LESERSBRIEWE | Mening oor visums en toerisme was ‘oningelig...

NEE WAT

LESERSBRIEWE | Mening oor visums en toerisme was ‘oningelig en eensydig’

'n Leser maak ernstig kapsie teen 'n meningstuk oor immigrasie en toerisme.

  • 10 Mei 2019
  • Vrye Denker
  • 5 min om te lees
  • artikel 29 van 32


EK lees die artikel van dr. Azille Coetzee, Wil jy reis? Dan moet jy só lyk, en is geskok oor die oningeligtheid, eensydigheid, en gebrek aan kennis van iemand wat veronderstel is om uitgelese en kundig te wees en wat eers navorsing behoort te doen voordat sy so ’n artikel skryf. Sy kyk ook net op die oppervlak na die wêreld en verstaan nie wat werklik aan die gang is nie.
Kom ons kyk na ’n paar feite:
Die Suid-Afrikaanse ekonomie kan nie een oomblik sonder die ryk toeriste van oor die wêreld klaarkom nie en hulle is direk verantwoordelik vir die skep van duisende der duisende werkgeleenthede in Suid-Afrika.
Minder as 10% van die wêreld se mense is toeriste wat hulle swaarverdiende geld spandeer om deur die wêreld te reis.
Suid-Afrikaners het baie brûe verbrand met lande in die wêreld deur hulle onverantwoordelike omgang met immigrasiereëls. Hulle bekom toeristevisums vir Westerse lande en dan bly hulle en verdwyn in die houtwerk. Hope van hulle lieg ook op hulle aansoekvorms.
Die grootste deel van die wêreld is baie streng met die inlaat van mense vir watter rede ook al; hulle beskerm hulle grense en hulle burgers van “invasion” van vreemdelinge.
Op hierdie oomblik in die geskiedenes is een van die grootste probleme wêreldwyd die instroming van onwettige immigrante na plekke soos die EU, Brittanje, die VSA, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, ensovoorts. Die probleem is ’n globale een wat tot nou toe nog nie werklike antwoorde het nie.
‘Ver van die waarheid’
Die volgende stelling wat sy maak, is nie net totaal verkeerd nie, maar baie ver van die waarheid. Sy het basies nie ’n idee waarvan sy praat nie – gaan doen aansoek vir ’n visum vir enige land en sien wat hulle vereis.
“Die Europeër of Noord-Amerikaner (die sogenaamde “Westerling”) klim op ’n vliegtuig wanneer ook al die lus haar beetpak. Niemand vra vir haar of sy genoeg geld het om te kom nie, of haar verblyf bespreek is nie, hoe sy tussen Johannesburg en Kaapstad gaan beweeg nie.
“Inteendeel, almal weet dat die soort reis wat ’n mens vanuit die “Weste” na Afrika neem, selfs beter is as dit meer spontaan gedoen word, en met min geld. Dan is dit meer ‘outentiek’.
“Niemand vra die Europeër watter werk sy doen nie. Dit word aanvaar dat sy is wie sy sê sy is. Daar word aangeneem sy sal nie probeer om onwettig te immigreer na een van die Afrikalande wat sy besoek nie, want hoekom sou sy?”
Sy speel ’n rassekaart wat totaal irrelevant in hierdie onderwerp is. Daar is ryk en arm onder alle rasse en nasies in die wêreld, en die rykes reis deur die wêreld en die armes bly tuis omdat hulle dit nie kan bekostig nie, en hulle verkaf ook die vermaak waarna die rykes op soek is, en só voorsien hulle vir hulle gesinne.
Daar bestaan nie so iets soos ’n wêreld, utopia, waar almal gelyk is nie, en daar is ook geen aanduiding dat enigiemand so ’n plek gaan of kan skep nie. Baie het probeer en almal het misluk.
Dit is vir my baie snaaks om te sien dat mense nie verstaan dat mense wat geld het in die wêreld nie die kos uit armes se monde gevat het om te bereik wat hulle bereik het nie; hulle het met idees vorendag gekom, groot risiko’s geneem, hard gewerk en werk geskep vir die armes. Dit is nie ’n sonde om ryk te wees nie.
As die Derde Wêreldlande maar net die regte mense in beheer wil sit wat nie korrup is nie, sal die lande ook ryk word en meeding met die ontwikkelde lande, maar daar is ook geen aanduiding dat dit ooit gaan gebeur nie, so die rykes moet dus voordurend charities stig en mense van kos, water, mediese dienste, ensovoorts voorsien terwyl die leiersgroep in hierdie lande soos konings lewe.
Geen rede
Daar is geen rede hoekom lande in die Derde Wêreld nie na hulleself en hulle eie burgers kan omsien nie en só die lande ekonomies laat groei en mense die geleentheid gee om die wêreld te verken en verder te leer wat doen ander mense om hulle lande ryk te maak.
Die doktor moet dalk self ’n bietjie reis met die doel om die wêreld buite Suid-Afrika te verstaan en te sien hoeveel toeriste daar elke dag van die jaar in elke land in die wêreld rondloop, en dan sal sy sien dat hierdie toeriste uit al die kleure van die reënboog bestaan en van alle denkbare rasse en lande afkomstig is.
Suid-Afrika is ’n klein geografiese gebied in die suide van Afrika en is weglaatbaar in die groter skaal van dinge. Die meeste mense in die wêreld weet nie eens waar die plek is nie, so wat sy in Suid-Afrika sien, is nie verteenwoordigend van die wêreld nie, maar kan dalk op die onderkant van die skaal tussen Afrikalande wees met ’n steeds afwaartse trajek.
Alles in ag genome lyk dit of Afrika nie die lewens van hulle mense kan of wil verbeter nie en maar te dankbaar is dat mense met gewetens aalmoese stuur sodat hulle in vrede kan voortgaan om die lande se rykdom te steel sonder om bevraagteken en verantwoordbaar gehou te word.
Raak eers ontslae van die klein jakkalsies wat die wingerd vernietig en dan sal die wingerd sy volle opbrengs lewer en vir almal die geleentheid gee om ’n menswaardige bestaan te voer. – Henk Steyn

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.