5 miljoen nuwe poste? Onmoontlik, tot dit gedoen is

IN DIE TOEKOMS IN

5 miljoen nuwe poste? Onmoontlik, tot dit gedoen is

Grootskaalse werkskepping is die belangrikste van al die uitdagings waarvoor Suid-Afrika te staan is. Dit kán gedoen word, mits 'n paar dinge gebeur, skryf ISMAIL LAGARDIEN.


AS daar een ding is waaroor die “groot drie” politieke partye (die ANC, DA en EFF) gedurende die verkiesing saamgestem het, is dit die noodsaak om werk te skep. Niks kan bereik word deur die belangrikheid hiervan te betwis nie.
Hoewel daar in beginsel eenstemmigheid hieroor tussen die drie partye is, is dit die ANC wat moet verseker dat werk wel geskep word. Die ander twee, en so ook al die ander klein partye wat setels in die parlement het, geniet die voorreg van opposisie; hulle sal nie vir die ANC se mislukkings verantwoordelik gehou word nie.
En so, met die verkiesingstof wat tot rus kom, kan ons begin bespiegel oor wat ons dink gaan gebeur oor die volgende vyf jaar van die sesde regering van die demokratiese era.
Eerstens, ons moenie te veel verwag nie. Gegrond op die syfers alleen is die omvang van die taak voor hande eenvoudig te groot om in vyf jaar afgehandel te word.
'n Selfs groter uitdaging, veral vir pres. Cyril Ramaphosa, is om verby die oënskynlik onwrikbare blok outydse kommuniste in die “drieparty-alliansie” van die ANC, die SAKP en Cosatu te kom.
Desnieteenstaande is werkskepping die belangrikste deel van die mandaat wat die ANC van kiesers gekry het. In 'n verklaring wat uitgereik is nadat die uitslae van die verkiesing op 11 Mei aangekondig is, het die ANC benadruk dat kiesers se mandaat is om 'n groeiende, inklusiewe ekonomie te bou wat werksgeleenthede skep.
Haas onmoontlike taak
Op die regering wat in die komende dae sal begin vorm aanneem, wag die onbenydenswaardige en waarskynlik onmoontlike taak om die toestande daar te stel vir die skep van minstens 5 tot 8 miljoen poste vir mense wat in die fleur van hul lewe kan wees; mense wat onder normale omstandighede reeds 'n werk sou gehad het of met 'n onderwys- of opleidingsprogram besig sou gewees het.
Syfers van Statistieke Suid-Afrika vir die eerste kwartaal van vanjaar dui daarop dat 40,7% van die 20,3 miljoen Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 34 nie werk het nie of nie besig is met onderwys of opleiding nie. Die getal mense van werkende ouderdom het met 149,000 toegeneem vergeleke met die laaste kwartaal van verlede jaar.
In dieselfde tydperk het die getal “ontmoedigde werksoekers” met 156,000 toegeneem, en dié wat nie andersins ekonomies aktief is nie met 169,000, met die gevolg dat daar ’n netto toename van 325,000 was in die getal Suid-Afrikaners wat nie ekonomies aktief is nie.
Wat dít beteken, is dat 'n magdom mense eenvoudig opgegee het om vir werk aansoek te doen, of vrywillig óf teensinnig opgegee het op onderwys- of opleidingsmoontlikhede.
Hoe het China werk geskep?
So hier is die vraag: Kan die Suid-Afrikaanse regering, gelei deur Cyril Ramaphosa, selfs net 5 miljoen poste in die volgende vyf jaar skep? Die kort antwoord is: “Waarskynlik nie.” Dis nie dat dit onmoontlik is nie. Dit gaan wel geweldige moed verg.
Kom ons kyk kortliks na wat China gedoen het om poste te skep.
Gedurende die eerste ses maande van 2018 is 'n geraamde 7,52 miljoen nuwe werksgeleenthede in China se stedelike gebiede geskep. (China het van die begin van sy hervormings- en oopstellingsproses in 1978 tot 2017 sowat 375 miljoen werksgeleenthede geskep, volgens sy nasionale statistiekburo.)
Die geheim van hierdie werkskeppingsukses, benadruk Chinese amptenare, is volgehoue beleidsondersteuning en onderliggende ekonomiese sterkte. “'n Stabiele ekonomie en snelgroeiende ekonomiese aandrywers het 'n fundamentele rol daarin gespeel dat die arbeidsmark stabiel gebly en uitgebrei het,” het Meng Wei, 'n woordvoerder van China se nasionale ontwikkelings- en hervormingskommissie, in Julie verlede jaar gesê.
Die probleem in Suid-Afrika is dat dit onmoontlik is om 'n stabiele ekonomie te hê terwyl elektrisiteitsvoorsiening nie stabiel en betroubaar is nie. Stabiliteit is ook onmoontlik terwyl sleutellede van die regerende alliansie vasbeslote is om die ekonomiese uitgangspunte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te ondergrawe.
Onstabiliteit sal deel bly van Suid-Afrika se politieke ekonomie terwyl 'n wye reeks rolspelers, van die EFF tot 'n uiteenlopende spul “kenners” en “spesialiste” van die akademie tot by maatskaplike bewegings, hul visier gerig het op idees soos die nasionalisering van staatsinstellings, en terwyl hulle fundamenteel gekant bly teen privatisering of die ontbondeling van ondernemings in staatsbesit, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens of Eskom – alles vir ideologiese redes. Mens is nie heeltemal seker of dit is omdat die Tesourie en die Reserwebank moontlik die belangrikste twee instellings is wat nie “gekaap” is nie ...
Moed en steun
Ramaphosa het twee dinge nodig as hy werk wil skep: moed, wat ons moet aanneem hy wel het, en steun (wat nie lyk of hy dit in oorvloed het nie) om verby sy alliansievennote en ander rolspelers te kom wat daartoe verbind is om wal te gooi teen die Nasionale Ontwikkelingsplan en ander beleid waarteen hulle ideologiese besware het. Terwyl sommige saamsweer om beleid op ideologiese gronde teen te staan, doen andere dit omdat dit te veel soos die DA se beleid klink; asof een party 'n monopolie het op wat reg of nodig is.
So gepraat van die Nasionale Ontwikkelingsplan (en die regering se beplanningsfunksie in die algemeen), dit was veronderstel om die einde te wees van die dae van beplanning net om weer te herbeplan en beleidmaking net om beleid te maak. Om vir eens en vir altyd die land op 'n pad na voorspoed, stabiliteit en sosiale kohesie te plaas. Pleks daarvan het ons nou weer wat voel soos 'n terugkeer na die voorgangers van die soort beplanning wat deur die ontwikkelingsplan verteenwoordig is, waar beleid oor en oor gemaak word, net om nie in werking gestel te word nie, en dan gevolg te word deur verdere beleidmaking.
Byvoorbeeld, die nasionale beplanningskommissie, wat met die ontwikkelingsplan vorendag gekom het, was 'n natuurlike uitvloeisel van die destydse beleidskoördinasie- en adviesdienste (PCAS) in die presidensie se kantoor onder Thabo Mbeki. Dit was 'n goeie ding, nie waar nie?
Nie so haastig nie. Die afgelope week is berig dat die Ramaphosa-presidensie teruggekeer het na die oorspronklike PCAS-idee en 'n nuwe beleidsadviesdiens tot stand gebring het. Dit voel of ons minstens agt jaar agteruit beweeg, terug na die gewoonte om beleid te maak sonder om dit in werking te stel, en dan, wanneer dit misluk, nogmaals nuwe beleid te maak.
Ambisie is nie sukses nie
Die geskiedenis van die afgelope 25 jaar lê besaai met mislukte beleid, of beleid wat nooit heeltemal die nodige ideologiese steun gehad het nie. Die Heropbou-en-ontwikkelingsplan (HOP) het min vermag (wel, daar is darem 'n menigte vervalle Hop-huise oral in die land). Die groei-, indiensnemings- en herverspreidingsplan (Gear) het makro-ekonomiese stabiliteit, groei en 'n begrotingsoorskot opgelewer, maar ongelykheid het toegeneem. Jacob Zuma het met 'n breekyster op die staat en die land se politieke ekonomie toegeslaan. En die Nuwe Groeipad ... wag, wat was dít nou weer?
Die punt is dat daar die afgelope 25 jaar die een stuk beleid ná die ander was. Elke keer begin ons weer van voor af. As die beleid klaar opgestel is, sit ons terug en bewonder ons handewerk, en dan gaan ons voort om nuwe beleid te maak. 'n Tipiese geval van ambisie met ambisie met sukses verwar, sou ek sê.
Diktatuur van die proletariaat
Mens sou dalk vergewe kon word as jy dink hierdie keer gaan anders wees. Dalk is dit, gegewe dat Ramaphosa 'n duidelike idee het van wat verkeerd is en wat gedoen moet word om die land uit die ekonomiese doldrums te red. Maar eers moet hy verby die SAKP en Cosatu en 'n klompie ander belangegroepe kom, van wie die meeste 'n diktatuur van die proletariaat wil vestig nadat hulle alles in sig genasionaliseer het, of begin om alles af te vat en die politiek van wraak te laat seëvier.
Soos dinge nou staan, is daar min om oor optimisties te wees (ek moet byvoeg dat ek al te veel Russiese letterkunde gelees het en dus vreeslik pessimisties is). Ramaphosa is dalk heimlik spyt dat hy oplaas die titel beklink het wat hom vir 25 jaar ontduik het.
Daar is darem een ding wat kan help. Ons as Suid-Afrikaners kan terugkeer na die Nasionale Ontwikkelingsplan en sy wekroep om aktiewe en betrokke burgerskap. Op sy eenvoudigste gestel beteken dit só iets: Die regering kan die skool bou, maar dis die ouers se plig en verantwoordelikheid om te verseker hul kinders woon dit by.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.