike kommissie van ondersoek voor ’n regter wees.
Halwe waarhede wat dus nie as die waarheid aanvaar kan word nie, word ook verkondig, soos:
1) Die pensioenfonds groei teen 8.5 %. Wat nie gesê word nie, is dat dit beleggings van dienende lede insluit waarvan 41% nie vir hul pensioen belê word vir eendag wanneer hulle aftree nie, maar aangewend word om astronomiese administrasiekoste van beleggings te dek, en ook nou reeds aan mense wat reeds met pensioen is hul pensioen te betaal. Beleggings namens die pensioenfonds word so swak of roekeloos deur die Openbare Beleggingskorporasie gedoen, of word teen so ʼn tempo deur korrupsie verloor dat dit nie meer pensioenuitbetalings kan dek nie. Ons afgetredenes vreet dus nou al dienende mense se toekomstige pensioen op!
2) Die pensioenfonds is 108% befonds. Dit is ’n halwe waarheid en moet dus verwerp word. Hierdie befondsing verwys slegs na die kort termyn. Terloops, hoekom word nie gesê dat dit twee jaar gelede 125% befonds was nie? ’n Pensioenfonds gaan tog oor die lang termyn waar befondsing die afgelope paar jaar 100% was. Verlede jaar nog was dit 79%; vanjaar het dit geval tot 75.5% en daal steeds onrusbarend volgens die 2018 aktuariële verslag.
Oor hierdie verslag sê die uitvoerende hoof niks nie. Omdat die verslag alreeds ’n tekort van meer as R200 biljoen aandui?
Op 26 April het koerante wyd gepubliseer wat mnr. Abel Sithole, die uitvoerende hoof van die GEPF, kwytgeraak het. Weereens is ’n klomp halwe waarhede die wêreld ingestuur.
Eintlik het hy niks nuuts gesê nie, maar net die GEPF se deuntjie wat jare oud is, herhaal: DIT GAAN GOED MET DIE STAATSDIENSPENSIOENFONDS. Hy onderskat die intelligensie van die pensioenfondslede. Die media is elke dag vol van skokkende onthullings voor kommissies van ondersoek. Biljoene het verdwyn of is wanaangewend. Daarvan sê hy niks nie, behalwe dat hy reuseverliese as druppels in ’n emmer beskou.
Oor die belegging in ongenoteerde instansies stem ons met hom saam op voorwaarde dat die primêre doel van die pensioenfonds nagekom word, naamlik die belang van die pensioenfonds en nie weens politieke gedienstigheid plaasvind nie. Daar is hope bewyse hiervoor. – A.P. Stemmet, segspersoon vir die Vereniging vir Monitering en Voorspraak van Regeringspensioene (AMAGP)
Survé gee óns geld vir die ANC
IQBAL SURVÉ van “Independent? Media” het glo R1 miljoen vir die ANC gegee vir die verkiesing “op voorwaarde” dat hulle hom nie iets daarvoor “terug” sal gee nie.
Kan jy nou sulke spoggerige, arrogante verwaandheid glo? Dit nadat hy rééds biljoene van ons pensioengeld van die Pensioenfonds vir Regeringswerknemers (GEPF) weg het met die volle goedgunstigheid/wete van die ANC. En hy het duidelik aangedui dat hy hoegenaamd geen planne het of verpligting voel om ons geld terug te betaal nie.
In 2015 (Noseweek, Maart-uitgawe) het hy al met “sy” biljoene gespog. En sy onlangse vermetele, dikvellige bluffery voor die OBK-kommissie van regter Lex Mpati was te erg om te aanskou. Survé is “not greedy but he likes a helluva lot” van ons GEPF-geld.
Hy, die Malema-boelie en die geklike narre van Black First Land First (BLF) is ewe bedorwe windbolle. Hy loop oral en spog met ons GEPF-geld. Hy en Rasool moes destyds liewer ’n pak slae in plaas van “detensie” gekry het. Dan sou hy nie nou EINTLIK “detensie” VERDIEN het nie. En beslis nie in die “Silofront” nie. – Guy Robertson

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.