LESERSBRIEWE | ‘Daar is geen geregtigheid vir ons kinders nie’

DIE ONMIN VAN ONDERHOUD

LESERSBRIEWE | ‘Daar is geen geregtigheid vir ons kinders nie’

Om vir kinderonderhoud te moet smeek is vernederend. As ’n pa nie wil betaal nie, vat dit maande of selfs jare voordat iets daaromtrent gedoen word, vertel dié enkelma ná ons ondersoek na probleme met die onderhoudstelsel verlede week. Sy het opgegee op die regstelsel, maar wens dat meer bewustheid oor die onderwerp aangewakker kan word.


MY ma het my aangemoedig om vir julle te skryf oor die onderhoudskwessies wat ons in Suid-Afrika ervaar.
Ek behoort aan ’n Facebook-groep met meer as 50,000 lede; ma’s en pa’s wat daagliks met dieselfde ding as ek sukkel.
My 14-jarige seun is buite die eg gebore, en ek het in 2007 my verhouding met sy pa verbreek. Die hof het hom beveel om R1,500 per maand te betaal. Ek het selde geld gekry, en as ek wel het, moes ek tevrede wees om elke paar maande R100 of R200 te kry. Ek was tallose kere by die hof, maar hy het nooit opgedaag nie en net daarmee weggekom. In 2012 kon ek uiteindelik ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming verkry nadat hy agt keer nie by die hof opgedaag het nie (meer as ʼn jaar nadat ek daarvoor aansoek gedoen het). Die bevel is toe op R1,900 per maand vasgestel.
Wat het met die res gebeur? Dis afgeskryf. Sedertdien was ek gelukkig om die R1,900 per maand te kry – wanneer dit hom gepas het, en wanneer ek my volgens hom goed genoeg gedra het. Sommige maande moes ek smeek en tevrede wees met wat ek kry.
In 2015 het ek van Port Elizabeth af terug Kaapstad toe getrek en weer ʼn band met die pa probeer vestig. Hy het nooit uit sy eie by enige vorm van kontak probeer hou nie.
27 keer uitgestel
In Junie 2016 het ek besluit om my weer tot die hof te wend. En nadat die saak 27 keer uitgestel is, is dit uiteindelik in April vanjaar geskik. Bykans drie jaar nadat ek aansoek gedoen het. Ek het vir ʼn verhoging aansoek gedoen omdat dit nou al jare was en die lewe al hoe duurder word. My seun moes oor ʼn bietjie meer as ʼn jaar hoërskool toe gaan, en die skoolgeld sou meer as dubbel soveel as die laerskool wees.
Die eks besit sy eie maatskappy én werk ook vir ʼn salaris. Hy het nie die moeite gedoen om enige finansiële inligting aan die hof te verskaf nie en verskaf net wat hy wil. In wese het hy die hof laat glo dat hy regtig swaarkry, en dit met kinders in ʼn privaat skool, duur stokperdjies en vakansies, en meer as R1,000 per maand wat hy net aan wegneemkoffie bestee.
Selfs dít was nie genoeg om die hof te oortuig dat hy dit kan bekostig om meer vir sy seun te betaal nie. Ons het probeer om ʼn ondershoudsondersoek te laat doen, maar daar het niks van gekom nie. Dit is óf nie gedoen nie, óf hulle het net gesê hulle kan dit nie doen nie.
Daar was uiteindelik ʼn verhoor, wat ʼn paar keer uitgestel is omdat personeel nie beskikbaar was nie, of weens kragonderbrekings, ensovoorts.
Op die ou end het die hof basies gesê: Jy bestee R900 per maand aan koffie; ons vat die helfte daarvan en gee dit vir jou seun. Drie jaar later en ek kry R450 per maand meer. Hulle het nie na sy algehele inkomste van meer as R55,000 per maand gekyk nie. Sy een kind se privaat skool kos hom R5,575 per maand. Niks hiervan is in ag geneem nie; nee, ék is aangesê om soveel as moontlik te besnoei om dit te maak werk. Die basiese kostes vir my seun is bereken op R10,120 per maand.
Ek verdien R19,000 per maand en betaal vir 75% van al die koste.
‘Hofbevel beteken niks’
Ek het opgegee op die regstelsel. Daar is geen geregtigheid vir ons kinders nie. Niks nie. Pa’s sê eenvoudig hulle kan dit nie bekostig nie, en dis dit. Die hofbevel beteken niks nie. As hulle nie wil betaal nie, vat dit maande of selfs jare voordat iets daaromtrent gedoen word, indien enigiets.
Die wet bepaal dat albei ouers ewe veel of volgens hul vermoë tot hul kinders moet bydra, en tog vind ons dat die ma 90% van die tyd gee. Wanneer kinders siek is, gebruik die ma haar verlofdae. Wanneer die kind na ʼn kamp toe moet gaan of daar onvoorsiene uitgawes is, moet die ma ʼn oplossing daarvoor kry. Die hof maak nie daarvoor voorsiening nie.
Die hof volg ook die reël van VPI-verhoging, wat selde jaarliks meer as ʼn 4%-verhoging is. Skoolgeld styg jaarliks met minstens 9 – 10%. Huur raak duurder, petrol, die koste van elektrisiteit alleen het vanjaar met 13% gestyg. Die ma moet altyd die tekort dek. Die wet maak nie vir ons voorsiening nie. Daar is nie geregtigheid vir ons nie, veral nie vir enkelma’s nie.
Ek wou teen die besluit appelleer, maar dit sou enigiets in die omgewing van R30,000 tot R80,000 kos, met geen waarborg dat die uitkoms enigsins anders sou wees nie. Ek het opgegee.
Ek is stadig besig om die volgende vier jaar om te bid wat ek nog met die eks te doen moet hê voordat ek hom finaal uit ons lewe kan kry. Om elke maand vir geld te moet smeek is vernederend, en die hof laat pa’s toe om daarmee weg te kom.
Baie ma’s het die stryd laat vaar, en die emosionele stres wat daarmee saamgaan, maar hoekom moet ons? Hoekom moet ons alleen sukkel; hoekom moet ons die kinders alleen grootmaak? Ons het hulle nie alleen verwek nie.
Ek wens regtig meer bewustheid kan oor hierdie onderwerp aangewakker word, en dat die regstelsel vinniger en beter resultate kan lewer.
 

Die naam van die skrywer van hierdie brief is aan Vrye Weekblad bekend. Ons plaas nie gewoonlik anonieme briewe nie, maar maak 'n uitsondering in hierdie geval om die identiteit van die kind te beskerm.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X