TE midde van die verkiesingskoors het Popo Molefe, voorsitter van Transnet se direksie, se getuienis voor die Zondo-kommissie nie al die aandag gekry wat dit verdien nie. Volgens verslaggewing daaroor op Times Select het Molefe ’n onthullende blik gegee op die spesifieke meganismes waardeur bevoegde mense by Transnet uit belangrike besluitnemende poste verwyder is.
Hulle is dan vervang met meelopers wat geen benul het van hoe om die eintlike werk te doen nie, maar wat meer as gewillig was om die verkrygingsprosesse te kompromitteer tot voordeel van korrupte operateurs binne én buite die maatskappy. Dís byvoorbeeld hoe dit gebeur het dat 'n ingenieur met twee dekades se ervaring van Transnet se werksaamhede deur 'n onderwyser vervang is.
“Hierdie verkiesing gaan oor bevoegdheid,” het die leier van die amptelike opposisie kort voor verkiesingsdag verklaar.
Bevoegdheid is sonder twyfel 'n kritieke faktor as die president hoegenaamd 'n kans wil hê om die openbare sektor, van maatskappye in staatsbesit tot staatsdepartemente soos onderwys en gesondheid, reg te ruk. Tog dui die regerende party se beleid van kaderontplooiing beswaarlik op 'n hoë agting vir bevoegdheid.
Sekerlik is daar bevoegde kaders wat in die openbare sektor dien, maar die oorweldigende meerderheid het hul posisie aan politiek te danke: Iemand moet beloon word; 'n faksie moet gepaai word; 'n belofte moet gehou word; etniese aanstoot moet vermy word; 'n persepsie moet reggestel word; 'n balans moet gehandhaaf word.
Kan jy die werk doen?
Politieke oorwegings is onvermydelik wanneer aanstellings soos dié van kabinetslede of voorsitters van parlementêre komitees gedoen word. Wanneer dit egter ook uitkring na kritieke poste waar tegniese vaardighede saak maak – soos 'n Transnet-ingenieur of die bestuurder van ’n groot hospitaal of die senior kurrikulumadviseur van 'n onderwysdepartement – kan die begunstiging van kaders bo bevoegdheid vernietigende gevolge hê vir miljoene kinders, pasiënte, pensioenarisse en treinpendelaars.
Ons sien dit oor en oor, van die Life Esidemeni-tragedie tot die skande van puttoilette in openbare skole. In sulke omstandighede, waar tegniese bevoegdheid kritiek is vir resultate, is daar net een vraag wat deurslaggewend behoort te wees: Kan jy die werk doen?
Ewe gevaarlik
Bevoegdheid sonder ’n gewete is egter net so gevaarlik. 'n Eenvoudige voorbeeld: Uit Suid-Afrika se meer as 27,000 skole is daar sowat 3,000 wat net gate in die grond het wat kinders as toilet kan gebruik.
In ons soort ekonomie behoort so 'n probleem binne 'n maand uitgeskakel te kan word. Al wat jy nodig het, is bevoegde ingenieurs wat deur 'n deursigtige tenderproses aangestel is, met duidelike spesifikasies en spertye.
Dit sou die maklikste ding in die wêreld wees vir 'n knap politieke leier om 'n vennootskap tussen die openbare en die private sektore tot stand te bring wat die hulpbronne beskikbaar kan stel om die probleem op te los. Maar afgesien van bevoegdheid het jy ook 'n gewete nodig. Daarmee bedoel ek om opreg om te gee vir die welstand en veiligheid van arm kinders wanneer hulle toilet toe gaan.
Dít kry jy nie maklik in Suid-Afrika nie. Ek weet van 'n onlangse geval waar 'n private maatskappy die hulpbronne en planne toegewys het om behoorlike toilette te skenk aan die landelike skole naby aan waar hul werknemers woon.
Die een helfte van die skole het in 'n japtrap behoorlike toilette gehad, maar die ander helfte het die geskenk geweier omdat die amptenare wou hê die geld moet regstreeks aan hulle oorbetaal word, pleks dat dit bestuur word in vennootskap tussen die maatskappy, die kontrakteurs en die skool.
Dis nie moeilik om te raai waarom hierdie amptenare dinge só wou doen nie, en dis 'n duidelike voorbeeld van hoe die afwesigheid van gewetensoorwegings beteken dat niks verander nie, selfs al is daar geen tekort aan die nodige bevoegdhede nie.
Ek glo nie vir 'n oomblik dat dinge anders gaan wees die dag ná die verkiesing nie, ten spyte van al die beloftes wat aan kiesers gemaak is. Dis ook waarom 6 miljoen jong mense nie eens die moeite gedoen het om te registreer om te kan stem nie, en waarom so baie van die 26,76 miljoen wat wél geregistreer het, nie by die stembus sou opgedaag het nie.
Hierdie was die sesde nasionale demokratiese verkiesings – ons kon stem op grond van diensleweringsgeskiedenis en nie net selfverheerliking nie.
Die toekoms is duister totdat'n nuwe geslag politieke leiers na vore tree wat toegewyd daaraan werk om 'n regering te vestig wat bevoegdheid en gewete byeen bring in diens van die mense.
Ons is nog nie daar nie, maar ons moet aandring op so 'n verbintenis deur diegene deur wie ons regeer word.
Hierdie artikel het eers in ons suster-publikasie, TimesLIVE, verskyn.
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.