Die versugtinge van ’n ou aspirant-libtert

LIBTARD IN DIE KOEKBLIK

Die versugtinge van ’n ou aspirant-libtert

Hoewel sy hard probeer om haar lewe as ’n reënboog-libtert voort te sit, sê MADELEINE BARNARD, sal sy vir wit Engelssprekendes seker altyd té Boers bly, vir Boere altyd te weird en vir ander kultuurgroepe ’n simbool van apartheid. Maar dis eintlik oukei, want wanneer sy ’n bietjie eensaam raak, is daar altyd wyn en natuurlik Kerkorrel.



Dit het alles in matriek begin. By die Senior Kerkjeugaksie (SKJA) se jaarlikse afskeid. Ek was toe nog ’n Boere-engeltjie in wording – ek was voorsitter van die SKJA en die geleentheid was by my ouers se huis. Dis daardie gewraakte aand toe ds. Hennie, my geestelike leier en mentor, ’n hatige rassistiese woord gebruik het om swart mense te beskryf. Voor al sy engeltjies-in-wording.
Vir ’n paar oomblikke het alles om my in stadige aksie beweeg. My mond het half oopgeval. En toe skiet die eerste waarlik rebelse gedagte van my jong lewe in my idealistiese kop oop. “Jou. Verfoeilike. Ou. Drol.”
Dit was teen die einde van my skooljare in Pretoria. Ek was vir die twaalf jaar voor dit deeglik bearbei en geïndoktrineer deur staatskole en die NG Kerk. Maar met onse dominus se kragwoord het my veilige, voorspelbare Afrikaner-wêreldjie op die nate begin uitrafel.
’n Rebel in Die Koekblik
Soos die meeste goeie Boeremeisies van die 1980’s het ek my pad na die Universiteit Stellenbosch gevind. Daar is ek in een van die kampus se konserwatiefste dameskoshuise ingeklok. Daar was so baie poplappies wat met aspirantpredikante uitgegaan het dat die plek onder meer as “Tokkelinahof” of “Die Koekblik” bekendgestaan het.
In Die Koekblik maak ek vinnig vriende met die buitestanders – al die girls wat nie in die netjiese vakkie vir goeie Afrikaner-meisies inpas nie. Ons kuier broeiend saam in die koshuis se rebelle-gang (dit was bekend as Die Gat) waar ons Craven A-mentolsigarette by die dosyne rook en teef oor die ordentlike prinsesse wat in naburige kamers studeer of aandgodsdiens hou.
By die jaarlikse lentepiekniek – die tema is wit en pienk – daag ons almal in swart op en sit en gluur vir die fleurige poppies wat versigtig ogies maak vir die manne van Majuba-manskoshuis.
In my nagraadse jare leer ek die regte rebelle van Stellenbosch ken. Mense wat hul nek ver uitsteek in ’n tyd toe diegene wat nek uitgesteek het, maklik hul kop kon verloor.
Ek het eindelose bewondering vir hul waagmoed; ekself is steeds “versigtig” alternatief. Ek dra meestal swart. Ek rook swart Sobranie Black Russian-sigarette in ’n koker. Ek lees Sartre en Camus en sit dikbek in die biblioteek en wroeg oor die sinloosheid van die lewe.
Maar toe daar ’n anti-apartheidsoptog op kampus opruk, stap ek katvoet lángs die groep. Ek kyk toe hoe ’n skraal dosent deur ’n spul bullebakke rondgepluk word – daai soort wie se PT-broekies gulsig deur hul binnebeenspek opgevreet word. Ek doen niks. En toe die Stellenbosse cops met hul swierige nuwe onlusvoertuig opdaag, laat spat ek so vinnig as wat my alternatiewe toerygsteweltjies my kan dra.
My versiersuiker is die regte skakering, maar onder alles is ek nog steeds ’n bang Boerekoek uit Pretoria.
Ek vind egter my lekker plek in skryf vir die universiteitskoerant, en in alternatiewe musiek. My kop skiet verder oop op maat van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se eerste kasset. By die koerant se afsluitingsfunksie staan ons almal dronkerig ingehaak in ’n sirkel en sing “Hillbrow” uit volle bors. Ook maar goed ons is huis toe in ’n bus met ’n spooknugter bestuurder. Ek onthou steeds die volgende oggend se babelas.
Die wêreld van werkDie wêreld van werk het hierdie wannabe libtert-leftie nie goed gepas nie. Ek werk vir ’n paar pynlike maande by ’n Afrikaanse vrouetydskrif, waar ek teks sit en uitryg oor adellikes met mooi bene, bekendes se somervakansies en so-het-ons-verloof-geraak-verhaaltjies. Ek vlug ná agt maande oop-en-toe daar weg om die regte wêreld – die een buite landsgrense – te gaan verken. Op treine in Japan, ná afgryslike partytjies met te veel goedkoop ryswyn, sing ons nou dronk-dronk: “En hoor jy die magtige dreuning”. Vanselfsprekend met ironie.
Met my terugkeer na Suid-Afrika kry ek my lekkerste werk nog – as publisiteitsmuis in die teaterwêreld. Daar word ek uiteindelik blootgestel aan die regte reënboognasie van Nelson Mandela – ons is ’n heerlike deurmekaarspul van rasse, kulture en seksuele oriëntasies. En in teater is daar min dinge wat taboe is.Aan die begin is ek doodverskrik deur die jolige spul – by een geleentheid duik ’n bekende teaterregisseur een van die akteurs op my kantoormat plat en kielie hom totdat hy om genade skree. Maar geleidelik begin my onderrok ook lekker uithang, en vind ek werkgewys ’n holte vir die voet.Ek maak pelle met ’n skoonmaker – sy naam was Newton – in die tye net voor die 1994-verkiesing. Newton is ’n PAC-man; ek het geen idee wat ek is nie, want ek weet te min van politiek. Ons praat kopstukke oor landsake wanneer ons mekaar raakloop; hy wat op sy asblik met wiele leun en ek wat teen die muur leun.Eendag vra Newton my ernstig: “Sisi, from which country are you?” Ek lyk verward. “Newton,” seg ek, “I am a Boer from Pretoria.” Newton lyk ontredder. Hy skud sy kop. “No, you’re not.” “Yes, I am,” herhaal ek. “No, you’re not,” herhaal hy verbete. Ek dink ’n bietjie en vra hom: “Why do you think that I am not a Boer?” “You don’t look like a Boer,” sê hy.Nou raak dinge interessant. “What do Boers look like?” vra ek. “They look like Jan’s secretary.” Jan se sekretaresse was ’n stugge vrou met vaal hare en ’n eselskakebeen want mens met een barshou kon stilkyk.KorporaniaMy en Newton se paaie het ná my tyd in die wêreld van die kunste nie weer gekruis nie. Ek het ’n almagtige sprong die korporatiewe wêreld ingewaag; ek moes ’n beter salaris begin verdien. In die gange van Korporania was ek meestal steeds in swart geklee, nou met motorfiets-oprygstewels en ’n leerbaadjie as die kentekens van my rebellie teen die status quo.My oogrollende verveling met korporatiewe vergaderings het ek van meet af laat blyk. Ek het openlik geloer na die langhaar-werksmanne wat die gebou in stand gehou het, in plaas van die grysskoenbrigade se ordentlike seuns.
Tot my moeder se ewige konsternasie het ek vir die eerste keer oor die kleurgrens begin date. Sy vra my eenkeer wat my huidige kêrel se van is. Ná my antwoord is daar ’n laaaang stilte oor die foon. “Maar dis dan ’n Káápse van,” sê sy verskrik. Ons het nie weer oor die kêrel gepraat nie . . .
My besigheidslewe het al meer in Engels geskied en ek het in my sosiale lewe meer Engels begin praat – die Kaapstadse stadskom is oorwegend Engelssprekend en die boerekoek van Pretoria moes leer oorleef. Ook dit het nie goed afgegaan by my liewe moeder nie. Ná sy die Engelse boodskap op my antwoordmasjien moes aanhoor, noem sy my ’n hanskakie.
Ná baie jare in die gange van Die Korporasie, bedank ek uiteindelik en word ’n vryskutter. En ná baie jare in Kaapstad – ’n plek waar ek tussen ander buitestanders, libterte en weirdos altyd tuis kon voel – maak ek en my lewensmaat die groot skuif na ’n klein dorpie, waar ek en my groot bek ons baie vroeg al vasloop.
Die dorpie
Toe die NG Kerk hoor ek kan sing, word ek genooi om by hul Kerssangdiens op te tree. Ek sing ’n lied vir ’n ontslape swart buitestander-kunstenaar wat al vir jare my grootste inspirasie is. En dan ’n lied vir ’n oorlede Khomani San-kunstenaar wat so mooi oor die hiernamaals kon praat. Die jaar daarop ontvang ek ’n brief wat baie ordentlik vra dat my Kerssangliedere in die vervolg oor die geboorte van Christus moet handel. Ek sing nie weer in die NG Kerk nie.
Een aand, ná ’n braai waar ’n goed geswaelde boer ná ’n onderonsie met sy werkers baie lelik oor ander kultuurgroepe praat, laat ek ’n vrot wind in die sosiale media oor sekere Afrikanermans – daai soort in die two-tone-hemde en binnebeen-broekies – se seksisme en rassisme. Ek ontvang die volgende dag ’n almagtige uittrap-boodskap van die gasheer oor ek dit durf waag het om die man te kritiseer. En hy knor oor die stelling in Engels geplaas is.
Ek drink elke nou en dan koffie saam met ’n potensiële nuwe vriendin, maar die dag toe ek my voet neersit oor haar rassistiese taalgebruik, sterf die jong vriendskap ’n vinnige en bloedlose dood. Daar waai steeds ’n Arktiese briesie oor my as ek by haar verbystap.
Maar ten spyte van al my pogings om my lewe as ’n reënboog-libtert voort te sit én te probeer inpas, is ek steeds vir verskeie Engelssprekende wittes te Boers. Vir die Boere is ek te veel van ’n libtert. Vir ander kultuurgroepe sal ek as Afrikaner altyd ’n simbool wees van die aakligheid van apartheid. En vir die res is ek doodeenvoudig te weird. Dus sal ek vermoedelik tot my dood moet voortleef as iemand wat nêrens ’n dam vir vreemde eende sal vind nie.
Dit raak soms eensaam. Maar dis eintlik oukei. Want as my randeier-status my soms onderkry, is daar altyd ’n glas (bekostigbare) wyn. En daar is Kerkorrel. Dan draai ek soms die musiek wydoop en wieg weer dronkerig en glas-in-die-hand op maat daarvan. En ek gee weer my hart vir Hillbrow . . .
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.